Skip to main content

Terwyl beurtkrag ons aan die strot beet het tot verdere kennisgewing, gaan Eskom gebuk onder interne misdaad.

Na intensiewe interne ondersoeke, en met die ondersteuning van die Valke (DPCI), is ‘n werknemer van Tutuka Kragstasie op 17 Oktober gearresteer vir die verwydering van tien dromme hidroliese olie vanaf die perseel se stoorfasiliteit.

Die waarde van die gesteelde dromme hidroliese olie word op meer as R800 000 gewaardeer. Die werknemer wat in hegtenis geneem is, het in die Standerton landdroshof verskyn en is in aanhouding vir ‘n borgtogaansoek.

“Ons sal verseker dat borgtog geweier word en dat die werknemer die volle mag van die wet in die gesig staar,” het advokaat Karen Pillay, hoofbestuurder van Eskom Groepsekuriteit, gesê.

In ‘n afsonderlike voorval by die Matla-kragstasie, is drie skoonmaakkontrakteurs wat op die perseel werk, Maandag gearresteer vir die diefstal van koperkabels wat hulle in ‘n afvalopberghouer geplaas het. Die verdagtes was deur speurders dopgehou. Daar is op hulle toegeslaan toe hulle probeer het om die houer te verwyder.

“Ons kan nie sulke individue binne die diens van Eskom hê nie. Ons sal ywerig werk om sulke individue, insluitend hulle medepligtiges, in hegtenis te neem en hulle aan die pen te laat ry,” het advokaat Pillay bygevoeg.

Sy het voorts die wetstoepassingsagentskappe en die Nasionale Vervolgingsgesag bedank vir hulle ondersteuning en vir die reaksie op die ernstige plaag van infrastruktuurmisdaad, wat die reeds gebreklike kragstelsel teister.

Eskom doen ‘n beroep op die publiek om saam te werk in die beskerming van die elektrisiteitsinfrastruktuur en om misdaadvoorvalle en inligting onmiddellik by die Eskom-misdaadlyn: 0800 11 27 22 aan te meld.

Leave a Reply