Skip to main content

George April

Riool wat gereeld opstoot in huise se toilette of baddens, is ‘n reuse-kopseer vir Moorreesburg se inwoners.

Die Waarheid het  onlangs berig oor die probleem van rioolverstoppings in die Swartlandse dorp. Blykbaar is dit ‘n gereelde probleem, met munisipale ingenieurs wat boonop nie ‘n oplossing daarvoor het nie.

Carika Huyser in Bloekomstraat vertel sy is al raadop. “Die riool stoot soms sommer twee maal ‘n week in my toilet op. Dit vrot  in my huis, ons gee al hoe meer geld uit op skoonmaakmiddels.

“My yskas het al ingegee, omdat dit gereeld in die rioolwater moet staan,” het sy moedeloos bygevoeg.

“Wat my verder bekommer, is dat die munisipale werkers aan my gebieg het daar is nie ‘n oplossing nie. Die hooflynaansluiting is langsaan in Sentrumweg. As die lyn verstop, is ek die eerste huis wat deurloop onder die riool.”

Talkline Adonis, Huyser se buurvrou, is ewe moedeloos. “Die hoofaansluiting is in my erf. Die hooflyn het verstop en riool het bo uitgeborrel.

“Vyf huisgesinne se huise in drie strate se riool het opgestoot.  Behalwe my woonvertrekke, was my wasbad halfvol van die stink rioolwater.

“Ek en my vyfjarige dogtertjie was al siek, en moes in die verlede ‘n dokter hieroor besoek.

“Kyk hoe lyk my meubels,  die onderkante is al verrot.”

Volgens Bronwin Adonis, ‘n gemeenskapwerker, moes die aansluitings nooit in die woonerf gewees het nie.  “Dis 814 huisgesinne, twee baie groot plakkerskampe, en die hele Ranonkelstraat se huise wat hier aansluit.”

Adonis se ander buurvrou het ook ‘n hoofaansluiting in haar erf, maar sy was nie tuis met die media se besoek nie.  Rondom haar huis was die matte en stukke tapyt ‘n stille getuienis van haar soortgelyke rioolprobleem.

Die Waarheid  het slegs ‘n bevestigingsbrief van sy media-navrae van die Swartland Munisipaliteit in Malmesbury ontvang. Die vrae oor ‘n oplossing vir die probleem is egter nie daarin beantwoord nie.

Leave a Reply