Skip to main content

Corlia Kruger

Dis heerlike lente, die winter is verby … en bye is nou weer aktief, sê ‘n byeboer van Pretoria.

Die nuwe byeseisoen het reeds in Augustus afgeskop toe die aalwyne begin blom en heuningbye ‘n mega-oes van stuifmeel en nektar kon geniet.

Dié hardwerkende insekte is veral aktief in warmer weer aangesien hulle sukkel om behoorlik te vlieg as die temperatuur onder 13 grade Celsius daal.

‘n Byeboer, Nico van der Merwe, sê daar is reeds talle nuwe byekorwe opgemerk in die noorde van Pretoria.

“Dit raak ’n probleem vir mense wanneer swerms bye in residensiële gebiede intrek.

“Ons pleit by mense om nie die bye te probeer uitwis deur hulle met insekdoders te spuit nie. Bye is meestal rustig en sal niemand pla nie, maar kan aggressief raak wanneer hul nes bedreig word,” sê hy.

“Verlede jaar het ses mense van Centurion in die hospitaal beland, nadat hulle self probeer het om ’n byekorf uit ’n kragboks te verwyder.

“Daar is ’n gevaarsone met ‘n 300 meter radius om ’n byekorf, en dis uiters gevaarlik vir onkundiges om self van die bye ontslae te raak.”

Nico sê mense moet gebruik maak van geregistreerde byeboere om swerms veilig van ’n perseel te verwyder.

“Dis belangrik dat mense seker maak die byeboere is geregistreer by die departement van landbou, bosbou en visserye,” voeg hy by.

“Pasop vir diegene wat aanbied om byekorwe deur die dag te verwyder of nie party-aanspreeklikheidsversekering het nie.”

Byeboere soos Nico stem saam dat bye ’n hoogs belangrike rol in ons ekosisteem speel.

Ongeveer 75% van gewasse lewer beter opbrengste as diere hulle help bestuif. Van alle diere is bye die mees dominante bestuiwers van wilde- en gewasplante. Hulle bestuif meer as 90% van die wêreld se top 107 gewasse.

Met ander woorde, bye is noodsaaklik vir die groei van baie plante, insluitend voedselgewasse.

Indien jy ’n swerm bye gewaar in jou erf, soek jou naaste byeboer op op sosiale media – maar maak net seker hulle is geregistreerd.

Leave a Reply