Skip to main content

Swanger vroue wat met dwelmmisbruik sukkel, plaas nie net hul eie geestelike en fisiese gesondheid in gevaar nie, maar ook dié van die ongebore kind wat hulle dra.

Volgens dr. Bavi Vythilingum, ‘n spesialis psigiater wat by Netcare Akeso Kenilworth praktiseer, kan alkohol en ander verslawende middels ‘n verwoestende impak op ‘n groeiende fetus hê, met potensieel ernstige ontwikkelingsgevolge.

“Studies dui daarop dat vroue wat alkohol tydens swangerskap gebruik dikwels aan geestesgesondheidstoestande soos depressie, angs of ander afwykings ly. Vroue wat nie kan ophou drink nie, alhoewel hulle weet dat dit skadelik vir hul babas kan wees, het geestesgesondheidsorg dringend nodig. Dit kan hulle help om beter na hulself om te sien sowel as die babas vir wie hulle binnekort verantwoordelik sal wees.

“Verskillende verslawende middels het almal spesifieke gevolge tydens swangerskap, maar in die algemeen beïnvloed hulle almal die groei van die fetus negatief. Veral alkohol kan daartoe lei dat babas gebore word met fetale alkoholsindroom en ander fetale afwykings, wat uiters algemeen in Suid-Afrika voorkom, maar dikwels nie gediagnoseer word nie,” sê sy.

“Fetale alkoholsindroom sluit kenmerkende gesigsafwykings in, soos klein oë en ’n gladde rif tussen die bolip en neus, asook ’n aantal ander interne en eksterne fisiese misvormings. Dit beïnvloed verder brein- en sentrale senuweestelselontwikkeling en lei tot talle gedragskwessies tydens die kind se grootword-jare.”

Dr Vythilingum verduidelik dat ander fetale alkoholspektrumafwykings minder duidelik fisieke simptome kan hê, maar dit kan steeds ‘n vernietigende impak op die geestelike ontwikkeling van ‘n kind hê. “Hierdie kinders sal ‘n mate van intellektuele gestremdheid hê en gevolglike gedragskwessies ondervind, soos swak aandagspan en ‘n onvermoë om te konsentreer, probleme met die aanleer van taal, wiskundige uitdagings en om agter te wees in hulle skoolopleiding.

“Dit sal dikwels gepaardgaan met impulsiewe gedrag en swak oordeel, wat namate hulle ouer word, daartoe kan lei dat hulle geestesongesteldheid ervaar en moontlik ‘n lewe van misdaad betree. Omdat hulle dikwels angs en depressie ervaar, kan hulle hulself tot dwelmmisbruik wend as ‘n manier om die harde realiteite van hul lewens te probeer hanteer.

“Daar is ‘n kommerwekkende gebrek aan bewustheid rondom fetale alkoholspektrumafwykings, wat in Suid-Afrika dikwels ongediagnoseer bly. Dit is ondanks die feit dat hierdie versteurings ‘n hoofoorsaak is van generasie dwelmmisbruik in baie van ons gemeenskappe.

“Daar is ook ‘n wanopvatting dat dwelmgebruik tydens swangerskap beperk is tot laer inkomstegroepe, maar die realiteit is dat dit op alle vlakke van die samelewing voorkom. Die gevolglike afwykings is heeltemal voorkombaar en hang af van die moeder se keuses, aangesien die ongebore baba deur die moeder se bloed aan stowwe blootgestel word.”

Dr Vythilingum beklemtoon die belangrikheid daarvan om te weet dat dit nooit te laat is om die gebruik van alkohol en ander middels tydens swangerskap te stop nie, want fetale breingroei duur voort regdeur die swangerskapsperiode. Hoe gouer jy stop, hoe beter sal jou kind se kanse op gesonde ontwikkeling wees.

“Swangerskap kan ‘n stresvolle tyd en moeiliker wees vir diegene wat reeds bestaande geestesgesondheidsbekommernisse soos depressie en angs het. Dit is van die uiterste belang vir jou welstand en dié van jou kind om daarop te fokus om alkohol en ander middels te vervang met gesonde meganismes, soos asemhalingsoefeninge, stap of swangerskapjoga.

“Voorts is dit noodsaaklik om professionele geestelike hulp te soek as jy vind dat jy nie in staat is om op te hou om middels tydens jou swangerskap te gebruik nie, sodat jy kan begin om die onderliggende bekommernisse aan te spreek en praktiese en doeltreffende maniere te vind om dit te bestuur.

“Die ontwikkeling van jou baba, sowel as jou eie geestestoestand, sal verder ondersteun word deur gesonde voedselkeuses en die handhawing van ’n gebalanseerde dieet ryk aan vrugte, groente, maer proteïene en vesel, terwyl verwerkte voedsel so ver moontlik vermy word. Baie mense wat alkohol gebruik om te destres, is onbewus daarvan dat dit in werklikheid stresvlakke mettertyd verhoog.

“Deur te oefen en jou liggaam van goeie voeding te voorsien, gee jy jouself en jou baba ‘n sterker fondament.

“Laastens, vroue wat sekere medisyne vir hulle gesondheid moet neem, soos chroniese medikasie of antidepressante, moet nie ophou om dit te gebruik wanneer hulle ontdek dat hulle swanger is nie, maar moet met hulle dokter praat oor watter medisyne veilig is en watter nie.”

Sy stel voor dat vroue wat tydens swangerskap met depressie of middelafhankliheid sukkel, ‘n berader nader of met een van die volgende groepe in aanraking kom:

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se Middelmisbruik 24-uur hulplyn

0800 12 13 14

Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep

011 234 4837

Plaaslike Alkoholiste Anoniem en Narkotika Anoniem-groepe kan ook hulp verleen.

Leave a Reply