Skip to main content

Kobie Cilliers

Dit was ’n teleurstellende naweek vir die Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Buiten die Sharks se oortuigende oorwinning met 40-12 oor die Glasgow Warriors in Durban, het die Stormers, Lions en Bulls nie aan hulle ondersteuners se verwagtinge voldoen nie.

Veral die Bulls het vir die tweede week agtereenvolgens op kritieke tye onder druk gevou. Die Ligbloues het Saterdagaand op Thomond Park met 31-17 teen Munster van Ierland verloor.

Die Bulls, wat ’n week vantevore met 35-21 deur die Warriors van Skotland geklop is, kon in twee wedstryde op toer nog nie ’n enkele ligapunt behaal nie.

Jake White se span sal Vrydag in Italië hoop om ’n jammerlike toer met ‘n oorwinning teen Benetton af te sluit.

Hoogtepunte: Bulle t. Munster

(https://youtu.be/2x7UxEMiiu4)

Die Stormers sal uiters ontevrede wees nadat hulle Vrydagaand op die nippertjie misluk het deur die louere met die Ospreys in Swansea te deel.

Die Kapenaars het van meet af voorgeloop op die telbord, maar moes uiteindelik met ’n gelykopuitslag van 16-16 tevrede wees, nadat die Walliesers se haker Scott Baldwin vier minute voor die einde die Ospreys se gelykmakende drie afgerond het.

Die heersende VRK-kampioen is egter steeds onoorwonne in die VRK-reeks.

Hoogtepunte: Stormers t. Ospreys

(https://www.youtube.com/watch?v=R54Xcw0Jdvk)

Die Lions en Ulster het Saterdagmiddag op Ellispark vir ’n opwindende kragmeting gesorg.

Die Johannesburgers, wat pas teruggekeer het van ’n onoorwonne Europese toer, het voor hul tuisskare teen die besoekende Iere ’n pynlike nederlaag van 37-39 gely.

Die Lions was rustyd met 18-15 voor, maar het in ’n stadium met 18-36 agtergeloop.

Hulle het egter in die laaste 20 minute verwoed teruggeveg en byna ‘n oorwinning behaal. Die tuisspan se heelagter Andries Coetzee het ’n strafskop in die doodsnikke vermors deur nie die bal vir ’n lynstaan uit te skop nie en sodoende ’n gulde geleentheid om aan te val verbeur.

Hoogtepunte: Lions t. Ulster

(https://www.youtube.com/watch?v=88oZdYJhOog)

Diegene wat die Springbok-slot Eben Etzebeth in sy eerste wedstryd vir die Sharks in aksie wou sien, het Saterdagmiddag eindelik hulle sin gekry.

Hy was een van sy span se uitblinkers in die oorwinning teen die Warriors. Etzebeth het sterk verdedig, goed gevaar as baldraer en in die lynstane koning gekraai.

Die Durbaniete het boonop vyf drieë gedruk om met ’n bonuspunt te wen.

Hoogtepunte: Sharks t. Glasgow Warriors

(https://www.youtube.com/watch?v=ivEyvllC1mg)

Ongeag ’n grootliks teleurstellende rugbynaweek vir die Suid-Afrikaanse spanne is die goeie nuus dat al vier franchises hulle onder die top-ses op die VRK-punteleer bevind.

Die Stormers is derde, Haaie vierde, Leeus vyfde en Bulle sesde.

Buiten die Bulle se wedstryd Vrydagaand (18:30) teen Benetton, speel die Leeus Saterdagmiddag (16:05) gasheer vir die Warriors, waarna die Haaie en Ulster om 18:15 in Durban kragte meet en die Stormers om 20:35 deur Cardiff in Wallis verwelkom word.

* Sowat 13 000 atlete het Sondag aan die Kaapstad-marathon oor 42,2 km deelgeneem.

Die organiseerders van die World Marathon Majors het die wedloop vir die eerste keer bygewoon en vanjaar se byeenkoms was geëvalueer met die oog om vanaf 2025 moontlik ’n “major” te word.

Kaapstad kan homself dus dalk binnekort saam met Boston, Londen, Tokio, Berlyn, Chicago en New York in dieselfde uitsoek-geselskap vind.

Stephen Mokoka van Suid-Afrika het sy titel suksesvol verdedig en sy derde Kaapstad-marathon in 2 uur 10 minute 2 sekondes gewen.

Hy het die wedloop sewe sekondes vinniger as verlede jaar voltooi.

Die Ethiopiër Meseret Dinke Meleka was in 2 uur 28 minute 3 sekondes die eerste vrou oor die wenstreep.

Aaron Pike van Amerika het die rolstoelafdeling vir mans gewen, terwyl die Suid-Afrikaanse Olimpiër Ernst van Dyk tweede geëindig het.

Vanessa Cristina de Souza van Brasilië het in die rolstoelafdeling vir vroue geseëvier.

* Suid-Afrika se eerste wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi word eers op 24 Oktober teen ’n kwalifiseerder in Hobart, Australië beslis, maar sy buurman Namibië het Sondag vir ’n groot opskudding in die kwalifiserende ronde gesorg.

Die Namibiërs het Sri Lanka met 55 lopies afgestof om hul veldtog om vir die Super12-fase van die toernooi te kwalifiseer, goed op dreef te kry.

Groep A van die die kwalifiserende ronde bestaan uit Sri Lanka, Namibië, Nederland en die Verenigde Arabiese Emirate, terwyl Groep B deur die Wes-Indiese Eilande, Zimbabwe, Ierland en Skotland beslis word.

Die twee voorste spanne in elk van Groep A en B sal na die Super12-fase deurdring.

Die Proteas speel Maandag in Brisbane ‘n opwarmingswedstryd teen Nieu-Seeland en sluit hulle voorbereiding Woensdag met ‘n kragmeting teen Bangladesj af.

* Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Branden Grace het Sondag meer as R73,3 miljoen gewen toe hy algeheel derde in die omstrede LIV Golf-reeks se individuele kompetisie geëindig het.

Die Buffelsbaaier, wat in Julie ‘n $4 miljoen-wentjek verdien het nadat hy die tweede LIV-toernooi op die Pumpkin Ridge-buiteklub buite Portland, Oregon, gewen het, het Sondag algeheel derde in die lonende Saoediese “rebellereeks” se individuele kompetisie in Jedda klaargemaak.

Grace, wat in 2017 die laagste ronde in die geskiedenis van major-toernooie gespeel het toe hy ’n 62 in die derde ronde van die Britse Ope by Royal Birkdale behaal het, is tans 137ste op die wêreldranglys.

Die Amerikaner Brooks Koepka het Sondag se toernooi gewen en $4 miljoen in sy sak gesteek.

Die voormalige major-kampioen Dustin Johnson het reeds twee weke gelede $18 miljoen (R326,3 miljoen) gewen nadat hy in die LIV-toernooi in Bangkok die individuele titel beklink het.

* In tennisnuus het die Spaanse held Rafael Nadal ’n week nadat sy vrou, Xisca Perelló (34), die lewe aan ’n babaseuntjie geskenk het, vir die eerste keer sy stilswye oor pa-word gebreek.

Die 36-jarige Spaanse wenner van 22 Grand Slam-titels het hom tot Twitter gewend om sy aanhangers te verseker dat dit goed gaan met sy jong gesin.

“Hallo almal. Ek wou ná ’n klompie dae en ’n stortvloed liefdevolle boodskappe maar net vir julle dankie sê! Ons is geseënd en dit gaan baie goed met almal! ’n Groot drukkie,” het hy gesê.

Nadal was buite aksie sedert die Laverbeker in September waar hy saam met sy boesemvriend en groot teenstander Roger Federer in dié se laaste beroepswedstryd gespeel het.

Dit is nog onduidelik wanneer Nadal weer sal meeding.

Die laaste Meesters-toernooi van die jaar begin op 31 Oktober in Parys, een van drie ATP 1000-byeenkomste wat Nadal nog nie gewen het nie.

Hy het ook vir die ATP-jaareindtoernooi gekwalifiseer, wat van 13 tot 20 November in Turyn, Italië, beslis word.

Leave a Reply