Skip to main content

Hardop praat met jouself gee brein woema

Baie van ons, praat met onsself. Minder sal dit prontuit erken, en van ons voel skaam indien ons uitgevang word. Studies het egter bewys dat om met jouself te praat, voordele inhou: van die verhoging van kognitiewe uitsette tot verbeterde emosionele regulering. Gerald Eloff gaan kyk of hy sy mond in sy motor in die verkeer moet hou, en of hy na hartelus kan aanhou babbel …

Om met jouself te praat, is ʼn wydverspreide geneigdheid onder volwassenes en kinders. Navorsing beweer dat dié gewoonte ʼn hele aantal voordele inhou, insluitende beterde breinfunksie en emosionele beheer. Om met jouself te praat werk die beste wanneer jy denke en aksie kombineer, of wanneer dit ʼn instruktiewe raamwerk versterk.

Baie mense meen diegene wat met hulself praat is eksentriek. Die ou oom alleen by die kroegtoonbank. Die vreemde klavieronderwyseres. Selfs flieks beeld hulle as “vreemde” karakters uit. Wanneer ʼn vriend of kollega jou op heterdaad betrap, voel jy bietjie soos ʼn skaap.

Daar steek egter tog ʼn bietjie waarheid daaragter – om met jouself te praat is inderdaad ʼn simptoom van skisofrenie – maar dié gewoonte kom wel ook voor onder dié wat geestelik gesond is.

“Om met jouself te praat kan ʼn verlenging wees van iemand se binne-praatjies, wat gebeur as ʼn sekere motoriese-opdrag onbewustelik aangeskakel word,” verduidelik Mariné Wiehman, ʼn kliniese sielkundige van Bloemfontein.

“Kleuters begin om hulle aksies te reguleer as hulle taal begin ontwikkel. Hulle sal byvoorbeeld ‘warm’ of ‘sjoe; sê as hulle naby ʼn ketel of stoof kom. Dié optrede kan voortduur tot wanneer hulle grootmense is.”

Om met jouself te praat, baat kognitiewe vermoëns

Navorsing beweer om met jouself te praat, laat jou brein beter funksioneer. In ʼn studie wat in Acta Psychologica gepubliseer is, is studente gevra om instruksies te lees voor hulle ʼn spesifieke taak uitvoer. Sommige van hulle het die instruksies hardop gelees, en ander nie. Die navorsers het dan konsentrasie, en hoe goed die studente die taak uitgevoer het, gemeet. Soos verwag is, het die studente wat die instruksies hardop gelees het, beter gedoen.

Mariné sluit hierby aan: “Wanneer jy hardop praat, indien jou gedagtes nie dwaal nie, kan ʼn teken van hoë kognitiewe funksionering wees.

“Pleks van geestelik ongesond te wees, kan dit jou intellektueel verhoog. Die stereotipering van ʼn mallerige, vreemde ou man of vrou verlore in Lalaland, mag dalk net ʼn genie wees wat alles tot sy of haar beskikking gebruik om hul breinkrag te verbeter.”

Ander navorsing is dit eens met bogenoemde resultate. Studente het take waar hulle items moes vind, vinniger voltooi toe hulle hulself daardeur moes praat – wat dui op ʼn verbetering van visuele prosessering. Dink byvoorbeeld aan kinders wat met hulself praat om moeilike take uit te voer, soos om skoenveters vas te maak of om uitdagende takies in die huis te verrig.

Suksesvolle selfmotivering

Motivering is die sleutel tot sukses. Dis die krag agter selfvertroue en ʼn goeie selfbeeld – en dit werk selfs beter as dit selfmotivering is. In ʼn ander studie is tennisspelers gevra om ʼn taak uit te voer, deur om aan verskeie tennis-oefeninge deel te neem. Hulle is in twee groepe verdeel – die een helfte is gevra om hulself deur die take te praat en die ander groep nié. Die groep wat met hulself gepraat het, was minder angstig, het meer selfvertroue gehad, en hulle spel het ook verbeter!

Die teenoorgestelde is egter ook waar, meen Mariné. “Indien ons met onsself praat in ʼn negatiewe manier, stuur ons onsself na ʼn negatiewe uitkoms. Maar indien dit neutraal is, soos: ‘Wat het ek nodig om volgende te doen’ of ‘ek weet, ek kán dit doen’, is die uitkoms baie meer positief.”

Om met jouself vanuit die derde persoon te praat, het ook voordele. Eerstens, as jy jouself wil kalmeer – met byvoorbeeld: “Marelise, jy moet nou rustig word.” Tweedens, wanneer jy na jouself verwys in die derde persoon, dink jy aan jouself soos hoe jy dink oor ander mense, oftewel gewoonlik met meer empatie.

Dit help mense om ʼn bietjie psigologiese afstand van hulle ondervindinge te kry, wat kan help om emosies te reguleer.

Hardop-lees versterk ons geheue

Het jy al ooit iets interessants gelees en gedink dat jy dit ten alle koste moet onthou? Dan, wanneer die geleentheid hom voordoen om dit aan te haal, is dit skoonveld?

Navorsers het vier metodes getoets om geskrewe inligting te onthou. Hulle het deelnemers gevra om sag by hulself te lees, om hardop te lees, en om na iemand anders te luister terwyl hulle lees en laastens, om na ʼn opname van jouself te luister terwyl jy lees.

Die studie het bevind dat deelnemers wat vir hulself voorgelees het, die inligting die beste kon onthou.

Voorts het navorsing ook gewys dat die brein nie onderskeid tref wanneer ons hardop met onsself praat nie, en wanneer ons met onsself in ons koppe (of gedagtes) praat nie. Jy moet besluit watter manier vir jou die gemaklikste is, solank die daad bewustelik en in behoorlike konteks is.

Nog voordele om met jou self te praat

 Dit kan jou help om dinge op te spoor: Kom ons sê jy het ʼn inkopielys opgestel, en op pad na die winkel het jy dit verlê. ʼn Studie beweer, deur om die woord ‘inkopielys” hardop te sê en nie net daaraan te dink nie, sal jou help om dit op te spoor. Om die woord te hoor, herinner jou brein waarna jy soek. Dit veroorsaak dat jy dit (die inkopielys) visualiseer en dit makliker vind.

 Dit help jou fokus: Dink aan die laaste keer wat jy ʼn moeilike taak aangepak het. Dalk het jy jou rekenaar self reggemaak. Jy het hardop met jouself, (dalk met ʼn paar vloekwoorde!) deur die moeilike stappe gepraat. Moontlik het jy jouself herinner aan die goeie vordering wat jy gemaak het. Teen die einde, het jy die taak voltooi – om met jouself te praat, het heel moontlik gehelp.

Deur om prosesse hardop aan jouself te verduidelik, kan jou oplossings laat raaksien, en jou help fokus op elke stap en ook jou konsentrasie verbeter.

 Dit motiveer jou: Wanneer jy vasgevang voel, kan positiewe woorde wonders vir jou selfmotivering verrig. Die woorde dra gewoonlik meer gewig wanneer jy dit hardop sê, in stede daarvan om dit net te dink. Om dit te hoor, versterk dit.

 Dit help jou om moeilike gevoelens te prosesseer. As jy sukkel met taai emosies, is dit voordelig om daardeur te praat. Sommige emosies kan so persoonlik wees dat jy dit net wil deel nie, en om daardeur te praat, anker jy dit in die realiteit, pleks daarvan dat dit oor en oor rondmaal in jou kop.

Soos ons kan aflei uit bogenoemde, is daar geen rede om nié lustig voort met jouself te gesels nie. Die voordele is legio. En jy mag dalk net van jou eie geselskap hou!

 

Leave a Reply