Skip to main content

Sug. Dis nou weer dáárdie tyd van die jaar… Bosluise en vlooie verskyn asof uit die niet, en verpes mens, dier én gevlerktes. Daar was ook al vlooie op reptiele aangetref.

Het jy geweet dat vlooie regoor die wêreld aangetref word? Ja, selfs Antarktika het ‘n vlooisoort.

Vlooie is klein en gemeen. Hulle dra siektes soos tifus en builepes oor as hulle op rotte, muise en marmotte geleef het. Boonop veroorsaak hulle lintwurms en bloedarmoede, en kan dermatitis op mens en dier veroorsaak.

Vlooie kan hoog en ver spring en teel aan soos … wel … hase, soos die gesegde lui. Eintlik is hulle erger as hase. Vlooiwyfies kan tot 20 eiers per dag lê. Alhoewel hulle bloed benodig om voort te plant, kan hulle tot ‘n jaar oorleef sonder om bloed in te kry.

Bosluise is erger as vlooie, en mens en dier kan gebyt word sonder dat hulle dit besef vanweë die narkotiese en anti-inflammatoriese verbindings in hul speeksel. Menslike immunstelsels tel waarskynlik ook nie die bedreiging van die byt op nie omdat dit proteïne bevat, nes ons in ons liggame het. Hul speeksel ‘sement’ hulle ook vas aan hulle prooi, en dis hoekom ons sukkel om hulle te verwyder.

Hierdie ongewenste pestilensies kan vir jare sonder bloed oorleef, wat dit moeilik maak om van hulle ontslae te raak.

Hulle is so bloeddorstige dat daar ‘n soort bosluis is wat selfs op ander bosluise teer!

Net die blote gedagte aan hierdie parasiete laat my oral jeuk…

Hierdie bosluis-bloedsuiers is verwant aan spinnekoppe. Kan jy jou indink hoe die wêreld sou wees as hulle webbe kon spin?

Leave a Reply