Skip to main content

Aknee hang af van waar jy bly, bevind studies

Die meeste van ons ken die lastigheid van aknee – die ouer mense noem dit puisies. En nee, dis nie net tieners se voorland nie – studies beweer aknee kom by bykans die helfte van mense ouer as 25 jaar in industriële samelewings voor, en amper glad nie in samelewings sonder nywerhede nie. Boonop het aknee in moderne samelewings amper met 48% sedert 1990 toegeneem. Gerald Eloff gaan vind uit of hy platteland toe moet trek vir ʼn gladder vel en watter omgewings- en ander faktore geld waar diė velsiekte voorkom.

Aknee word as die algemeenste chroniese inflammatoriese velsiekte in die wêreld beskou.

Studies beweer aknee by mense ouer as 25 jaar het niks met gene te doen nie. Faktore by mense wat in Westerse, moderne samelewings woon, speel ʼn rol. Die verkeerde dieet, stres, oormatige higiëne en te min oefening het alles ʼn invloed, asook die gebruik van velverbleikers (produkte wat die vel ligter maak) en van anaboliese steroïdes.

In die Westerse wêreld is dit vreemd wanneer iemand nog nie ten minste een keer met aknee gesukkel het nie. Ongeag van ras of kultuur, is dié velprobleem ‘n reuse-kopseer.

Dit kom voor as haarfollikels deur dooie vel en olie verstop word. Ongeveer 80-90% van tieners in ontwikkelde lande loop onder puisies deur – en ongeveer die helfte van die lyers is ouer as 25 jaar.

Vreemd genoeg het navorsers bevind dat aknee feitelik glad nie onder gemeenskappe waar daar nie industrieë of nywerhede is, voorkom nie.

Die Kitavans, ʼn stam vanaf die Trobriand-eilande naby Papua New Guinea, die Aché-jagters van Paraguay, die Okinawans (voor die kolonisasie van hul eiland gedurende WW2), die Inuïete voor hulle verwesters het en vele ander sukkel glad nie met puisies of swartkoppies nie – nie eers die tieners onder hulle nie, ondanks al hul hormone gedurende puberteit.

Die velsiekte het ook nie met gene nie te doen nie. Wanneer mense van dié gebiede emigreer na bv. Amerika, dele van Asië, Europa en Australië – en basies enige deel van die wêreld waar industrieë nes geskop het – kry hulle ook puisies soos almal anders daar.

Oliver Schaefer, ʼn algemene praktisyn, het vir ongeveer 30 jaar lank mediese dienste aan die Inuïete verskaf nadat hulle die oorgang na ʼn meer moderne lewe gemaak het. Hy berig dat aknee by hulle afwesig was, solank hulle hul tradisionele eet- en leefstylgewoontes gevolg het.

Nadat hulle die Westerse gewoontes aangeleer het, het hulle begin puisies kry, soortgelyk aan mense van Westerse afkoms.

‘n Soortgelyke prentjie word in Suid-Afrika gevind. Dermatoloë hier het bevind dat aknee minder onder swart mense as blankes voorkom na aanleiding van ʼn studie in Pretoria.

Van die adolessente onder swart Suid-Afrikaners (15-19 jaar), het 16% aknee gehad, terwyl 45% van hul blanke tydgenote met dié probleem gesukkel het. Oor die algemeen, wanneer alle ouderdomme in ag geneem is, het net 2% van die swart mense onder aknee deurgeloop, teenoor 11% van die blankes. Voorts word beweer dat aknee onder die Zoeloenasie eers ʼn probleem geword het toe hulle verstedelik het en van die platteland na die stede (of nywerheidsgebiede) verhuis het.

Bogenoemde dui op ʼn paar faktore van moderne samelewings wat aanleiding tot aknee kan gee.

Puisie-aanhitsers

Vir almal wat stoei met dié toestand wat soveel lyers laat skaam voel, en soms selfs depressie veroorsaak, sal ʼn eenvoudige antwoord dinge soveel makliker maak. Die wetenskap probeer egter nog agter die kap van die byl kom.

Aan die ander kant – om te vergelyk hoe ons leef teenoor mense in lande sonder nywerhede, werp dalk wel meer lig.

  1. Die dieet wat ons volg en hoe ons eet, verskil daadwerklik van dié mense van ander lande wat akneevry is. Akneevrye mense eet baie minder kosse met verfynde koolhidrate en suiker wat glukosevlakke laat opskiet en meer kosse wat laag is aan vesel. In die akneevrye lande maak mense baie meer op groente en vrugte met lae glukemiese inhoud staat.
  2. Ons oefen baie minder en doen minder fisieke arbeid. Gereelde fisieke oefening kan stresvlakke laat afneem, inflammasie verminder en bloedtoevoer na die vel verbeter wat aknee kan voorkom.
  3. Ons kom minder in die son (dié faktor geld meer vir mense wat in Europa woonagtig is, hoewel baie Suid-Afrikaners die meeste van die dag binnenshuis deurbring). Meeste van ons verkry vitamien D deur sonlig – vitamine help ook om inflammasie te verminder en verbeter ons liggaam se vermoë om wonde te genees. ’n Studie in 2016 dui daarop dat mense met aknee meer geneig is om ʼn tekort te hê aan vitamien D as mense sonder aknee.
  4. Ons stres te veel (hoe dan nou anders in Suid-Afrika!). Ons alledaagse gejaagde lewe het ʼn direkte invloed op ons vel omdat dié leefstyl aan ons hormoonvlakke en immuunstelsel karring.
  5. Die volgende stelling mag dalk as ʼn skok kom – mense stort en bad te veel. Miskien gooi al die skoonheidsprodukte, die gedurige bad en stort, ons vel se balans uit? Ons vel kan eintlik mooi na homself kyk, sonder om elke dag skoongeskrop te word.
  6. Ons word meer aan lugbesoedeling blootgestel. Konstante blootstelling aan salpetersuur en ander lugbesoedeling mag tot inflammatoriese aknee bydra.
  7. Gedurende nog ʼn studie onder vroue in Durban, is bevind dat velbeikmiddels wat kortisoon bevat, aknee veroorsaak. Dit geld ook vir anaboliese steroïdes – baie atlete en liggaambouers wat dié middels (veral in oormaat) gebruik, sal met aknee sukkel.

’n Somatoloog vertel

Chrismari Albertse, ʼn somatoloog van Bloemfontein, stem saam met sommige van bogenoemde stellings. “Uit my ondervinding as somatoloog, het ek gesien dat ons leefstylkeuses ʼn baie groot rol kan speel. Stres, ongebalanseerde hormoonvlakke en te veel suiker kan alles aknee veroorsaak. Baie mense wat ʼn lae toleransie het vir laktose kry dit ook.

“Ek het al agtergekom dat dit nie net beperk tot ʼn sekere kultuur of ras is nie – almal kry puisies. Baie van my kliënte se akneeprobleme is ook hormoonverwant.”

Aknee by volwassenes

Die eet van te veel vetterige kos en kosprodukte wat te veel suiker bevat, kan ook aknee by volwassenes veroorsaak. Onder diė produkte, is melk ook ʼn sondebok. Die redes hiervoor is:

  1. Hoë glisemiese diëte verhoog die insulien-groeifaktor (IGF-1) wat lei tot verhoogde vlakke van oksidatiewe stres en inflammasie.
  2. Verhoogde IGF-1 stimuleer die produksie van androgene, wat weer lei tot die produksie van sebum, ʼn gelerige, olierige stof wat aan aknee gekoppel word.
  3. Melk verhoog IGF-1 produksie deur die lewer – om melk te drink het dieselfde effekte as om ’n hoë glisemiese maaltyd te eet.

Vele studies later ten spyt, is ons steeds nie doodseker hoekom moderne samelewings sukkel met aknee nie. Wat ons wel weet is dat al hoe meer mense deesdae daarmee sukkel, selfs mense wat die beweerde gesonde vegan-roete bereis (wat blyk uit gesondheidsforums op die internet).

Ná alles, is ʼn gesonde leefstyl altyd ʼn goeie oorweging – wat dalk ook met aknee kan help. Of los die stad en al sy besoedeling en stres agter jou en gaan soek die vars lug en son van die platteland op. Dan bad jy net so af en toe in ʼn rivier of ʼn dam. Jou vel sal jou later bedank!

Leave a Reply