Skip to main content

 

Isaac Cloete

Ná ‘n rompslomp en gesukkel is Mej. Rolstoel SA se opmars na die internasionale verhoog en hopelik nog ‘n titel eindelik verseker.

Die skoonheid van Nababeep in die Noord-Kaap, Tamelyn Bock (26), glimlag breed nadat haar assistent, wat ook haar verloofde is, se visum Maandag goedgekeur is. Bock is in November laas jaar gekroon as die eerste Mej. Rolstoel SA.

Sedertdien het haar pad as skoonheidskoningin met kronkels verloop – daar was vreugdes, maar dit was ook nie net rose en maanskyn nie.

Eerstens het sy geen kontant as prysgeld ontvang nie. Sy het wel ‘n paar pryse van borge ter waarde van ongeveer R70 000 gekry. Dit sluit in ‘n nuwe rolstoel, kussing, tablet en slimfoon.

Daarteenoor het die huidige Mej. SA pryse ter waarde van R4 miljoen gewen, waarvan R1 miljoen in kontant is.

Bock, wat ‘n kwalifikasie in korporatiewe kommunikasie verwerf het, sukkel steeds om ‘n permanente werk te kry.

Volgens haar het sy ‘n jaar gelede by ‘n plaaslike myn ‘n werksonderhoud mondelings gedoen en is daarna dié werk belowe. Nadat sy lank vir die skriftelike bevestiging gewag het, moes sy toe terloops verneem dat iemand anders intussen dié pos gevul het.

Die myn se verweer later was dat hulle nog nie gereed is om mense met gestremdhede aan te stel nie. Bock het die saak hierna na die CCMA geneem. Die saak is op 14 September op Springbok aangehoor. Intussen mag sy nie verder daaroor uitwei nie totdat die uitslag bekend gemaak word.

Die jongste terugslag was toe haar assistent Eddie Balie se visum na Mexiko vir die Mej. Wêreld Rolstoel-kompetisie op 26 September afgekeur is. Slegs háár visum is goedgekeur.

Ná druk vanaf die media asook regsmenings en -hulp, is Eddie se visum eindelik Maandag goedgekeur. Net soos baie ander Namakwalanders, is sy baie opgewonde hieroor.

“Ons is baie bly dat alles nou agter die rug is, want nou kan ek ons land oorsee gaan verteenwoordig.”

Die twee ligpunte te midde van die afgelope paar maande se gesukkel was haar onlangse verlowing aan Eddie. Die ander vreugde was die bekende sakeman, Louis Liebenberg, se skenking van R50 000 aan haar.

Intussen het Bock diegene wat namens haar geld ingesamel het, versoek om dit asseblief aan haar te besorg. Dit sluit ‘n gemeenskapsradiostasie en individue in. Verder wag sy steeds vir die beloofde ondersteuning van die departement van sport kuns en kultuur van die Noord-Kaap.

Donateurs wat haar wil help, kan haar kontak by 0713158220.

2 Comments

Leave a Reply