Skip to main content

Korrespondent

Openlike tonele van sabotasie en die vernietiging van infrastruktuur het gister afgespeel in verskeie hawestede regoor Suid-Afrika toe werknemers van die staatsbeheerde logistieke maatskappy, Transnet, met ’n skielike werkstaking begin het.

Sover afgelei kan word het die onrus niks te make met die beplande staking van die United National Transport Union (Untu) nie.

Volgens ’n verklaring van Untu wat vroeër vandeesweek uitgereik is, mag geen van hul lede betoog of aan enige soortgelyke aksie deelneem nie.

Arbeiders wat aan gister se openbare verset deelgeneem het, het egter nie doekies omgedraai nie, en het in etlike gevalle die eiendom van private ondernemings gebruik om skade aan te rig.

In Richardsbaai, onder meer, het ’n sementtrok gemengde gruis oor ’n besige pad uitgestort terwyl verkeer ’n draai daarom moes ry.

Elders, ook in Richardsbaai, is die ingang na die hawe met boomtakke versper.

Die ZA Security Alert-groep van die Wêreldbank het ’n waarskuwing aan lede uitgestuur om hulle oor die betogings bedag te maak.

“Versigtigheid moet toegepas word in die nabyheid van fasiliteite onder Transnet se bestuur weens industriële aksie,” het die boodskap gesê.

Benewens Richardsbaai, was daar ook betogings by Durban en Kaapstad se hawens.

Selfs die vissershawe van Houtbaai is ontwrig deur betogers, het ZA Security gesê.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gesê hulle weet van nie van die betogings nie.

Hulle het versoek dat videomateriaal van die onrus wat wyd op sosiale media versprei is ook na hulle toe aangestuur word.

Die vermoede dat die rep en roer dalk fopnuus is, is egter die nek ingeslaan deur die Road Freight Association (RFA).

Die padvervoervereeniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, het in ’n verklaring uitgereik deur die RFA gepleit dat die betogings onmiddelik gestaak moet word.

Hy’t gesê die tonele by die hawens waar Transnet-werknemers aandadig is aan geweld en die vernetieging van infrastruktuur soos paaie, “is glad nie goeie nuus nie”.

“Ons moet verstaan as Suid-Afrikaners dat waar ons ongelukkig is met indiensnemingsvoorwaardes, ons só optree dat dit nie werk en geleenthede van ander Suid-Afrikaners vernietig nie – dat dit nie die beeld van Suid-Afrika vernietig nie.”

Hy’t die betogings betreur en gesê die opruimingswerk wat benodig sal word, sal invoere en uitvoere benadeel en die land se verskaffingsnetwerk vertraag.

Terwyl die skade aan paaie en private eiendom aangerig is, was daar juis ’n Transport Forum in Johannesburg waartydens Dr Joash Megota van die Universiteit van Johannesburg die hoë onkoste van logistiek in Suid-Afrika belig het.

Hy’t gesê 56% van vervoermaatskappye se omset word aan onkostes spandeer, juis vanweë vertragings by Transnet se hawens en oneffektiewe infrastruktuur.

In ’n poging om moontlike versekeringseise van gister se betogings te kortwiek, het Transnet intussen force majeure verklaar.

Dit is ook steeds onduidelik of die betogers Untu-lede is.

Die meer militante South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) het intussen aangedui dat hulle van plan is om ook te staak.

Dit kon nie bevestig word of dit lede is van Satawu, ’n filiaal van die Congress of South African Trade Unions, wat verantwoordelik was vir gister se tonele van geweldadige industrële aksie nie.

Leave a Reply