Skip to main content

Al hoe meer Suid-Afrikaners span die afgelope jare daggaverwante rome en druppels as medisinale raat in – met wisselende sukses. Dirk Lotriet het probeer uitvind of dit ‘n wonderkuur of net nog ‘n kwaksalwer-gier is.

Ek kom nie dikwels in ‘n apteek nie. Ek het nie nodig nie – my vrou is gek oor ons plaaslike apteek en die mense wat daar werk is soos familie vir haar.

Maar onlangs het “hulle” haar kar buite die apteek probeer steel. “Hulle” het dit nie reggekry nie, maar “hulle” het die deurslot gebreek en die deur so verniel dat ons dit waarskynlik nooit weer sal regkry nie. En haar in die proses so getraumatiseer dat sy nie meer naby die apteek wil kom nie.

Laas naweek het sy by my kom staan. “Kan ek jou ‘n groot guns vra?”

“Hmmm?” het ek geantwoord.

“Gaan asseblief vir my apteek toe. Ek het pille nodig. En kyk sommer vir my of jy iets vir my arm en my hand kan kry. Dis seer en voel soms effe dood en partykeer sukkel ek om my vingers te beweeg.”

Hulle sê jy moenie skete google nie. Natuurlik het ek dit dadelik gegoogle. Volgens die soekenjin kan ‘n string goed die dooie hand en lui vingers veroorsaak – die een so afgryslik soos die ander. Met die gevolg dat ek maar apteek toe gery het. Ek het immers self die afgelope weke hierdie knaende skietpyn in my bisep…

By die apteek het ek gou die pille bestel en die apteker gevra oor iets vir die hand. Hy het voorgestel sy gaan dokter toe, met die gevolg dat ek sommer self in die rakke begin rondsnuffel het. En daar het ek dit gesien: Die een soort doepa na die ander met prentjies van daggablare op. CBD-olie, CBD-druppels, CBD-dit, CBD-dat.

Ek was verstom. Maar nie verstom genoeg om nie sommer dadelik ‘n buisie CBD-room te gryp nie.

By die huis het ek die goed flink in haar bo-arm en elmboog en voorarm en pols en handpalm ingevryf – toe’s die steekpyn in my eie arm weg. Die pyn het nou nog nie teruggekom nie – duidelik het my arm net oefening gekort.

My vrou is nog onseker of die CBD-room regtig help, maar sy meen daar is beslis ‘n effense verbetering.

My verstomming oor die cannabis-muti wat so oral in die apteek rondstaan, het my laat navraag doen by ander mense. Almal middeljarig en geneig tot skete – soos ek.

En die antwoorde was gemeng.

Moenie name noem nie, het een gevra. Jy weet mos hoe skinder die mense…

G van die Noord-Kaap sê hy sou dit nou nie ‘n geneesmiddel noem nie, maar dit is ‘n wondermiddel, want dagga-druppels laat hom baie goed slaap.

C van die Noord-Kaap sê sy het gevind die olie help vir baie skete. Sy gebruik dit vir allerhande pyne en dit help ook vir hoë bloeddruk. “Ek beveel dit ten sterkste aan – dis net baie duur,” sê sy.

M van Namibië sê sy en haar ma en broer sukkel almal met rustelose bene-sindroom en hulle het al elke raat onder die son probeer. “Jare gelede het die druppeltjies ook hulle beurt gekry. Ek en my broer kon getuig van ‘n paar nagte sonder rustelose bene, maar moenie dat die natuur roep in die oggendure nie! Jou verstand is helder, maar jou lyf slinger in die gang af dat dit lyk of jy ‘n rustelose lyf het, nevermind rustelose bene!“

Haar stiefpa het egter ‘n stokkie voor die druppels gesteek. “Ek is in suiwer Afrikaans vertel dat dagga, maak nie saak in watter vorm nie, nie onder hul dak sy rusplek sal vind nie.”

W van Melkbosstrand het dit ‘n paar keer probeer, en elke keer het dit gevoel “of ek buite my lyf is”. Hy meen dit het nie vir hom gewerk nie. “Ek het elke keer gevoel ek is glad nie in beheer van myself, my gevoelens of emosies nie. Nee wat, ek sal dit nie weer probeer nie.”

M van Upington sê sy is vyf jaar gelede met die outo-immuunsiekte Lupus gediagnoseer. “Glo my, jy probeer alles vir die pyn. Ongelukkig help niks, nie eers die dagga-goed nie.”

A van die Wes-Kaap sê hy kry as onderwyser te doen met die gebruik van dagga in sy tradisionele vorm onder leerlinge. “Wondermiddel? Jip, jy wonder wanneer jy weer die hel in gaan raak vir die kinders wat die goed gebruik, want dit is mos legal.

“As dit so aangaan moet ons binnekort aanloopbane bou vir die high flyers wat skool toe kom. Die enigste geneeswaarde wat ek al beleef het is dat ek genees is van my geduld, want die goed krap my dag om!”

Die webwerf cannabisoilsouthafrica.co.za sê daar is ‘n groot verskil tussen CBD-olie en dagga-olie.

CBD-olie, die middels in my apteek, bevat net een uittreksel van die daggaplant wat Cannabidiol genoem word, terwyl dagga-olie al die verbindings bevat.

Dagga-olie kan glo jou kop laat zoem soos die van ‘n daggaroker en sal in dwelmtoetse wys, terwyl CBD-produkte dit nie sal doen nie.

Volgens die webwerf, wat dagga-olie en dagga-setpille (!?) verkoop, kan hierdie produkte gebruik word om kanker, pyn, Chrohn-siekte, veelvuldige sklerose, Alzheimer se siekte, Parkinsons, artritis, depressie en slaaploosheid te behandel.

Volgens navorsing* wat vier jaar gelede gedoen is, kan die CBD-produkte in my apteek vir min of meer dieselfde goed gebruik word.

Die studie deur Jamie Corroon en Joy A. Phillips het bevind dat vroue aansienlik meer geneig is om CBD-produkte te gebruik en dat daggarokers veel minder as gewone mense te vinde sal wees om CBD-produkte te probeer vir siektetoestande.

Maar ondersteuners van CBD- of dagga-olie praat nie een van iets wat na my vrou se lam arm klink nie. Ek dink ek het goed ten duurste gekoop wat nie juis gaan werk nie…

  • Die navorsingsverslag kan hier gekry word

Leave a Reply

error: Content is protected !!