Skip to main content

Don’t Worry Darling

Sielkundige riller

Met Florence Pugh, Harry Styles, Olivia Wilde, Gemma Chan, Chris Pine en Nick Kroll.

Vroulike lis kikker donker rit deur 1950s op

Sonnette Lombaard

Die bed was opgemaak vir ‘n storie wat loer vanuit Hollywoord se lakens en net wag om vertel te word. Want hark nou een van Lalaland se rammetjie-uitnek-sterre, die jong, sexy, serious aktries, die boyband-sanger en ‘n opkomende vroulike ster-regisseur bymekaar en jy kan vuurvonke verwag soos net ‘n droomfabriek dit kan optower.

En so is dit, want teen die tyd dat die donkerfliek Don’t Worry Darling teaters getref het, het dit al ‘n stewige reputasie opgebou as iets wat nie gemis moet word nie. Al is dit net om saam te kan praat oor al die storms wat konstant rondom dit gewoed het.

Daar was groot opgewondenheid toe aangekondig is dat die gerekende Yank-aktrise Olivia Wilde die regiestoel gaan inneem vir ėn ‘n hoofrol sal speel in die sielkundige riller wat in die Amerikaanse woestyn in die 1950s afspeel. Wilde het beïndruk met haar regisseursdebuut in Booksmart (2019) wat resensente en fliekvlooie uitgeboul het.

Sy kies toe die omgekrapte Yank Shia LaBeouf vir die manlike hoofrol teenoor die Engelse roos Florence Pugh (Little Women), in die vroulike een. Diė twee se diva-dorings het gou die stel versuur. Nadat LaBeouf gedros het, vervang Wilde hom met die Engelse boybandsanger Harry Styles van One Direction-faam. Dit sou tot verdere spanning lei want diė twee begin toe ‘n vuurwarm romanse en ná afloop van die skietery verlaat Wilde (38) skandalig haar lewensmaat en twee kinders en trek sak en pak by die jongeheer Styles (28) in sy Engelse herehuis in. Boonop het Wilde en Pugh ook glo gereeld vasgesit, wat daartoe sou lei dat Pugh haar betrokkenheid by die fliek se bemarking drasties ingekort het.

Hoe dit ookal sy, die 26-jarige Pugh, wat kompleet soos ‘n eietydse en wulpse Brigitte Bardot pryk, is die onbetwiste ster van diė fliek en wys haar mede-spelers hoe dit gedoen moet word. Haar sensitiewe spel as Alice wat haar voete probeer vind in ‘n jong huwelik en moet sin maak van ‘n oënskynlike idilliese lewe in ‘n nuwe, verdagte en afgesonderde omgewing tref volskoots.

Sy en manlief Jack (Styles is pure sjarmante seunsgesiggie) is die onskuldige nuwe intrekkers in ‘n sogenaamde droomfamilie-gemeenskap in die Amerikaanse woestyn in die 1950s. Terwyl die inwoners van Victory gou geheg en veral in gelid raak, word hul lewe 24/7 beheer, met genoeg prettige samesyne en gefuifery tussendeur die ernstiger sake.

Dat ‘n slang in diė warm sand van die behuisingsdorpie broei, is gewis. Dis immers die hoofkwartier van ‘n topgeheime projek waar Frank (Chris Pine speel stewig as die slu baas van diė vreemde plaas), die gaping in die 1950s-tydgees waartydens wyd gewaag is, sien en vat. Hy hoop om met menslike breinkrag grense te verskuif. Niks is egter hier soos dit op die oppervlak lyk nie en Frank se “soet” vroutjie Shelley (die eksoties-mooie Gemma Chan van Crazy Rich Asians) en Wilde se naïewe Bunny versteek ook dalk geraamtes …

Die konkel-draaiboek kry gravitas met Wilde se vermaaklike en visueel-bevredigende dokumentering van ‘n tydperk. Haar stel is ‘n singtuiglike fees – ‘n loopplank as’t ware in die middel van die woestyn vir die klassieke modes en heerlike style van die 1950s, van die klere tot musiek en leefstyl. ‘n Car chase met die mooiste ou karre uit die era laat die woestynsand sierlik spat.

Dit kon nie maklik vir Wilde wees om só ‘n stomende stel in bedwang te hou nie. Nogtans rol sy ‘n verdienstelike vermaakproduk uit. Dis jammer al die bohaai doen afbreek aan die meriete daarvan. Dis tog nie aldag dat ‘n vrou in Hollywood kans kry om só donker rit in grootdoekfanfare-styl te bestuur nie. Omring met sterk evalike energie, dis sy dit vol vroulike lis op, en bring dit knap tuis terwyl jy enduit bly raai ..

.

Leave a Reply