Sonnette Lombaard
Die groen lande van Natal was die agtergrond van vele veldslae wat ons land se geskiedenis gekarteer het. Vandag het die aandag geskuif na Pietermaritzburg as hoofsetel van KwaZulu-Natal waar die inleiding van ‘n nuwe hoofstuk in ons landspolitiek geopen het. Wat ook die pad pavlei vir oudpresident Jacob Zuma om tot die landspolitiek terug te keer.
Op Paul Kruger se verjaarsdag is ‘n verdere belangrike inskrywing in ons geskiedenisboek gemaak toe oudpres. Zuma begin het om sy naam in ere te herstel ná verskeie regstryde. Die 80-jarige Zuma is Vrydag uit korrektiewe diens vrygelaat toe sy vonnis van 15 maande gevangenisstraf verstryk het. Met sy straf dus uitgedien, kan hy nie terug tronk toe gestuur word om sy vonnis vir minagting van die grondwethof agter tralies uit te dien nie.
Zuma het vandag in erns begin met sy eie regstryd om sy naam weer skoon te kry om tot die Suid-Afrikaanse politiek terug te kan keer. Slaag hy daarin, kan hy vorentoe die rol van ‘n simboliese vaderfiguur in die politiek speel. Slagspreuke soos Isikhondlakhondla, wat sterk en fiks in Zoeloe beteken, en Amandla! het opgeklink toe die Zoeloe-leier, wat ondanks sy jare vars en fier voorgekom het, en sy gevolg vanoggend by die KwaZulu-Natal Hooggeregshof opgedaag het.
Die privaatvervolging van Zuma teen die staatsadvokaat Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan is ‘n deurbraak in ons reggeskiedenis siende dit ‘n oudstaatshoof is wat die eerste keer sy grondwetlike regte as burger beskerm. Downer is die aanklaer in verskeie van die staat se sake teen Zuma. Hy het na bewering ook onwettig private inligting oor Zuma se gesondheid aan Maughan vir ‘n storie gelek.
Voorts ontvou die hofsaak teen die agtergrond van ‘n intense ANC-magstryd tans, asook ‘n sensitiewe oorgangstyd in die landspolitiek wyl die stryd tussen die Zuma- en Ramaphosa-faksies in die ANC vooruitgang in Suid-Afrika rem. Die hofsaak maak selfs buite ons landsgrense opslae aangesien Ramaphosa deur Zuma as getuie gelys is. Dit sal die eerste keer wees dat die twee politieke ysters mekaar só in die openbaar aandurf. Ramaphosa sal na verwagting veral sy handelinge as adjunkpresident onder Zuma moet verduidelik.
Die saak het reeds tot verskillende siviele sake gelei. Een daarvan is ‘n dringende aansoek van News24-joernalis Maughan wat ook vandag hier inderhaas eerste aangehoor is. Daarin versoek sy die hof om die vervolgsaak te skrap en voer aan dat haar werk as joernalis in gedrang is weens verdagmakery en boelie-taktiek van die Zuma-span. Dié saak is tot Desember uitgestel.
Daarna het die aksie na die hoofhof verskuif vir die hoofsaak, oftewel Zuma se private kriminele vervolgingsaak. Advokaat Dali Mpofu vir Zuma, het aan die hof gesê dat die twee regspanne ooreengekom het dat die verskillende siviele sake op 8 en 9 Desember aangehoor word. Voorts is ingestem dat die hoofsaak van die privaatvervolging dan op 2 Februarie 2023 sal volg indien die aansoek om dit uit te gooi, faal. Dit gee genoeg tyd vir uitsprake in die siviele sake, het hy betoog.
Albei sake sal waarskynlik weer in Pietermaritzburg aangehoor word.
Daar was groot vreugde toe Zuma ná die tyd ‘n geesdriftige skare van sowat 2000 mense op ‘n plein oorkant die hofgebou toegespreek het. Hy het net in Zoeloe gepraat en ook gedans en is telkens luid en lank deur die skare toegejuig. Hoewel gewapende polisielede oral wag gehou het, het alles vreedsaam en vrolik verloop.
‘n Glimlaggende Zuma omring van sy veiligheidswagte, het met sy vertrek aan Die Waarheid gesê dat hy ‘n gelukkige en vry man is en slaggereed om sy naam te herstel en om vir die eerste keer die volle waarheid van wat agter die skerms gebeur het met die volk te deel.
Die Zuma-kamp ry die golf van Suid-Afrikaners wat poegaai is vir al die rompslomp en agteruitgang in die land. Hulle begeer die waarheid en wil weer die land heropbou met die geld wat die werklike staatskapers van die landsburgers geroof het, het Walter Niedinger, ‘n lid van Zuma se regspan, bygevoeg.
Twee van Zuma se grootste ondersteuners was vandag in die hof. ANC-veteraan Carl Niehaus meen Zuma verdien soos elke ander Suid-Afrikaner die reg om sy privaatheid te beskerm. Hy is ook oortuig hy kan steeds ‘n beduidende rol in die landspolitiek speel.
Louis Liebenberg, bekende sakeman in die diamantbedryf, het agterna gesê hy is bly die saak is nou onderweg. “Dis ‘n kernsaak vir alle Suid-Afrikaners. Dit gaan baie dinge op die lappe bring en verduidelik wanneer oudpres. Zuma eers begin praat.
“Dit gaan ook oor mediavryheid. Dis kern in ‘n demokrasie maar terselfdertyd het die media die verantwoordelikheid om objektief en ewewigtig verslag te doen en dieselfe wette as ander landsburgers te gehoorsaam.
“Tweedens, sal dit ook pres. Ramaphosa eindelik in die openbaar tot verantwoording roep. Dis nodig om weer beheer te kry en orde te handhaaf en ons land op koers te kry,” benadruk Liebenberg.
Cannot wait to see outcome
Interesante tye, wat voor ons is