Skip to main content

As jy ‘n regte tawwe Tienie is vir wie die Comrades al ‘n bietjie maklik geword het, het Die Waarheid vandag goeie nuus vir jou: daar’s ‘n hele paar wedlope wat jou broek sal laat bewe. Dirk Lotriet het na jare weer sy hardloopskoene uit die kas gepluk en droom groot.

Ek het na jare weer begin draf, en dit gaan moeilik. Ek het vanjaar al ‘n 5km en ‘n 10km-wedloop voltooi, en albei kere was ek by die eindstreep maar vaal om die kiewe. Ek vermoed die taaiste wedlope op aarde vereis bietjie meer as wat my hardlooptalent kan voorsien:

Die Barkley

Soos die legendariese, eksentrieke Barkley Marathons, wat elke jaar in Frozen Head State Park in Tennessee gehou word. Die roete van een van die twee wedlope bestaan uit drie rondtes van 20 myl (32 km) elk vir ‘n totaal van 97km – maar dit is net die “pretdraf”.

Die “ware” wedloop word oor 160 km in die dag en nag, in sonskyn en sneeu, deur bosse en op grondpaaie beslis, maar sommige deelnemers beweer die totale afstand is tot soveel as 220km.

Dit word as een van die taaiste ultramarathons ter wêreld beskou en sedert 1995 kon nog net 15 hardlopers uit sowat 1 000 deelnemers die wedloop voltooi. Die meeste jare maak niemand die wedlope klaar nie.

Die Barkley is beperk tot 40 hardlopers. Vereistes en tye om te kwalifiseer is ‘n noukeurig bewaarde geheim met geen besonderhede wat in die openbaar geadverteer word nie. Potensiële deelnemers moet ‘n opstel skryf oor “Waarom ek toegelaat moet word om in die Barkley te hardloop.”

As jy die eerste keer gekeur word om deel te neem, moet jy ‘n nommerplaat van jou land saambring as deel van die toegangsfooi.

Hardlopers wat al voorheen deelgeneem het, moet iets soos ‘n wit hemp, sokkies of ‘n flenniehemp saambring. Hierdie inskryffooi verskil elke jaar. Elke deelnemer moet ook ‘n pakkie Camel-sigarette as deel van hulle inskrywingsfooi skenk.

Daar is nie ‘n definitiewe wegspringtyd nie. ‘n Uur voor die wegspring blaas die wedloopdirekteur op ‘n skulp, en sodra hy ‘n sigaret opsteek, begin die wedloop.

Deelnemers moet bladsye uit ‘n boek op die roete skeur om te bewys dat hulle nie koek gesny het nie. Daar kan enigiets van nege tot veertien boeke op die roete wees, en die bladsy wat jy uitskeur, se bladsynommer moet dieselfde as jou wedloopnommer wees.

Die Big Dog

Gary Gary Cantrell, die ou wat die Barkley aanbied, hou ook elke jaar die Big Dog op sy plaas in Tennessee. Daar’s nie ‘n afstand of ‘n wenstreep in die Big Dog nie – jy moet 6,7km binne ‘n uur hardloop – uur na uur na uur. Totdat net een hardloper oorbly.

Die wenner hardloop gewoonlik meer as 400km.

Marathon des Sables

Die Marathon des Sables word beskou as die moeilikste wedloop op aarde.

Dit word oor ses dae oor 251km – ongeveer so ver soos ses gewone marathons – in een van die wêreld se mees onherbergsame omgewings, die Sahara-woestyn, beslis.

Fisiek is dit ses dae se hardloop oor eindelose sandduine en witwarm soutvlaktes, met wat jy nodig het om te oorleef op jou rug. Geestelik is dit die uiterste uitdaging – ‘n ervaring soos geen ander in die wêreld nie.

Antaktiese Marathon

Net om by die wegspringstreep van die Antarktiese Marathon aan die voet van Ellsworthberg te kom, is op sigself ‘n uitdaging. Eers moet jy in Buenos Aires kom, en van daar ‘n kort vlug na Ushuaia in Argentinië neem, gevolg deur ‘n bootrit na die Suidpool, dan per rubberboot tot by die wegspringstreep.

Dit is ‘n taai wedloop oor ‘n sneeubedekte roete met temperature rondom -12 grade temperature. Jy het koueweer-drafskoene, winddigte baadjies en lae, lae en nog lae hardloopklere nodig.

Die wedloop is gewild – dit is gewoonlik twee jaar vooruit bespreek omdat daar net honderd plekke beskikbaar is.

Daar word ook ‘n 100k wedloop aangebied vir die hardloopsnobs wat dink ‘n standaard-marathon is net te maklik.

Iditarod Trail 1000

Die meeste ultramarathons lyk soos ‘n draffie in die bos in vergelyking met Alaska se Iditarod Trail 1000 uitnodigingswedloop.

Dit is nie vir naweekdrawwers nie. Hardlopers moet oor 1 000 myl (1 600km) in van die moeilikste terrein op aarde meeding, insluitend stormsterk winde, swaar, heupdiep sneeu, gereelde sneeustorms, modder, sneeublindheid en reën in temperature so laag soos -50° F – alleen.

Daar is minimale ondersteuningspanne gedurende die hele wedloop. Vir die laaste 800 km moet mededingers 100% selfstandig wees, al hul eie toerusting pak en sleep na die eindpunt.

Die Self-Transcendence

Die Self-Transcendence word nie in een of ander eksotiese uithoek van Moeder Aarde gehou nie – dit word om een straatblok in Queens, New York, gehardloop.

Om om een blok te draf, klink maklik – dit is nie. Dis uitmergelend, want deelnemers moet in 52 dae 5 649 keer om die blok draf om die 4 989km van die wedloop te voltooi.

Dit toets mededingers se geestelike krag net soveel as hul fiksheid. Die roete is kort en alledaags, wat beteken dat hardlopers teen die verveling sowel as seer bene moet veg.

“Die ernstige atleet moet geweldige moed, fisieke stamina, konsentrasie en die vermoë hê om moegheid, verveling en geringe beserings te verduur,” sê die wedloopwebwerf.

En vir Suid-Afrikaners wat ‘n plaaslike uitdaging soek: Die Kalahari Augrabies Extreme Big Daddy

Die Kalahari Augrabies Extreme is ‘n ikoniese selfsorg-woestynwedloop oor 250 km. Onder woestynhardlopers regoor die wêreld staan die wedloop bekend as die “Big Daddy”.

Dit vind plaas in die Kalahari-woestyn met die roete wat die Augrabieswaterval Nasionale Park en private landerye dek.

Die moeilike terrein sluit rotsagtige vlaktes, sanderige rivierbeddings, rotsbesaaide koppies en uitgestrekte grasvelde in.

Leave a Reply