Skip to main content

Marinda van der Walt

Gansbaai – Wen is lekker, maar sporthengel se lekkerte strek baie verder as ‘n medalje of trofee in die hand.  Die kameraderie begin reeds ‘n dag vooraf by die bootloting, die vroegoggend-donkerte toustaan om die bote een-een die water in te kry, sonsopkoms oor die see, visgate soek en die besige dag op ‘n sowat 7-meter lange skommelende ski-boot.  Alles tel:  seetoestande, vernuf en ‘n hele skeut geluk.

Die Kleinbaai Interprovinsiale Bodemvis hengeltoernooi wat jaarliks deur die Overberg Bootklub gereël word is een van die hoogtepunte op die sporthengelkalender in die Suid-Kaap.  Vanjaar het mans-, dames- en juniorspanne van Grens, Westelike en Oostelike Provinsie asook Suid-Kaap ingeskryf – met nege skippers wat hul vernuf en bote beskikbaar gestel het om deelnemers uit te neem.

Belinda Fischl, wat deel uitgemaak het van Grens se damespan en die toernooi loshande gewen het, vertel dat hulle behoorlik in oorlog met die talle robbe was wat hul vis aan die lyn afgesteel het.  Belinda se individuele puntestand was 35 meer as haar naaste teenstander, Maverick de Beer van die OP Black-span.  Jaime Lee Manthe van Grens was in die derde plek.  Die drie se totale punte was onderskeidelik 118,57; 83,52 en 75.99.

Grens se damespan het met die louere weggestap (315,41 punte), met WP  Junior tweede (271,15) en Grens Mansspan derde  (246,04).

Skipper Corrie Dercksen met sy boot Seaduction was eerste gekeur, gevolg deur Ian Viljoen met Genisis en Colin Joubert met Haven.

Die organiseerder van die toernooi en onder-voorsitter van die Overberg Bootklub, Riaan van Staden, het gesê dit was die eerste keer dat spanne nie saam op een boot uitgegaan het nie.  Hulle het elke dag op ‘n ander boot saam met ‘n nuwe groep provinsiale hengelaars uitgevaar.  ‘n Proeflopie wat uitstekend gewerk het en groot verrassings ingehou het aan die einde van elk van die drie kompetisiedae.

Die wenners van die verskillende spesies was Belinda Fischl met ‘n rooisteenbras (4,28kg) en ‘n knorhaan (1kg), Jaime Lee Manthe (Grens) met ‘n hotnotsvis (1,2kg) en roman (3,21kg), Jesse Lester (OP Dames) met ‘n rooistomp (4,16kg),  Raynard Els (OP Swart) met ‘n silwervis (2,34kg), Ossie Sauermann (WP Senior) met ‘n geelbek (1,56kg) en Luke Truter  (WP Junior) met ‘n snoek (3,58kg).

Tanya Lotter van die OP Damespan het na afloop van die toernooi gesê: “Ons het nie die medaljes gekry nie, maar vriendskapsbande gebou wat lewenslank sal hou.”

Leave a Reply