Skip to main content

 

Gerard Stoop – Ek gat nêrens

Gerard Stoop, wat die afgelope twee jaar bekendheid verwerf het vir sy rooiwyn-en-kaggel-luistermusiek, bring dié maand met sy jongste enkelsnit, Ek gat nêrens, amper op ’n filosofiese manier hulde aan Suid-Afrika; aan die bittereinders wat tog besluit het om op te hou ween en hul tande te kners en tog die goeie van ons land te waardeer.

En net soos dáárdie gat in die titel, wat tog so lekker op die Afrikaanse tong val, is die snit onkonvensioneel, aweregs, maar tog ook so eg soos boerewors, vetkoek en bobotie.

In vele opsigte is Ek gat nêrens soos ’n geurige Maleise kerrie – dit byt en knyp – maar die nasmaak in die mond proe na Suid-Afrika.

Die liedjie kan ook beskou word as ’n opvolg van sy vorige enkelsnit, Ou Seun. Waar hierdie snit die verhaal vertel van ’n ouer wat ook sy kind moes laat gaan – na ’n verre land om dáár ‘n toekoms te bou, handel Ek gat nêrens oor dáárdie iets wat ons juis in die land laat bly.

Gerard, wat homself al bewys het as die meester van die liriek, neem die luisteraar op reis deur die land. Van Mpumalanga tot reg in die Kaap waar “die bobotie met jou praat” en die Afrikaans snoek-en-patat op die tong val. Hy beskryf die smaak van ons verskillende disse so haarfyn dat ’n mens se mond skoon begin water…

Ja, die Britse vis-en-chips en die Ierse swartpoeding proe maar net nie soos ons lekkernye toegedraai in koerantpapier nie.

Volgens Gerard, wat in Pretoria woon, werk en musiek maak, is die bittereinders (hy is een van hulle) moeg om elke dag na die slegte dinge wat in Suid-Afrika gebeur, te luister. “Die liedjie herinner ons weer aan die redes waarom ons in die land aanbly – hoekom dit tóg die moeite werd is om hier te woon, Dit herinner ons aan die inheemse lekkerte van ons land wat nie gewoonlik die nuus haal nie.”

Gerard besing ook die vriendelikheid van ons land se mense (wat so anders is as die ou suur gesigte van baie uitlanders). Hy gee erkenning aan ons diverse samelewing; aan eiesoortige plekname soos Kieliekrankie.

“Dit is plekname en disse wat jy net hier sal kry en wat op ’n manier tot kultusstatus verhef is,” steek Gerard tong uit vir al die verlooptes en afvalliges.

Die musiek het ook ’n Afrika-ritme wat goed met die lirieke saamsmelt. Dit is asof ’n mens na die tom-di-tom-klop van Afrika en die geskreeu van sonbesies luister.

Gerard beskryf dié liedjie ook as ’n storie van uithouvermoë, genade en liefde vir ’n land wat nie maklik kan verdwyn nie

Dit is ook waarom hy sing: …” Afrika is in my bloed.”

Gerard, wat as prokureur praktiseer, het twee jaar gelede sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf met die enkelsnitte Enkelouer Ma en Motte en Kerse gemaak. Sedertdien het nog ’n enkelsnit, Ou Seun, uit sy pen verskyn. Al die snitte is baie goed deur plaaslike radiostasies en die publiek ontvang.

Gerard, wie se stem met goedgehoute Ierse whiskey vergelyk kan word, het eers later in sy lewe begin om van sy gedigte te toonset en musiek daarvan te maak. Iets wat voordelig vir die kunstenaar is, want saam met volwassenheid kom die diepte van die liriek wat net ’n aanwins vir die Afrikaanse musiekbedryf kan wees.

Ek gat nêrens is ’n liedjie wat ons iewers in ons harte kan bêre; dit is ’n liedjie wat tong-uitsteek vir die “landsverraaiers” wat vanuit hulle goedverligte apartments graag kritiek lewer oor al die slegte dinge wat in die land gebeur.   

Leave a Reply