Skip to main content

‘Jerome’ se raad aan jong akteurs

Mense ken hom aan sy rolle in Isidingo as Chico en in 7de Laan as Jerome. Terence Bridgett het al vele toekennings agter sy naam en het geen bekenstelling nodig nie – hy is ‘n veteraan-akteur in die Suid-Afrikaanse mediabedryf. Min mense weet egter dat hy net so gemaklik in die regisseur, vervaardiger en skrywerstoel sit. Gerald Eloff gesels met Terence oor die bedryf, watse advies hy vir jong akteurs het en hoe die toekoms van dié bedryf lyk.

Wat is jou gunsteling medium om in te werk? Film, teater of televisie?

Dis moeilik om te onderskei – ek hou van al drie. Ek glo wel in wat die veteraan-aktrise Wilma Snyman gesê het: “Teater is die kuns van die volronde akteur”. Ek hou van al drie mediums, want hulle het uiteenlopende gereedskapsbokse. Alhoewel, die behoefte om ‘n storie met integriteit en opregtheid te vertel bly vir al drie mediums steeds dieselfde.

Verkies jy toneelspel bó regie? Of verkies jy jou werk as akteur bo die van regisseur?

As jy ‘n akteur is, is jy die “verf op iemand anders se kwas”. As ‘n regisseur of vervaardiger het jy oor die doek, of kunswerk totale beheer. Ek dink die beheervraat binne my geniet regie en vervaardiging baie, maar as ek eerlik is met myself, bly my eerste liefde toneelspeel.

Glo jy dat ‘n goeie regisseur baat vind uit persoonlike toneelspeel-ondervinding?

Dit is ‘n interessante vraag. Ek het al saam met beide gewerk. Ek dink daar is ‘n mate van beter begrip by regisseurs wat al voorheen toneelgespeel het. Dit kan beslis as ‘n bonus gesien word. Hulle weet watter knoppies om te druk om die regte resultate te kry. Elke akteur, kom ons sê maar, se sleutelbord verskil – en jy moet weet watter knoppies om te druk vir die gewenste resultate.

Watse advies het jy vir jong akteurs?

Die belangrikste eienskap volgens my, is diversifikasie – hoe om jouself diensbaar te maak, hoe om employable te wees. Jy moet bereid wees om te skryf, om te ontwerp, te vervaardig en om te regisseur – nie om net te werk ‘n as akteur nie. Dis baie belangrik dat jy verstaan hoe die hele masjien aanmekaar gesit is – nie net jou bydrae binne dit nie. Onthou ook dat elke rol wat jy speel, ‘n oudisie vir jou volgende werk is. Mense kyk of jy betyds is, hoe jy omgaan met mense, hoe jy ‘n krisis hanteer – dit speel alles ‘n rol. Respek is ook baie belangrik, hoe jy mense wat deel is van die masjien behandel – die grimeerkunstenaars, die mense in die kostuumafdeling – al daai mense is belangrik vir ‘n produksie se sukses. Laastens, wat nuwe akteurs moet onthou: Dis nie die akteur met die meeste talent wat die langste loopbaan gaan hê nie, dis die akteur wat die betroubaarste is.

Voel jy Suid-Afrikaanse draaiboeke is op ‘n gelyke voet met internasionale draaiboeke? Dit voel soms of oorspronklikheid kortkom. Stem jy saam?

Ek dink nie ons skiet tekort nie. As gevolg van die verskillende lae van ons geskiedenis, moes baie van die pynlike stories eers vertel word. Ek dink ons het ‘n punt bereik waar unieke Suid-Afrikaanse stories begin deurskemer, met unieke Suid-Afrikaanse narratiewe.

Wat moet ‘n plaaslike akteur doen om ‘n deurbraak in Hollywood te maak? Was dit nog altyd jou droom ook?

Ons het so ‘n globale village geword, dat dit deesdae baie makliker is om ‘n deurbraak te maak, omdat mense meer toegang tot die internasionale mark het. Snaaks genoeg het ek nog nooit daai droom gekoester nie. Ek was gelukkig daarmee om net ‘n groterige vis in ‘n klein dammetjie te wees. Ek het wel West End drome, om deel te wees van ‘n teaterproduksie op West End.

Sing en tree jy steeds op in teaters? Jy was ook deel van die Drakensberg seunskoor?

Jip, ek was ‘n Drakie toe ek tien jaar oud was! Dit het my lewe verander. Ek sê altyd dat ek my tegniek by die Universiteit van Kaapstad geleer het, en my dissipline en werksetiek gedurende my tyd by die Drakensberg Seunskoor. Ek sing steeds en probeer deel van musiekblyspele ten minstens elke twee jaar wees. Ek is ook deel van die Drakensberg Old Boys koor, wat bestaan uit gewese Drakies. Ons is die huidige wêreldkampioene vir manlike kamerkore, wat ons in 2018 by die wereldkorespele gewen het. Ons gaan ons titel volgende jaar in Korea verdedig.

Watter stad lê jou nader aan die hart – Johannesburg of Kaapstad?

Die twee stede is só verskillend. Ek is al 25 jaar in Johannesburg nadat ek van Kaapstad hiernatoe verhuis het, en dit het my ‘n hele ruk geneem om aan te pas. Ek is mal oor die energie wat Johannsburg uitstraal. Dis steeds Egoli, al het ons al die goud uit die grond gehaal. Ons vind nou net die goud op ander plekke – soos in mense. Hier is nie ‘n berg of oseaan om jou na te wend nie, hier vind jy sieligheid in mense. Die mense is baie innemend. Dit gesê: Is ek ook ‘n toegewyde Kapenaar. Ek gaan binnekort terug na die Moederstad toe om in ‘n sepie te speel, seker na ‘n ewigheid sedert ek Johannesburg toe verhuis het. Ek gaan in Tamboerskloof bly, dis vrek opwindend.

Vir watter rol wat as jy akteur vertolk het, herken die publiek jou die meeste op straat?

Dit hang van die demografie – ek was al deel van al die sepies. Afrikaanse mense erken my as Jerome van 7de Laan en Chico van Isidingo. Wat ek wel in die laaste tyd agterkom het, as dat mense my al op my naam begin noem. Dit is lekker, want mense sien my nie net bloot as ‘n karakter nie, maar as ‘n mens.

Is daar genoeg werk in Suid-Afrika vir akteurs, buiten vir sepies?

Daar is tans baie werk vir akteurs, nuwe, onafhanklike vervaardigers laat baie dinge gebeur. Asook, daar is gemoedsrus wat werksekuriteit bring – om ‘n kontrak vir ‘n jaar te teken om in ‘n sepie te speel. Dis nie lekker om in die nag wakker te lê en te wonder hoe jy vir goed gaan betaal nie. Vryskutwerk is nie vir sissies nie.

Wat beskou jy as die toekoms van film en televisie – hoe het die bedryf verander sedert jy begin werk het?

Ek dink dis ‘n baie opwindende tyd wat voorlê. Ons moet die skuiwe ten opsigte van nuwe tegnologie en platforms aangryp.

Oor watter eienskappe moet ‘n goeie akteur beskik?

Ek gaan hier ‘n paar eienskappe kortliks noem: Intelligensie, emosionele intelligensie, waarnemingsvermoë, empatie, dissipline, en laastens en weereens, respek.

One Comment

Leave a Reply