Skip to main content

Daar is op die vooraand van die T20-Wêreldbeker in Australië groot kommer onder Protea-ondersteuners nadat die Suid-Afrikaanse span se kolwers gister in die derde internasionale eendagwedstryd teen Indië ineengestort het en vir net 99 lopies uitgeknikker is.

Gister se wedstryd was weliswaar nie in dieselfde formaat nie, maar kolfineenstortings begin in alle vorms van die spel algemeen word. Daar is veral kommer oor die kaptein, Temba Bavuma, se kolfvorm.

Bavuma sukkel so dat hy op die veiling vir Suid-Afrika se nuwe T20-franchisekompetisie oor die hoof gesien is en dit opgevolg het deur slegs drie lopies in drie beurte in die onlangse T20-reeks in Indië aan te teken.

Suid-Afrika speel op 17 en 19 Oktober opwarmwedstryde teen Nieu-Seeland en Bangladesj in Brisbane, voor ‘n moontlike openingswedstryd vir die Wêreldbeker-toernooi teen die Wes-Indiese Eilande op 24 Oktober.

Suid-Afrika het ‘n swak rekord in globale toernooie, en kon nog nooit ‘n Wêreldbeker-toernooi wen of ‘n eindstryd haal in witbal-wêreldbekers nie. Die onverklaarbare gesukkel as die groot bekers op die spel is, het die Proteas oor die dekades onder onvergewensgesinde ondersteuners die skeldnaam “chokers” op die hals gehaal.

Hoewel Bavuma ‘n stewige rekord het in die 50-boulbeurt-formaat, waar hy tyd het om ‘n beurt te bou, is dit ‘n ander storie in die kort vorm. Bavuma het vanjaar nog net 64 lopies in sewe beurte aangeteken teen ‘n stadige treftempo van 82,05 lopies per 100 balle.

Leave a Reply