Skip to main content

Gert Basson

Ons almal ken die stories wat ons ouers ons vertel het as kinders; eet jou pampoen en jou hare sal krul, wortels sal jou sig verbeter en as jy ’n leuen vertel gaan jou neus groei.

’n Turkse man kan klaarblyklik nie ophou leuens vertel nie want hy spog met die grootste snoet ter wêreld.

Mehmet Özyürek (71) is deur die Guinness World Book of Records aangewys as die mens met die langste neus. Hy het elf jaar gelede ook hierdie titel gewen.

Volgens Guinness se webtuiste (https://find-it.co.za/2022/10/12/turk-het-langste-neus-ter-wereld/?fbclid=IwAR1hVmjQp7Y8aef-XGSQHmtZgBL9NbjsrsJcGy2XfvDpTjpB4_r9_tUjAOg) is Özyürek se neus 8.8 cm lank van die brug tot by die punt.

Sy neus was die eerste keer deur Guinness World Records op 31 Januarie 2001 in sy tuisdorp, Artvin, Turkye, gemeet.

Selfs 11 jaar terug het sy neus 8.8 cm gemeet en nooit verder gegroei nie.

Hulle het in 2010 en weer in 2021 sy neus gemeet en dit was steeds die lengte van ’n speelkaart.

“My reuksintuig is beslis beter as ander mense s’n,” sê Özyürek. “Baie keer sal ek iets ruik wat ander mense nie ruik nie. As ek in ’n huis instap, weet ek presies watter soort kos aan die kook is.”

Hy het in 2010 op die Italiaanse televisieprogram Lo Show Dei Record vir die gehoor en kykers gewys hoe hy met sy neusgat ’n ballon kan opblaas.

Die res van sy familie het ook glo groot neuse, maar die rede hiervoor is steeds onbekend.

“Ek sien dit as uniek. Dit is blykbaar geneties. Dokters kan nie regtig vir my ’n verklaring gee nie, maar dit loop in my familie. My pa en my oom het ook lang neuse.”

Maar die generasies ná Özyürek het nie sy lang neus geërf nie.

Volgens hom is hy as kind ween sy neus gespot.

“My vriende sou my heeltyd Grootneus noem om my te probeer ontstel, maar ek het in die spieël vir myself gaan kyk en myself ontdek. God het my so gemaak, daar is niks wat ek aan die situasie kan doen nie. Ek het geleer om in vrede met my fisiese voorkoms saam te lewe.”

Hoewel hy nou gelukkig is met sy neus, trek dit steeds aandag as hy in die openbaar verskyn.

“Wanneer ek in ’n kamer instap, is die aandag dadelik op my. Almal kyk vir my. Ek weet presies wat hulle dink as hulle vir my kyk.”

Maar, Özyürek is tog trots op sy wêreldrekord.

“Ek is mal oor my neus. Ek is geseënd. Ek is baie trots om Turkye op internasionale vlak te kan verteenwoordig.

“Party mense word martelaars, ander eerste ministers en party rekordhouers.”

Die persoon met die langste neus in geskiedenis was glo Thomas Wedders van Engeland wat gedurende die 1770’s gelewe het.

Hy was deel van ’n sirkus en sy neus was ’n allemintige 19 cm lank.

Leave a Reply