Chez Charlene in Lynnwood, Pretoria Oos is die fabelagtige, romantiese plek waar twee mense se liefdespad Saterdag in die troue van die jaar een geword het.
Aankomende gaste het eers deur skilderagtige tuine en velde waar perde rustig gewei het, aanbeweeg na die kapel waar die sakeman Louis Liebenberg op ‘n perfekte dag trou aan Desiree van Schalkwyk beloof het.
Die troue is deur ‘n string bekendes en beroemdes bygewoon, onder andere Misuzulu kaZwelithini, die Zoeloekoning, Lindiwe Zulu, die minister van staatkundige ontwikkeling, Paul Swartbooi, die nie-amptelike koning van die Namas, Carl Niehaus, woordvoerder van die MK-veterane, die bekende omroeper van Die Waarheid Media Niekie van den Berg, die minnesanger Rudi Claase en die Liefling van Loftus, Derick Hougaard.
Die kapel was sprokiesagtig-stylvol versier in wit en room kleure, en gaste van alle kulture en van oral in die land het blinkoog-stom in verwondering na binne beweeg om hulle sitplekke in te neem vir die groot oomblik.
Louis het – soos van ‘n tradisionele bruidegom verwag word – betyds opgedaag en is verskeie kere gekaap deur gaste terwyl hy na die kansel beweeg het. Hy het met ’n glimlag gelukwense vanuit alle oorde ontvang en het glad nie gespanne gelyk nie. Hy was spoggerig geklee in ‘n wynrooi pak ontwerp deur die ster-ontwerper Gert Johan Coetzee, en het voor die troue genoem dat hy voorheen twee keer getroud is. “Derde keer is skeepsreg,” het hy bygevoeg.
Die groot oomblik, toe Dezzi met haar asemrowende ougoud-skepping – ook die produk van Coetzee se hoogaangeskrewe ontwerp-towerkuns – by die deur instap, het mense se asems gesteel. Louis se bruid het aan haar seun, Dihan se sy na die liefde van haar lewe beweeg, waar Louis met ‘n trotse glimlag op sy bruid gewag het – sy liefde vir Dezzi opvallend in sy sagte blik.
Die diens was perfek-gepas en ná die afloop van die trouseremonie, het Meneer en Mevrou Liebenberg deur ‘n erewag gaste, wat buite die kapel op hulle gewag het, beweeg waar vere en roosblaar-konfetti vanuit ywerige hande oor hulle neergereën het. Die twee pasgetroudes is in ‘n troukoets weggevoer en die gaste is getrakteer met sensuele handmasserings, canapés wat deur kelners bedien is, asook heerlike drinkgoed.
Die Liebenberg-egpaar het ‘n bietjie later weer by hulle gaste aangesluit vir die vrolike onthaal waar emosievolle toesprake deur veral Louis se skoonseuns die magtige sakeman bewoë gelaat het.
Elke gas het ook ‘n pragtige, duursame geskenkie ontvang.
‘n Strykorkes het die gaste rustig vermaak totdat krulkop-Ghapi agter ‘n tromstel plaasgeneem het en alle lywe, oud en jonk, tot ná middernag op die dansvloer getrakteer het. Selfs Niekie van den Berg het lyf geskud op goue oues.
Gaste was onwillig om na die afloop van die skouspelagtige verrigtinge huiswaarts te keer. Dit was asof hulle nie wou hê dat die magiese dag en oomblik aan ‘n einde moet kom nie, al was hulle voetsole aan die brand gedans.