Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Eens geskiedkundige en opvoedkundige baken is waarskynlik weens brandstigting verwoes.

Dit is die gerugte wat nou sterk die rondte doen nadat die Hoërskool Garies in September feitlik heeltemal afgebrand het.

Brandweerspanne van verskeie dorpe moes toe gaan help om die brand onder beheer te bring. Garies het nie ‘n brandweerdiens nie.

Coenie Coetzee, die streekskoördineerder van die Vryheidsfront Plus (VF+) in Namakwaland voel sterk teleurgesteld hieroor. Hy het gesê: “Luidens ‘n voorlopige ondersoek het die skool by drie plekke gelyktydig gebrand. Dit is brandstigting.”

Intussen is inwoners boos omdat die brandbestrydingswatertenk van die dorpie onder ‘n peperboom geparkeer staan. Die rooi brandweerwa staan sonder wiele op bakstene en bak in die son. Beide is glo jare gelede aan die Kamiesberg munisipaliteit (KBM) geskenk, maar nooit gediens of onderhou nie.

Die burgemeester, Susarah Nero, het op TV vertel dat die KBM nie geld het nie.

Party inwoners glo egter die benarde posisie van die munisipaliteit is as gevolg van swak finansiële bestuur. Die belastingbetalers se geld word verkwis, glo hulle.

Die departement van onderwys het na ‘n besoek onderneem om 11 mobiele klaskamers beskikbaar te stel. Dit behoort vanaf 11 Oktober beskikbaar te wees, volgens Geoffrey van der Merwe, ‘n woordvoerder van die departement.

Stories dat die skool op drie plekke aan die brand gesteek is, lê reeds die hele dorp vol. Baie inwoners stem saam, maar beweer dat die Garies-polisie alles geheim wil hou. Hulle het in elk geval baie min vertroue in die polisie, het hulle vertel.

Baie inwoners het vroeër bespiegel dat tikkoppe moontlik iets te doen gehad het met die brand. Die dorpie sukkel geweldig met ‘n dwelmprobleem, vertel bekommerde ouers.

Die voorsitter van die gemeeskapspolisieforum, Petro Willems, het intussen vertel dat laerskoolleerlinge die laerskool op 1 Oktober aan die brand gesteek het. Die vuur kon gelukkig betyds geblus word.

Volgens die polisie-woordvoerder, kapt Olebogeng Tawana, wag hulle nog vir die finale verslag van die forensiese ondersoek.

Intussen kan die publiek die skool kontak indien hulle enige bydraes wil maak. Behalwe finansies kort die skool ook skryfbehoeftes, skootrekenaars en skoonmaakmiddels, het die skoolhoof, mev Fagmieya  January, vroeër vertel.

Leave a Reply