Somer is sinoniem met die gezoem wat jou mal maak
Somer is om die draai. En saam met die somerseisoen, kom seker die mees algemene, irriterende (en ook dodelike) insek in mensegeheue, die muskiet! Sommige van ons gebruik sitronella-kerse, muskietmatjies en insekdoders om hulle weg te hou. Die vreemdste is egter die mense wat nie deur dié nagpeste gepla word nie – omdat hulle glad nie gebyt word nie. ʼn Entomoloog beweer dít het te doen met ons metabolisme, liggaamsreuk en selfs ook houding teenoor die spesie. Gerald Eloff probeer agter die klap van die vlieëplak kom …
Hoekom is sommige van ons muskietmagnete en ander nie? Sommige van ons slaap rustig deur die nag, ander van ons word van ons nagrus ontneem deur ‘n irriterende gezoem en jeukende kolle op ons vel. Muskiete het ons bloed nodig om voort te plant. Maar hoe besluit hulle wie om te byt, en wie nie? Meeste muskiete, soos ander Artropode, wat vlooie, bedluise, swartvlieë en perdevlieë insluit, benodig die proteïne in ons bloed om eiers te produseer. Indien jy nie geweet het nie, is dit net die vroulike geslag wat voed op ons bloed. Die manlike geslag van dié spesies voed op plante se nektar, wat hulle dan in energie omskakel en gebruik om te vlieg.
Om op bloed te voed, is ‘n baie belangrike komponent van ʼn muskiet se voortplantingsproses. As gevolg van die proses, is daar ‘n groot hoeveelheid evolusionêre druk op die vroulike muskiet om moontlike bronne van bloed te identifiseer en soveel as moontlik op een slag te verkry, voordat hulle die jeukende slagoffer agterlaat. Indien jy dus aan ‘n muskiet se teikenvereistes voldoen, is jy ongelukkig ’n muskietmagneet!
Afhangende van wanneer die muskiet gedurende die dag aktief is, gebruik muskiete, sig, klank en reuk om ‘n potensiële bron van bloed te identifiseer. Meeste spesies wat in die nag aktief is, gebruik reuk of reseptiewe leidrade. Die belangrikste chemiese leidraad is die koolstofdioksied wat alle vertebrae (mense ingesluit) afskei met elke asemteug, asook deur hulle velle.
Muskiete is veral vir CO2 sensitief en kan dit vanaf ‘n redelike afstand (‘n hele paar meter weg) optel. Reseptiewe selle op die muskiet se antenna en bene bind die CO2 molekules en stuur dan ‘n elektriese sein na hul breine toe. Wanneer meer molekules die reseptore bereik, hoe hoër is die CO2 konsentrasie, wat beteken dat hulle naby aan die gasheer en slagoffer (ek en jy) is.
Daar is egter baie ander nie-lewende bronne van koolstofdioksied – soos bote, motors, treine en vliegtuie. Om onderskeid te tref tussen lewende en nie-lewende bronne wat CO2 bevat, maak muskiete op hul sekondêre reukleidrade staat, wat spesifiek lewende organismes wat dit produseer, teiken. Metaboliese prosesse soos asemhaling en beweging, skei reuke soos laktiese suur, ammoniak en vetsure af wat tot gevolg het dat vroulike muskiete hulle volgende maaltyd akkuraat kan teiken.
So, koolstofdioksied is die eerste trekpleister vir muskiete, omdat die vervaardiging van CO2 aan ons metabolisme gekoppel word: hoe hoër ons metaboliese, hoe meer stowwe word afgeskei. Metabolisme kan geneties bepaal word, maar dit neem ook as gevolg van fisiese oefening toe.
Die mense wat gebyt word gedurende die somer mag ‘n hoë genetiese metabolisme hê en mag fisies meer aktief wees as diegene wat nie gebyt word nie. Hulle mag ook deelneem aan ander fisiese aktiwiteite wat hulle metabolisme vinniger maak, soos alkoholgebruik. Al gehoor hoe drawwers kla hoe hulle ná ‘n drafsessie terwyl hulle strekoefeninge doen, gebyt word? Dis omdat hulle metabolisme hoog is. Swanger vroue, ook moontlik vanweë hulle hoë metabolisme, trek ook ‘n groot hoeveelheid muskiete aan.
Hoe jy ruik speel ook ‘n rol
Die reuk wat jou liggaam afskei, kan ook muskiete na jou toe aantrek. Byvoorbeeld, sekere spesies van Anopheles muskiete word deur sekere elemente van voetreuke aangetrek. Dié spesie dra malaria en voed binnenshuis gedurende die nag. Die muskiet byt iemand op die voete en vermy só die persoon se kop waar die meeste CO2 uitgeskei word, en verminder dus ook die kanse om die slagoffer wakker te maak.
Visuele leidrade
Muskiete wat deur die dag en gedurende sonsopkoms en sonsondergang aktief is, gebruik visuele seine om ‘n gasheer te identifiseer. Muskiete vlieg gewoonlik naby aan die grond (dis dalk hoekom ons altyd tevergeefs vir hulle teen die dak soek!) Vanaf dié posisie, sien hulle die gasheer teen die horisonlyn. Donker kleure staan uit en ligte kleure smelt saam met die omgewing, m.a.w., die manier hoe ‘n persoon aangetrek is, sal afhang op die hoeveelheid muskiete wat hulle aantrek. Ligte kleure sal jou nie net koel hou gedurende die somermaande nie, maar sal ook die muskiete weghou. Muskiete kan bewegings raaksien, weereens deur die kontras van jou silhoeët teen die horisonlyn.
Sielkundige faktore
Glo dit, of nie – daar is ook ‘n sielkundige komponent gekoppel aan wat muskiete aantrek. Sommige mense sien nie die muskiete om hulle raak nie. Net een muskiet in jou kamer, sal by sekere mense ‘n reaksie uitlok. Ek dink aan myself – wat al ure deur die nag ‘n muskiet met ‘n blik spuitgif probeer jag het! Die reaksie en bewegings van mense wat rondbeweeg, maak die muskiete meer aktief. Daar is self ‘n muskietspesie, Aedes aegypti wat dit verkies om op mense te fokus, en teiken meestal die gebied rondom die enkels.
Mzansi se vlieënde peste
Die twee algemeenste spesies is Suid-Afrika is die gewone huismuskiet (Culex pipiens) en die klein swart en wit gestreepte bosmuskiet (Aedes aegyptii), waarvan beide gelukkig nie malaria kan oordra nie. Dan is daar ook die Asiatiese Tiermuskiet (Aedes albopictus), ‘n uitheemse spesie wat al hoe meer in Suid-Afrika voorkom.
‘n Spesie wat gereeld met die bosmuskiet verwar word, is die olifantmuskiet (Toxorhynchites), wat by regte nie ‘n pes is nie, aangesien dit nie op bloed voed nie. Mense verwar hom met die bosmuskiet omdat die merke op sy lyf dieselfde lyk, maar die olifantmuskiet se lyf is aansienlik groter. Dié muskiet vreet ook ander muskiete, omdat sy larwes kleiner muskiete se larwes eet.
Suid-Afrika se muskietseisoen
Dis te koud vir muskiete om te oorleef gedurende die Suid-Afrikaanse winterseisoen, asook gedurende die lente (vanaf Meimaand tot middel September). Nog ‘n rede hoekom die wintermaande malaria- en muskietvry is, is as gevolg van die min reënval (behalwe vir Kaapstad met sy Mediterreense klimaat). Omdat dit die afgelope paar jaar minder in die Kaapprovinsie gereën het, het baie mense opgaartenks (JoJo tenks) begin aankoop. Indien die tenks nie gereeld met chloor of bleikmiddel behandel word nie, gaan muskiete daar uitbroei.
Nog wenke om muskietbyte te vermy
- Vermy helder kleure
- Moenie sterk reukweerder of deodorant dra nie
- Bedek jou vel deur langmou hemde en langbroeke te dra
- Vermy gebiede waar stilstaande water is en raak van stilstaande water in potte en poele op jou eiendom ontslae
- Behandel jou JoJo tenks met chloor en bleikmiddel
- Indien jy deur die veld of bosse stap, druk jou broekspype in jou sokkies in.
In kort, muskiete is hier om te bly. Niemand is lus om op te hou oefen, of op te hou bier drink nie. En g’n volbloed Suid-Afrikaner gaan die buitelug vermy of ophou braai nie. So, trek maar die insekdoder nader sodra jy daai tjop op die vuur gooi!