Skip to main content

Gert Basson

Die inry-gedeelte by ’n kitskosrestaurant is gerieflik en vinnig, maar daardie braaihoenderboudjie kan jou duur te staan kom as jy daar jou motor kwytraak.

Boewe raak al hoe meer innoverend as hulle gedetermineerd is om jou van jou besittings te verlig en verskeie sekuriteitsmaatskappy en buurtwaggroepe het onlangs waarskuwings uitgereik oor ’n nuwe tendens onder motorkapers.

“Ons begin ’n kommerwekkende tendens sien waar kriminele kliënte by kitskosrestaurante teiken. Sodra jy amper voor in die ry kom, sal ’n gewapende persoon in die motor voor jou uitklim en jou probeer kaap,” sê Charnel Hattingh, woordvoerder van Fidelity ADT.

Volgens haar is daar gewoonlik twee motors betrokke.

“Die motor agter jou verhoed dat jy agteruit kan ry en hulle steel so jou motor.”

In die laaste kwartaal was motorkapings ’n groot kopseer vir die Suid-Afrikaanse polisie en word ’n motor glo elke 22 minute in Suid-Afrika gekaap.

’n Totaal van 5 866 motorkapings is tussen April en Junie 2022 aangemeld. Dit is ’n verhoging van 14% in vergelyking met die 5 146 motorkapings wat dieselfde tyd verlede jaar aangemeld is.

Hattingh het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om waaksaam te wees aangesien motorkapings al hoe meer plaasvind.

Fidelity het onlangs ook ’n hulpgids van nege punte uitgereik vir indien jy ooit ’n slagoffer van ’n motorkaping is:

  • Moenie jou kaper uitdaag nie; wys vir hom jy is nie ’n bedreiging nie
  • Gebruik jou linkerhand om jou sitplekgordel los te maak en jou kar in neutraal te sit
  • Moenie jou motor se enjin afskakel nie
  • Klim stadig uit en moenie enige skielike bewegings maak nie
  • Probeer jou lyf sywaarts te draai om nie maklik deur die kaper raakgeskiet te word nie
  • Beskerm jou kop met jou arms en hande
  • Moenie direkte oogkontak met jou kaper maak nie
  • Neem besonderhede oor die kaper in: hoe het hy gelyk? Wat het hy aangehad?
  • En probeer so kalm as moontlik bly

Leave a Reply