Skip to main content

Isaac Cloete

Dit is nou amptelik bevestig dat die brand wat ‘n skool in Garies verwoes het, wel gestig was.

Alhoewel baie inwoners van Garies vroeër so vermoed het, het die polisie aanvanklik wal gegooi. Kapt Olebogeng Tawana, die polisiewoordvoerder, het toe gesê dat die inwoners voortydig was met hulle bespiegelinge.

Die Hoërskool Garies was op 17 September in ‘n brand verwoes. Dit het veroorsaak dat leerders nie verder onderrig kon kry nie. Die koshuis was later gebruik om die matrieks daar te onderrig.

Dinsdag het die LUR vir onderwys, Zolile Monakali, weer die dorp besoek soos hy voorheen ooreengekom het. Monakali se besoek het saamgeval met die heropening van skole vir die laaste kwartaal.

Intussen het die skool al 5 mobiele klaskamers van die beloofde elf ontvang. Volgens Geoffrey van der Merwe, die departementele woordvoerder, is die res op pad. Asook ‘n administrasieblok, ablusiegeriewe, meubels en ondersteunersmateriaal vir leerlinge, sê hy.

Teen 17 Oktober behoort alle leerders terug by die skool te wees sodat normale onderrig hervat kan word.

Volgens ‘n forensiese-ondersoek en verslag was die skool by drie verskillende plekke aan die brand gesteek, het Monakali vertel.

Op die stadium is dit nie seker of die skorsing van drie leerlinge voor die brand iets met die brandstigting te doen gehad het nie.

Die skoolhoof,  Fagmieya Januraie, het bevestig dat kinders wel dissiplinêr verhoor is. Sy is egter nie seker nie of hulle vir die brand verantwoordelik gehou kan word nie.

Intussen word die publiek versoek om die polisie te help om die brandstigters vas te trek.

Leave a Reply