Skip to main content

Marinda van der Walt

Om saans te hoor hoe walvisse hul sterte luid teen die water klap, is geen ongewone klank vir inwoners van De Kelders, ‘n woonbuurt in Gansbaai aan die Wes-Kaapse suidkus, nie.  “Dit is wonderlik om weer gereeld hierdie geluid, veral in die stilte van die nag, waar te neem,” sê ‘n ywerige fotograaf en sterrekyker, wat bedags graag met sy kameralens see se kant toe mik om walvisse langs die kus af te neem.  Die afgelope week het hy ook uitstekende foto’s vanuit die navorsingshelikopter geneem tydens die jaarlikse walvistelling wat deur die soogdiernavorsingseenheid van die Universiteit van Pretoria behartig word.

Dié opname word reeds die afgelope 53 jaar gedoen om die suidelike noorkapper-walvis se populasiegetalle met dié van vorige jare te vergelyk.  Die projek is in 1969 deur oorlede prof. Peter Best, ‘n marienebioloog verbonde aan die universiteit, geloods.  Sedert 1979 is foto-identifikasie geïnkorporeer waar die unieke eeltagtige patrone op walvisse se koppe afgeneem is.  Die 53-jaar oue databasis is een van die langste ononderbroke datastelle van enige mariene soogdier, ter wêreld.    Dit stel navorsers in staat om bewegingsvergelykings aangaande grootte, kalftussenposes, oorlewingstatistieke en ouderdom tydens eerste kalwing oor ‘n lang termyn te bepaal.

Die walviseenheid beskik oor ‘n katalogus van meer as 2 600 herkenbare volwassenes sedert die eerste foto’s 42 jaar gelede geneem is.  Voordat dit met die menslike oog vir finale waarneming uitgesoek word, help ‘n gerekenariseerde herkenningsfunksie met die eerste fase van uitkenning.

Tydens ‘n voorlopige opname wat in Augustus tussen Hermanus en Witsand gedoen is, het dit getoon dat daar vanjaar meer walvisse as sedert 2019 is.  248 diere met kalwers (496 individueel) en 40 walvisse wat alleen swem, het die getal op 536 oor die wyduitgestrekte kuslyn gebring.  Dit is sowat die helfte meer as in 2021, maar steeds laer as die getal suidelike noorkapper-walvisse wat dié tyd van die jaar deur navorsers verwag is.

Daar was ‘n reuse afname in getalle in 2015, 2016 en 2017 en in 2018 ‘n bo normale opwaartse telling, wat die volgende jaar weer gedaal het.  Die grootste afname was in 2010, maar sedertdien toon getalle dat slegs vroulike diere, wat gereed is om geboorte te gee, hul tog na die Suid-Afrikaanse kuslyn voltooi.  Volgens data kalf walvisse tans elke vier tot vyf jaar en nie soos vorige statistieke aandui, elke drie jaar, nie.

Die Oktober-getalle is pas uitgereik en 304 volwassenes met kalwers (608 individueel) en 50 enkel walvisse is aangeteken.  ‘n Toename van 82 sedert die Augustus-opname.

Die projek word befonds deur TotalEnergies in samewerking met Silvercross Helikopters en  gesteun deur die bewaringsgebied, De Hoop, Denel Overberg, privaatinstansies en -persone op die roete.  Permitte word onder streng voorwaardes deur die Departement Bosbou, Visserye en Omgewingsake uitgereik en spesifieke permitte betreffende mariene bewaringsgebiede geld.

Die walvismigrasie lok jaarliks duisende besoekers.  Toeriste vanuit Israel, Duitsland, Frankryk, Australië en Nieu-Seeland asook binnelanders wat die Wes-Kaap as vakansiebestemming gekies het, was die afgelope naweek nie teleurgesteld in die walvisskouspel wat op hulle gewag het nie.  Die weer het ook mooi saamgespeel en bootondernemings wat walviskyktoere op see aanbied, was bedrywig.

Leave a Reply