Skip to main content

Marinda van der Walt

Dit is halfvyf, ‘n herfslaatmiddag in Taiwan.  Die skooldag vir die 66-jarige Mona Matthews is pas verby.  Sy is terug in haar koshuiskamer waar sy gou wil opruim voordat sy vir aandete gaan aansit.

Na 44 jaar in die onderwysberoep het die passie vir haar werk hierdie afgetrede juffrou na die dorpie Fuxin in Taoyuan gelok. Om by haar huis in ‘n Wes-Kaapse kusdorpie stil te sit en na die see te staar, het nie vir haar gewerk nie.

Die jaar na haar uittrede was ongebonde en sy het dit gebruik om familie en vriende te besoek, maar haar passie vir onderwys en kinders het haar teruggeroep na haar nering.  Sy het ‘n kans gewaag om aansoek te doen vir ‘n pos in Taiwan, waar sy voorheen vir bykans nege jaar skoolgehou het. Haar aansoek was gou geslaag, maar haar polisievrywaringsaansoek in Suid-Afrika het vier maande lank gesloer.

Haar uiteindelike aankoms in die Ooste was maar ‘n eensame ondervinding.   Streng Covid regulasies geld steeds hier en sy was vir vyftien dae ingeperk voordat sy die skoolterrein kon betree. Dit was midde in die somervakansie toe sy op 6 Junie vanjaar by die verlate koshuisgebou van die Luofu hoërskool aangekom het.

Sy moes self haar voete vind en hoewel meestal met gebaretaal, het sy vinnig die busroete na die naaste, groter buurdorp ontdek.  Dit was ook nie lank nie, of sy het by Suid-Afrikaanse vriendinne in Taipei gaan kuier.

Dit is hier waar sy met aardbewings kennis gemaak het en was maar te dankbaar dat sy, met ‘n 6.9 lesing op die Richterskaal, nie alleen in die koshuis was nie. “Ons drie vriendinne het op die sitkamerbank gesit en kuier toe alles begin ruk en die hanglamp heen en weer begin swaai.  Ek het uitgehardloop, want ek ken nie so iets nie.  Dit het enkele sekondes geduur, maar vir my was dit vreesaanjaend.” Die volgende middag om en by drie-uur, was daar weer ‘n skudding. Wêreldwyd het beeldmateriaal van die verwoesting wat die eerste skudding veroorsaak het, ingestroom, maar Mona en haar vriendinne was gelukkig.  ”Dit is iets waaraan ‘n mens gewoond raak.  Dit is soos weerlig in Suid-Afrika.”

Hierdie onderwyseres wat in haar tuisland die kroontoekenning as leieronderwyser in Engels en die nasionale onderwyserstoekenning as beste onderwyser in die Wes-Kaap (2018) ingepalm het, kan nie uitgepraat raak oor die dissipline, respek en netheid by die skool nie.  “Ek het twaalf klasse van 50 minute elk per week, met onderskeidelik 9, 11 en 26 leerlinge.”

“Dit is heerlik hier.  Ek bly tussen die berge en is twee minute se stap van my klas af.”  Sjinese onderwysers bied die vakke toerisme en besigheidstudie aan en Mona is verantwoordelik vir die Engelse gespreksgedeelte daarvan.  Studente word sodoende voorberei vir die internasionale arbeidsmark.

Hoewel duisende kilometers verwyder van haar hartsmense, is sy daagliks in verbinding met haar mense. Haar man is werksaam in die haaibootbedryf in Hermanus en laat haar begaan om haar passie uit te leef.

Dié ouma vertel gou hoe trots sy op haar enigste seun Roderick en sy drie kinders se talent vir musiek en drama is.  Roderick en sy dogter, Georgia het verlede jaar onder die top 9 van die program, Stand Up South Africa, geëindig en Blaine Africa, haar oudste kleinseun wat aan die Stage Performing Art Studio in Kaapstad verbonde is, het pas in Rustenburg deurgedring na die wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste wat in Junie 2023 in Los Angeles plaasvind.

Mona vertel dat sy glad nie enige musiektalent het nie, maar is baie tevrede met die 100% wat aan haar toegeken is tydens haar eerste evaluering by die nuwe skool.

Leave a Reply