Skip to main content

Korrespondent

Verbeel jou ’n volmaakte liefdesverhouding waarin jou beminde flatervry is.

Dis reg!

Geen eksentieke gedrag, afwykings, alkoholisme of iets soortgelyk nie.

Geen verhoudingsverskille, russies, rumoer of enigiets anders om ’n renons oor te hê nie.

Alles verloop eenvoudig klopdisselboom.

En dís net wat persoonlikheid betref.

Wanneer dit kom by intimiteit of, beter nog – seksuele ekstase – is jou prinses of prins eenvoudig perfek.

Klink na ’n droomlewe?
Miskien nie.

In die Duitse rolprent, Ich bin dein Mensch (Ek is jou mens) kom die buitengewoon intelligente argeloog, Dr. Alma Felser, vertolk deur Maren Eggert, voor ’n nuwe uitdaging te staan wanneer sy haarself in ’n verhouding bevind wat haar geheel en al onkant vang.

Haar lewe is reeds nie rooskleurig nie.

Hoewel slim en sexy, is sy enkel.

Om haar eensaamheid te besweer werp sy haarself toetentaal in by haar werk by die Pergamommuseum in Berlyn, en koester sy ambisies oor ongelooflike uitstallings waarvoor daar nie ‘n begroting is nie.

Totdat ’n misterieuse vreemdeling, Tom, sy opwagting maak. Hy word gespeel deur Dan Stevens, bekend vir sy rol as die hartebreker Matthew Crawley in die immergewilde sepie, Downtown Abbey.

Ongelukkig is Tom nie vlees en bloed nie, maar ’n robot.

Boonop is die verhouding gesmee in ’n tipe Faustiaanse pakt met kunsmatige intelligensie, met die uitsondering dat satan se gesant, Mefisto, híér die gedaante van ’n digitale duiwel aanneem.

As Alma die instituut waaraan sy verbonde is help om vir drie weke lank ’n verhouding met Tom aan te knoop, sodat foute in die robot se programmering vervolmaak kan word, sal die instituut Alma se argeologiese drome bevonds.

Wat volg is ’n romantiese ervaring wat eendersyds dikwels snaaks en andersyds onthutsend is.

Stof tot nadenke word ruimskoots aangebied.

Wat is nou eintlik waar en wat nie?

Is voorgestelde opvattinge oor kunsmatige intelligensie en die moontlikheid van ’n robot om ‘mens’ te word nie miskien uit tred met die tye nie?

Hoe kan ou, miskien selfs uitgediende opvattinge oor wat dit is om vlees en bloed te wees, gebruik word om te besin oor kunsmatige intelligensie?

Alma se pa, byvoorbeeld, is besig om sy geheue te verloor, en as iemand wat daarin spesialiseer om die mens se kultuur-erfenis op aarde te bestudeer, begin sy haarself kwellende vrae te vra oor goed soos geheue en wat dit nou eintlik is om mens te wees.

Ich bin dein Mensch is egter nooit ’n swaer, fisolofiese bepeinsing nie.

Inteendeel, dis propvol humor, soos die toneel wanneer Tom opvattinge opstuur deur skielik met ’n blikstem te praat.

Soos wat die film einde se kant toe staan, word soveel dinge geopenbaar en verklaar dat Ich bin dein Mensch amper soos die duiselende belewenis voel wanneer mens jonk en sorgvry is, en gelukkig is om te weet wat dit is om werklik verlief te wees.

Tot die werklikheid toetree en beneweling bittersoet word.

  • Ich bin dein Mensch was Duitsland se kans op Oscar-glorie vroeër vanjaar, en kan van more af gratis gestroom word tydens die Euro Filmfees. Die fees se stromingsdiens is vir 10 dae beskikbaar. Ernstig fliekvlooie wat die silwerdoek verkies kan ook na verskeie teaterkomplekse soos die Rosebank Mall in Johannesburg, en Cavendish in Kaapstad toe gaan om die rolprente te sien. Diegene wat wil stroom moet die volgende skakel gebruik: https://tinyurl.com/3b2hkrx2

Leave a Reply

error: Content is protected !!