Skip to main content

Magnus Carlsen, wat beskou word as een van die beste skaakspelers in die geskiedenis, het sy wedywering met die Amerikaanse tiener Hans Niemann weer laat opvlam deur hom te beskuldig van kroekery in ‘n sterk bewoorde verklaring.

Carlsen het verlede week nuus gemaak toe hy uit ‘n wedstryd teen Niemann onttrek het nadat hy net een skuif gemaak het. Hy het daarna op sosiale media sy besluit verdedig en gesê dit was  om “skaak as spel te help bewaar”.

“Ek weet my optrede het baie in die skaakgemeenskap gefrustreer,” skryf Carlsen (31). “Èk is gefrustreerd. Ek wil skaak speel. Ek wil voortgaan om skaak op die hoogste vlak in die beste kompetisies te speel.

“Ek glo dat kullery in skaak ‘n groot probleem en ‘n eksistensiële bedreiging vir die spel is.

“Tot dusver kon ek net met my optrede praat, en die optrede het dit duidelik gestel dat ek nie bereid is om met Niemann skaak te speel nie. Ek hoop die waarheid hieroor sal uitkom, wat dit ook al mag wees.”

Carlsen het bygevoeg dat hy oortuig is dat veiligheidsmaatreëls wat ontwerp is om kullery deur spelers te voorkom, versterk moet word. En dat hy dit ook “sterk oorweeg het” om aan die onlangse Sinquefieldbeker te onttrek toe hy verneem het dat Niemann ‘n laatuitnodiging ontvang het. Hy het eindelik wel deelgeneem.

Carlsen het voorts opgemerk dat Niemann – wat al erken het dat hy in die verlede in aanlyn-skaakspele gekroek het – blykbaar groot spronge in sy skaakontwikkeling maak, selfs al het dit gelyk of hy “nie ten volle konsentreer op die spel nie”.

“Sy vordering oor die skaakbord was ongewoon, en regdeur ons wedstryd in die Sinquefieldbeker het ek die indruk gekry dat hy nie gespanne was of selfs ten volle op die wedstryd in kritieke tye gekonsentreer het nie. Dit terwyl hy my uitoorlê het op ‘n manier wat ek dink net ‘n handvol spelers kan doen. Dit het bygedra om my perspektief te verander,” skryf Carlsen.

“Ons moet iets aan die kullery doen. Vorentoe wil ek nie teen mense speel wat in die verlede herhaaldelik verneuk het nie, want ek weet nie wat hulle in die toekoms kan doen nie.”

Carlsen het nie uitgebrei oor die metodes wat hy vermoed Niemann gebruik om ‘n onregverdige voordeel te verkry nie, maar bespiegelinge aanlyn meen daar is die moontlikheid dat Niemann ‘n vibrasiemeganisme aan sy lyf gebruik. Dit dui glo vir hom die mees geskikte skuif tydens ‘n wedstryd aan.

In Carlsen se verklaring word ook beweer dat die Moskou-gebore Maxim Dlugy by die beweerde kulleryveldtog betrokke kan wees. Dlugy is in 2017 van Chess.com verban nadat hy ook van kullery beskuldig is.

Niemann het egter bewerings van kullery ontken en sê dat hy enige tyd deursoek kan word om te bewys dat hy nie enige toestelle aan sy lyf wegsteek nie.

“Ek het nog nooit in ‘n persoon-tot-persoon wedstryd verneuk nie. As hulle wil hê ek moet heeltemal kaal uittrek, sal ek dit doen,” het hy gesê.

“Ek gee nie om nie. Want ek weet ek is skoon. As jy wil hê ek moet in ‘n geslote boks speel met geen elektroniese transmissie nie, gee ek ook nie om nie. Ek is hier om te wen en dit is my doel.”

One Comment

  • JC Coetzee says:

    Dis dalk die oplossing om hom in n geslote omgewing uitgesluit van enige frekwensies te laat speel. Ook net die 2 spelers en kameras wat spel dophou.

    Daar is ookbewerings van “there was never any hard evidence that Niemann was using a chess engine to feed him moves during his match. I’m not sure there ever will be. I doubt anyone will ever find the wire, electronic device, or anal beads that Niemann had up his sleeve (or other area) during that game”. Daar word na al sy vorrige wedstryde gekyk en as dit vergelyk word met skywe deur n AI program dan is sy “score” baie na aan 100% teenoor ander groot spelers wat n gemiddeld van 70% handhaaf. Laat mens nogal wonder.

Leave a Reply