Omring met Franse sjiek, blom Engelse roos waarlik
Mrs. Harris Goes To Paris
Romantiese drama
Met Lesley Manville, Isabelle Huppert, Lambert Wilson, Alba Baptiste, Lucas Bravo, Rose Williams en Jason Isaacs.
Sonnnette Lombaard
Die vermaakbedryf is soos die res van die mensdom gefikseer op jonkheid en met voorkoms. Hoe verfrissend dus dat die plaaslike fliekkringloop tans genoeg keuses bied waar die hoofspelers en storielyne verby Hollywood se sell-by-date strek.
Die bekoorlike Mrs. Harris Goes To Paris wat vandag begin draai, is deel van fliekvlooie se bederf tans met keuses van lekker grootdoekvermaak met ouer sterre stewig in die hoofrolle. Daar is die wonderlike kunskringloopwenner Good luck to you, Leo Grande met die skitterende Emma Thompson in die hoofrol as die middeljarige Engelse weduwee wat ‘n jonger man vir seks huur om ná ‘n vaal huwelik lyflike genot bevrydend te kan geniet. Hollywood se reuse-romcom Ticket to Paradise met Julia Roberts en George Clooney teenoor mekaar wys reeds, asook Top Gun: Maverick met die vuurwarm middeljarige skermromanse tussen Tom Cruise en Jennifer Connelly.
Mrs. Harris Goes To Paris is ietwat meer besadig as bogenoemde flieks maar bied ewe veel pret en het die bonus dat dit afspeel in die hartjie van die Franse modemekka. Dit in die dekade ná die Tweede Wêreldoorlog en nogal spesifiek in die beroemde Christian Dior se modehuis waar ons ouer heldin Ada Harris (Lesley Manville van o.a TV se The Crown) betower word.
‘n Droomtabberd deur Dior wat die oorlogweduwee Ada as skoonmaker in Engeland in een van haar welaf-kliënte se huise sien, laat haar swymel. Sy wis haar wolke se rante is steeds pienk en dat dit nooit te laat is om jou drome vlerke te gee nie. Sy begeer so ‘n pasgemaakte sprokiesrok en sit haar hart daarop om genoeg te spaar om die kanaal te kruis om met haar hardverdiende kontant ‘n ontwerperskepping te gaan koop.
Ná aanvanklike terugslae kom haar droom tog in die visier en bewandel sy wel die Franse hoofstad se strate op soek na die huis van Dior. Waar sy kennis maak met die snobistiese huisdirekteur madam Claudine (Franse veteraan Isabelle Huppert), asook die rekenmeester André (Lucas Bravo, ook in Ticket to Paradise te sien), en die mooi model Natasha (die pragtige Portugees Alba Baptiste).
Die draaiboek is aangepas uit Paul Gallico se roman uit 1958 Mrs. ’Arris Goes to Paris. Dit het as musiekblyspel op die verhoog gedebuteer en was al op die klein kassie. In die TV-fliek in 1992 was Angela Lansbury en Omar Sharif in die hoofrolle. Dis ‘n mooi huldeblyk aan modemeester Christian Dior, wat in 1957 – dieselfde jaar waarin die fliek afspeel – aan ‘n hartaanval beswyk het.
Draaiboekskrywer en regisseur Anthony Fabian se sprokie klop met eietydse energie oor die waarde van drome doelgerig najaag, vriendskap en om outentiek te wees. Dis tydens die pandemie geskiet en hy en sy hele span bring hulle kant in die grootdoekweergawe maar grootoog Manville is die hoofster. Haar sprankelspel wen jou oor en ‘n mens hou saam met haar hartvas van die oomblik dat sy die towerbeligte Albert-brug wat Chelsea met Battersea verbind en maak haar wedervaringe mee in die najaag van haar avontuurlike sprokie.
Die fliek en storie herinner sterk aan die soortgelyke loketwenner van nog ‘n ouer Engelse vrou Shirley Valentine (1989) wat spokiesagtig waters oorsteek (hier na Griekeland) op soek na ontwykende hartsgeluk.
Buitendien wie sê sprokies het ‘n oudomsbeperking of vervaldatum? Vergeet van jou verjaarsdag se nommer, trek jou pienk skoene aan en sprei jou ontsnapvlerke na Parys … wat hier met ‘n guitige bloerooihart klop.