Skip to main content

Isaac Cloete

Leë beloftes is iets waarvan jy na dese vir Tamelyn “Tammy” Bock, Mej. Rolstoel (SA), min kan vertel.

Haar eie gemeenskapslede en landburgers het haar traag ondersteun in die oploop na die Mej. Wêreld Rolstoel-kompetisie wat dié naweek in Mexico gehou word, vertel sy. Die wenner word op 22 Oktober gekroon.

Vir ‘n werklose persoon, soos sy, in ‘n rolstoel, is dit moeilik om al die koste om haar land te gaan verteenwoordig self te dra. En boonop het baie mense haar in die oploop na die internasionale kompetisie teleurgestel.

Soos Ricardo Zebulon Simon, ‘n tydelike werker by ‘n plaaslike gemeenskapsradiostasie, wat onlangs onderneem het om geld vir haar in te samel. Hiervan het niks gekom nie.

Die bestuurder van diė radiostasie, Brunhild Strauss, het by navraag gesê dat Simon sonder die mandaat van die stasie gehandel het toe hy die insameling onderneem het.

“Ons bestuur het al vir Simon verhoor en uitgevra omdat hy dit nie namens ons gedoen het nie. Hy het onderneem om hieroor met Bock in kontak te kom.”

Volgens Simon het hy op ‘n stadium probeer om met Bock in aanraking te kom. ‘n Teleurgestelde Bock meen egter die saak kan nie daar gelos word nie. “Simon het lank genoeg kans gehad om by my uit te kom. Hy het immers my selnommer. Dis baie onregverdig dat ander mense my naam gebruik om kwansuis geld in te samel. Hoe weet ons hoeveel wel ingesamel is?”

Volgens ingeligte bronne is Simon steeds werksaam by die stasie te midde van die ondersoeke teen hom.

Die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur op Springbok het ook nie hulle beloftes van hulp teenoor Bock nagekom nie.

Avron Thomas, ‘n bestuurder, het begin vanjaar aan Die Waarheid vertel dat hulle vir Bock ‘n tydelike werk sou reël. Daarvan het ook dadels gekom en dit sonder ‘n rede, volgens Bock.

Bock se ouers het Saterdagaand ‘n dansfunksie op haar tuisdorp, Nababeep, gehou om fondse in te samel. Volgens Bock was dit nie heeltemal suksesvol nie. Voorts het die twee plaaslike munisipaliteite in haar tuisgebied, asook die Noord-Kaapse en nasionale regering haar ook nie geldelik ondersteun nie.

Gelukkig het sy in September onverwags ‘n skenking van R50 000 ontvang van die sakeman en eienaar van die MAFISA diamantmyn, Louis Liebenberg.

Intusssen het sy haar landgenote versoek om na die Miss Wheelchair (World) se webwerf te gaan en daarop vir haar te stem deur haar foto te “like”.

Sy en Eddie Balie, haar verloofde en assistent, het vandag na Kaapstad vertrek waar sy nog ‘n paar kledingstukke wil aanskaf voor hulle vertrek na Mexiko.
 

Leave a Reply