Skip to main content

Korrespondent

Terwyl Suid-Afrika se toerismesektor steier om te herstel van die skade wat aangerig is deur die staatsinperking tydens die Covid-19 pandemie, het een van die land se grootste trekpleisters ’n ernstige knou weg na gister se koelbloedige moord in die Laeveld.

Dit volg na ’n Duitse toeris noodlottig gewond is tydens ’n skietvoorval op die R538 op pad na die Krugerwildtuin se Numbihek. Die toeris is intussen geïdentifiseer as Jorg Schnarr (67) van Fulda in Sentraal-Duitsland. Sy vrou, Vera, was saam met hom en ‘n ander egpaar toe hy geskiet is.

Volgens ’n amptelike vrystelling was die oorledene agter die stuur van ’n voertuig saam met drie ander toeriste toe hulle in die Masoyi omgewing buite Witrivier voorgekeer is.

Brigadier Selby Mohlala het gesê die Hyundai HI waarin die toeriste gery het was op pad Mdluli Safari Lodge toe, toe hulle teen omtrent 4:30nm deur drie verdagtes in ’n Volkswagen Caddy gestop is.

Die toeriste is blykbaar beveel om die motor te verlaat, maar die bestuurder het inderhaas die deure gesluit en, sover verneem kan word, ’n desperate poging aangewend om weg te kom.

Daar is gevolglik op die insittendes losgebrand en die bestuurder is in die bors gewond.

Die motor was toe reeds in trurat en het eers sowat 100 meter verder teen ’n muur tot stilstand gekom.

Volgens Mohlala is die toeris op die toneel dood, en het die verdagtes op die vlug geslaan sonder om enigiets te roof.

Intussen is die Duitse pers vol van wat gister gebeur het buite die wildtuin, een van die mees gesogte bestemmings vir Duitse toeriste aan Suid-Afrika.

Stern, Tagesspiegel, BILD, Spiegel en ander druk- en aanlyn nuusdienste het almal benadruk dat een van hul landsburgers “geskiet” (erschossen) is.

Etlikes opskrifte het uitbasuin dat die toeris “vermoor” is (getötet).

Stern het geskryf dat daar vrese bestaan dat die voorval “’n negatiewe impak” op toerisme kan hê.

“Suid-Afrika, met sy sowat 60 miljoen inwoners, is ’n gewilde toeristebestemming vir Duitsers, juis vanweë sy talle nasionale parke.”

Linda Grimbeek, voorsitter van die Kruger-Laeveld-sakekamer, het gesê die familie van die oorlede word goed na omgesien, en dat alles moontlik gedoen word om die verdagtes aan te keer.

’n Bedrag van R50 000 sal deur die sakekamer uitbetaal word vir enige informasie wat sal lei tot suksesvolle vervolging.

Enige persone met informasie oor gister se aanval word versoek om Crime Stop te skakel by 08600 10111.

Leave a Reply