Skip to main content

Marinda van der Walt

Dit is Toerismemaand en daar kon nie ‘n meer positiewe aankondiging vir die toerismebedryf gemaak word as dat ‘n passasierskip in Desember-maand in die Overstrandse Walkerbaai anker gaan gooi nie.  Dit is die eerste keer dat so ‘n groot passasierskip in dié gebied sal aandoen en beloof om die ekonomie ‘n broodnodige hupstoot te gee na die verbysterende afname in besoekersgetalle wat die Covid-inperkings vanaf 2020 tot gevolg gehad het.

Passasiers sal land toe gebring word vir daguitstappies wat fietsry, haaiduik-, walviskyk- en krokodil-duikekskursies, wynproe en algemene verkenning van hierdie mooi deel van ons land insluit.

Wêreld Toerismedag is op 27 September gevier met die tema:  Heroorweeg Toerisme.  Dit is ook toerisme- en erfenismaand.

Dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrandse Munisipaliteit en afgevaardigdes van haar burgemeesterskomitee, het die lenteseisoen luisterryk op ‘n sonnige en windvrye dag in Hermanus aangekondig waar die dorp se walvisroeper, Bulelani Nigidi, die klanke van sy kelphoring oor Walkerbay laat beier het.

Dié gebied wat van Hermanus tot by Gansbaai strek, is wêreldwyd bekend as die beste bestemming om walvisse van die land af te besigtig.   Die walvisseisoen duur van ongeveer Mei tot Februarie en vanjaar se getalle stel nie teleur nie.

Dr. Rabie het gesê dat sy optimisties is oor die toename in besoekersgetalle en dat belanghebbendes hulle gereed moet maak vir ‘n bedrywige feesseisoen.  Sy het voorts gesê dat mense vanoor die wêreld uitsien om te reis en dat die Overstrand alles bied wat ‘n toeris voor kan vra.

Sy moedig Suid-Afrikaners aan om in hul eie land te reis ter wille van volhoubaarheid ten opsigte van werksgeleenthede, wat ook sal lei tot die herstel en groei van toerisme in ons land.

Leave a Reply