Die regering van Nieu-Seeland het ‘n plan voorgestel om kweekhuisgasse wat deur plaasdiere uitgeskei word, te belas, in die hoop om koolstofvrystellings te verminder as deel van ‘n dekade lange klimaatsverandering-inisiatief, ten spyte van vokale kritiek van landbou-organisasies.
Eerste Minister Jacinda Ardern het die voorstel Dinsdagoggend aangekondig en gesê die plan is die eerste van sy soort en sal Nieu-Seeland op koers plaas om sy teikens vir die vermindering van metaanvrystellings oor die volgende dekade te bereik.
“Geen ander land in die wêreld het nog ‘n stelsel ontwikkel vir prysbepaling en vermindering van landbou-emissies nie, so ons boere sal daarby baat vind om die eerstes te wees,” het sy gesê.
Ingevolge die voorstel sal boere wat aan sekere persentasies vir kuddegrootte en kunsmisgebruik voldoen, verplig word om ‘n fooi te betaal vir metaan- en stikstofoksiedgasse wat deur hul beeste vrygestel word – wat dié plan die onseremoniële, hoewel ietwat misleidende, titel van ‘poepbelasting’ toe-eien (die meeste metaan van koeie word egter vrygestel in die vorm van ‘winde’ wat hulle deur hul kele opbring).
As die plan teen die einde van die jaar finale goedkeuring verkry, sal die belastingbetalings in 2025 begin en elke een tot drie jaar gehef word. Presiese bedrae moet nog bepaal word.
Federated Farmers, ‘n groot lobbygroep, het gesê die belastingvoorstel sal “die ingewande uit Nieu-Seeland se platteland ruk” en “bome laat groei waar plase voorheen was.”
Meer onlangs het boere in Nederland groot betogings gehou om teen soortgelyke emissiebelasting te protesteer. Dié betogings het voortgeduur, met verskeie boere wat verlede maand in hegtenis geneem is nadat hulle ses trekkers in ‘n straat in Den Haag parkeer het en geweier het om te verkas.