Lawaai wat vrees inboesem
Asof die klank van oorlog nie reeds vreesaanjaend genoeg is nie, het weermagte oor die wêreld klank as ‘n wapen gereeld deur die eeue ingespan. Van die klank van Skotse doedelsakke voor die veldslag van Magersfontein gedurende die Anglo Boereoorlog, die gevreesde Stuka-bomwerpers met hul loeiende sirenes gedurende WO2, en vandag se Pscy-Ops aanslae gedurende moderne oorlog met soniese-klanktoerusting. Die gebruik van klank en musiek in oorlogsituasies strek egter baie verder terug as die afgelope eeu of twee – asook die gebruik daarvan onder ander omstandighede. Gerald Eloff het gaan kyk hoe dit gebruik is om onder die publiek vrees te saai en hoe weermagte omvergegooi is – deur nét die mens se gehoorfunksie uit te buit.
ʼn Wapen so oud soos die berge
Gedurende die sewende eeu was die Kardiane van Thrace, wat vandag in Noordwes Turkye woon by die Golf van Saros, vir hul kavallerie en veglus wêreldwyd bekend. Die ruiters het vir hul eie vermaak hul perde geleer om op die maat van musiek by partytjies te dans.
’n Gevange gedurende die tyd, Naris, het van die dansende perde te hore gekom. Soos deur die Griekse skrywer, Athenaeus berig word, het Naris ontsnap en na sy moederland Bislatia teruggekeer om gereed te maak om oorlog teen Kardia te voer.
Naris het ‘n geheime wapen gehad – ‘n jong meisie wat die fluit baie goed kon speel. Sy leer toe die soldate van Bislatia die liedjies wat by die partytjies by Kardia gespeel was. Naris, gedurende die eerste veldslag teen die ruiters van Kardia, beveel toe sy fluitspelers om dieselfde liedjies te speel wat gedurende die partytjies vir die perde gespeel was – en siedaar! – die perde erken die musiek, begin dans en gooi die ruiters af, wat lei tot ‘n oorwinning vir Naris oor die Kardiane.
Gedurende die vierde eeu v.C. het Alexander die Grote se vyande olifante vanaf Indië vir oorlogvoering gebring, en dié diere se trompetter het die perde mal gehad. Hy het egter geweet dat olifante sensitiewe gehoor en slegte sig het, wat hulle sensitief vir skielike harde klanke maak. Toe Alexander hoor dat die vyand op pad is, het hy sy ruiters met trompette en varke (van alle dinge!) gestuur om die vyand te ontmoet. Die skrille klank van die varke se geskree tesame met die trompette, het die olifante laat spaander en hom ‘n maklike oorwinning besorg.
Oorlogskrete en “huilende” wapens
Oorlogskrete was nog altyd ‘n algemene metode om vyande vrees op die lyf te jaag (dink maar net aan die Haka wat die All Blacks doen voor wedstryde!) Maori oorlogskrete, “Banzai!” die Japanese strydkreet wat gedurende WW2 gebruik is wat beteken: “Lank leef die keiser!”, asook die Ottomaanse soldate se “Vur Ha!” (val aan!). Dan is daar ook die Spaanse “Desperta Ferro!” (Ontwaak die staal!), en laastens die Rebel Yell van die konfederale soldate gedurende die Amerikaanse burgeroorlog.
Vroeë militêre klanktegnologie het ‘n boogpyl bevat wat ‘n vreesaanjaende klank gemaak het. Fluitende, of “huilende” pyle (sjaojian) het uit ‘n klein klankkamer bestaan wat van been gemaak is, wat net agter die pyl se voorpunt gepraktiseer is. Gedurende veldslae, het die “huilende” klank van 1000de pyle die vyand tot waansin gedryf. Van die pyle is gedurende opgrawings in sentraal Asië gevind.
Selfs die boere wou hul ore toedruk
Nick van Zyl, ‘n Anglo Boereoorlog-kenner van Pietermaritzburg, vertel hoe die Skotse regimente gedurende die Anglo Boereoorlog, die Boere Kommando’s lekker ongemaklik met hul doedelsakke voor veldslae gemaak het.
“Al was die Slag van Magersfontein vir die Boere een van die suksesvolle en bekendste veldslae van die Anglo-Boereoorlog, word daar in dagboeke en skrywes van die Boerekrygers vertel dat die klank van die doedelsakke gedurende die veldslag, hulle bitter ongemaklik gelaat het,” vertel van Zyl. “Die vier Skotse regimente het bestaan uit dapper soldate. Die Black Watch, Seaforth and Argyll eenhede, en die Highland Light Infantry se aanslae het altyd gepaard gegaan met Skotse Buglers (jongmanne met dromme en doedelsakke) wat Skotse liedere gespeel het. Dié klanke, het van die boerekrygers ontsenu,” beweer van Zyl.
Die trompette van Jerigo
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Duitsers van die Ju 87 bomwerper gebruik gemaak, ook bekend as die Stuka. Die vreesaanjaende vliegtuig, wat op sy teikens vanuit die lug duik, het sirenes op sy propellers wat die publiek en soldate moes terroriseer, gehad. Die sirenes was bekend as die “trompette van Jerigo”. Daar word beweer dat dié sirenes die Franse soldate, waar die gruwels van die Eerste Wêreldoorlog nog vars in hul geheue was, so ontsenu dat hulle geweier het terug te skiet gedurende aanvalle en bloot net skuiling gaan soek het. Die sirenes is wel later verwyder omdat hulle die spoed van die vliegtuie met 5 tot 10% verminder het.
Musiek as wapens in die moderne era
Musiek was gedurende die Tweede Wêreldoorlog om stres en angs te veroorsaak, gebruik. Die Russe het Argentynse tango’s deur die nagte gespeel om die Duitsers uit die slaap te hou. Die Amerikaners het deur luidsprekersstelsels oorverdowende Rockmusiek gespeel gedurende hul oorname van Panama in 1989, om Generaal Manuel Noriega te ontsetel. In die 2000’s het die Amerikaners weer gebruik gemaak van musiek in Afganistan en Irak om die plaaslike weermag te ontsenu.
Seker een van die mees omstrede gevalle van klank en musiek wat ingespan is, het gebeur in 1993. Die Amerikaanse weermag, in samewerking met die federale wetstoepassings agentskappe, het van onaardige, oorverdowende musiek en klanke gebruik gemaak om die inwoners van die Branch Davian Kultus in Waco, Texas, vir dae uit die slaap te hou, omdat hulle nie die skuiling wou verlaat nie. Die insident het, met ‘n klopjag waar 76 mense gesterf het, onder andere vrouens en kinders, rampspoedig geëindig.
Meer onlangse ontwikkeling in klanktegnologie is meer onheilspellend en word dikwels vir skadebeheer aangewend. Militêre wetenskaplikes van Amerika, Israel, China en Rusland het onlangs erken dat hulle “nie-dodelike” polsende hoë-desibel en lae-frekwensie wapentuig ontwerp het. Voorbeelde sluit tenk-gemonteerde magnetiese toestelle soos soniese vibrasie-kanonne in, wat eerste deur die Amerikaners in Irak in 2004 gebruik is en later deur die polisie teen die publiek gedurende optogte in New York en Missouri.
Sedert 2016, het Amerikaanse diplomate in Kuba, Rusland en China begin ly aan “Havana Sindroom” – wat met vreemde neurologiese breinbeserings verbind word. Die beserings word deur hoë-gedrewe mikrogolf of soniese energiestelsels veroorsaak. Klankgolf geleiers is nie net skadelik op ‘n sielkundige vlak nie, maar kan ook tot brandwonde en lighoofdigheid, en permanente skade aan die binne-oor en moontlike neurologiese en inwendige beserings lei.
Musiek as marteltegniek
Vanaf 1967 tot 1974 het Griekeland onder ‘n militêre diktatorskap gebuk gegaan waar kultuur gebruik is om die populasie te beheer. Kampe is opgerig vir mense wat teen kommunisme gekant is, en die gevangenes was met plaaslike en patriotiese musiek gebombardeer. Patriotiese liedjies soos “Gerakina” was gebruik om Grieke “her-op te voed”.
Die gevangenes beskryf tegnieke waar hulle sensories “oorlaai” was, soos om musiek vir 12 ure aaneen te speel. Die idee was om gevangenes se moraal te breek, sodat hulle verklarings van lojaliteit aan die regering kan skryf.
Gevangenes van Guantánamo Baai en Afghanistan, beweer van konstante blootstelling aan Heavy Metal en Hip-Hop tydens aanhouding. Dié musiek word spesifiek gekies omdat dit teen hul Moslem waardes en geloof indruis. Musiek wat die gevange as “sonde” beskryf het, was dag en nag oorverdowend luid gespeel om hulle te irriteer en wakker te hou.
Nie net op die oorlogsveld nie
Klankwapens word egter nie net op die slagveld gebruik nie. Winkelsentrums het die idee by die weermag geleen deur dat hulle musiek van klassieke simfonieë speel, op frekwensies wat net deur tieners se ore geregistreer word. So hou hulle die rondlopers uit die sentrums. In 2022 het die New Zeeland se regering anti-Covid-19 inenting betogers selfs met liedjies van Barry Manilow verdryf!
Ons is al van restaurante bewus wat vinnige musiek later in die aand speel sodat hulle klante vinniger kan eet sodat hulle kan huis toe gaan– maar dit blyk na bogenoemde dat jy nie verbaas moet wees as jy nie lekker voel na ‘n middaguitstappie in ‘n winkelsentrum nie – jy het dalk iets gehoor waarvan jy nie eens bewus was nie, wat jou gemoedstoestand beïnvloed het. En dit was nié die nuutste popmusiektreffer nie!