Skip to main content

VatVas Dansorkes

Kitaar Verlange

“Dansmusiek is om op te dans. Ons musiek het ’n bietjie van ’n boereorkes-aanslag, maar dis minder tradisioneel,” vertel die musikante van die bekroonde VatVas Dansorkes.

Dié gewilde groep se nuutste enkelsnit Kitaar Verlange vanaf die gelyknamige album Kitaar Verlange is nou beskikbaar. Dis hulle vierde album.

Die VatVas Dansorkes word beskou as een van die beste dansorkeste in Suid- Afrika. Die orkes is in 2017 gestig, en is al met Ghoema, Aitsa! en SAMA toekennings bekroon. Hulle snit Kam in die kous het vanjaar ’n Afri Indie-toekenning vir die beste boereorkes gekry.

Die rou kitaarklanke en vastrap-skoffel-skoffelmusiek sorg vir die orkes se unieke klank. Selfs mense met twee linkervoete wil dans wanneer hulle musiek opklink.

Kitaar Verlange het ’n amperse weemoedige ritme, maar ook ’n vars kontemporêre klank vir hedendaagse musiekliefhebbers. Die snit handel oor mense wat lankal gegroet het, maar ons onthou hulle altyd.

Die 14 snitte op die CD is aanlyn beskikbaar, maar die orkes het ook besluit om dit in oorspronklike CD-formaat uit te gee. Dis wonderlik om weer die harde plastiek onder jou vingers te voel, die CD-omslag te beloer, en dit in jou motor se CD-speler te druk. Om die country-rock-, kitaar- en tromklanke deur jou venster te laat stroom …

Rudie Grobler, Martin Viljoen, Johan Duvenhage en Koos van Dyk verklap baie mense luister wel nog na CDs. “Dis baie meer persoonlik. Ons verkoop die CD ook by vertonings sodat die publiek ’n stukkie van VatVas huis toe kan neem.”

Die dansorkes het veral in die grendeltydperk bekendheid verwerf toe hulle die dansliefhebbers aanlyn laat skoffel en vastrap het.

Terwyl die dansbane van kuierkroeë, skure en stadsale deure moes toetrek, het die groep sy Facebook-blad gebruik om lewendige konserte te hou. Hulle kon egter nie wag nie om weer voor lewendige gehore op te tree nie en nou is hulle terug op die verhoog!

Die musiek op die CD is benewens die snit Kitaar Boogie, oorspronklike Afrikaanse snitte, gekomponeer deur die hoofkitaarspelers Rudie en Johan.

“Elke lid werk saam aan elke nuwe liedjie en elke snit word geskaaf tot VatVas-eksieperfeksie,” verklaar die groepslede eenparig trots.

Die snitte neem jou op reis na die verlede – na die sestigerjare – toe vroue-met-haarsalonkrulle en mans-met-skerppuntskoene op Saterdagaande in klubs geskoffel en geboogie het. Met snitte soos Vaaldam toe, Stoute Ogies en Volstruis Vastrap is die boodskap dat solank ons kan dans, is dinge dooddollies.

Die groepslede stam uit verskillende generasies. “Ons musiek is juis vir jonk en oud bedoel. Dis waarom ons musiek ’n country-rock aanslag het. Dis dansmusiek met ’n ekstra Taekwondo-skop.”

Dié groep se professionele en stylvolle voorkoms op die verhoog is te danke aan hulle stylkonsultant. Elke lid het ‘n eie persoonlikheid en voorkeure, maar op die verhoog vorm hulle ’n eenheid.

“Die klere en kleure komplimenteer elkeen se voorkoms en figuur. ’n Stylvolle uitrusting dui ook op professionaliteit.”

Dié manne, almal Oos-Randse boorlinge, het sowat vier jaar gelede saam begin musiek maak en sedertdien kry hulle country, rock ‘n roll en boeremusiek mense landwyd aan die wikkel.

Rudie en Johan bespeel die elektriese kitare, Martin is op die baskitaar en Koos is op die tromme.

Die CD is ’n musikale meesterstuk en nog ’n paar toekennings vir die onderskeie snitte wink.

Leave a Reply