Skip to main content

‘n Aanvaller, klip in die hand, dreig ‘n trokdrywer terwyl ‘n makker reg staan om ‘n motorband in die vragmotor se pad in te rol, alles deel van ‘tarriefinvordering’ in die Kongo.
Foto: Fesarta

Spanning loop hoog in Zambië se Copperbelt provinsie waar oorgrens-vragmotorbestuurders weier om die Demokratiese Republiek van die Kongo binne te gaan uit vrees vir hul lewens – en Suid-Afrikaanse trokdrywers is vermaan om die grenspos van Kasumbalesa te vermy.

Die situasie het reeds verlede week ontstaan na verskeie geweldadige aanvalle op bestuurders wat vrag karwei na die myngebiede in en om Lubumbashi.

Beeldmateriaal van bebloede bestuurders is wyd versprei op sosiale media en volgens anonieme bronne (*) het twee werknemers van langafstand-vragvervoerondernemings aan hul wonde beswyk.

Die Federation of East and Southern African Road Transport Associations (Fesarta) kon nie die sterftes bevestig nie, maar het wel gesê die situasie suid van die grens is uiters plofbaar.

Mike Fitzmaurice, Fesarta se hoof-uitvoerende beampte, het gesê regeringsamptenare het vergeefs Saterdag ’n vergadering by die grenspos bygewoon met die hoop om gemoedere te kalmeer en vragvervoer deur die grens aan te moedig.

Fitzmaurice het egter gesê trokbestuurders het genoeg gehad van lippetaal.

Hy het verduidelik dat hulle jare lank nou al gestop word, orals langs die pad sodra hulle die Kongo binnegaan, net om van kontant beroof te word – dikwels terwyl vuurwapens op hulle gerig word.

In sommige gebiede het dit die gereelde gebruik van aanvallers geword om vragmotors te dwing om snelheid te verminder.

Sodra die trokke stadig genoeg ry, word motorbande voor hulle ingerol deur boewe bewapen met klippe of aanvalsgewere.

“Dié ‘tolhawens’ kom so gereeld voor wetstoepassers probeer nie eers meer om iets daaromtrent te doen nie,” sê Fitzmaurice.

Trouens, in baie gevalle ondersteun al wat uniform dra die geleentheid om ‘munt te slaan’ uit die situasie.

“Die Kongo is ’n kriminele institusie,” het Fitzmaurice gesê.

“Drywers word vir elke denkbare rede gestop: deur die polisie, verkeersbeamptes en soldate, almal met een doel voor oë – om omkoopgeld te vra. En as hulle gevra word om drywers te beskerm teen onwettige tol-insamelaars, word niks daaromtrent gedoen nie.”

Een verskaffer van langafstandvervoer het beaam dat dit nou al jare so aanhou.

“Omkoopgeld is gewoonlik 50 of 100 Amerikaanse dollar, indien nie meer nie. Dis bo en behalwe die gewone padtariewe wat ons moet betaal en wat sowat 300 dollar kan beloop.”

As gevolg van die risiko verbonde aan padvervoer in die Kongo, veral anderkant Lubumbashi na die myne van Kolwezi en Likasi toe, is sommige maatskappye besig om te onttrek.

Intussen het die situasie by Kasumbulesa ’n opeenhoping van vragmotors veroorsaak wat amper 50 kilometer suid tot by Chingola strek.

“Dis erg,” het ’n ander oorgrens padvervoer-operateur gesê.

“Dit raak al hoe moeiliker om in plekke soos die Kongo te werk, maar mens kan ook nie anders nie. Die aanvraag na minerale soos koper en kobalt hou vervoermaatskappye besig en die geld is goed, maar gevaarlik!”

Veral vir Suid-Afrikaanse trokdrywers.

“Hulle moet eerder van grensposte soos Kasumbalesa af wegbly, veral nou,” het die operateur gesê.

Met verwyssing na die aanvalle op drywers van buurlande wat werk in Suid-Afrika se logistieke sektor omdat dit blykbaar plaaslike werksgeleenthede belemmer, het Zambië en die Kongo se drywers nie veel ooghare vir plaaslike drywers nie.

“Hulle hou nie daarvan hoe hul eie drywers hier behandel word nie. En dit sluit drywers van Namibië in, seker omdat hulle met Suid-Afrika vereenselwig word. Drywers van hierdie lande moet liefs wegbly uit Zambië uit op die oomblik.”

* Die oorgrens-transportondernemings wat toegestem het om met Die Waarheid te praat, het anonimiteit verkies uit vrees vir intimidasie.

Leave a Reply