Skip to main content

 

Isaac Cloete

Mej. Rolstoel SA se struikelblokke en trane wil nie wyk nie. Tamelyn Bock se nuwe trane is weens die onsuksesvolle visumaansoek van haar assistent wat haar moet vergesel na die Mej. Rolstoel Wêreld-kompetisie in Mexiko later vandeesmaand.

Twee weke gelede het die skoonheid se trane ook gevloei – toe het Bock uit blydskap gehuil nadat die bekende sakeman, Louis Liebenberg, onverwags aan haar R50 000 geskenk het.

Bock, oorspronklik van Nababeep in die Noord-Kaap, pak tans tasse vir Mexiko. Vandeesweek moes sy egter verneem dat haar assistent se visum geweier is. Hy is haar verloofde, Edmund “Eddie” Balie.

Balie en een van die organiseerders van die Mej. Rolstoel SA-kompetisie was Maandag by die Amerikaanse ambassade in Kaapstad om die paartjie se visas af te haal. Hulle moet eers na die VSA reis en vandaar na Mexiko.

‘n Teleurgestelde Bock het aan Die Waarheid gesê: “Nadat die ambassade-personeel met my ‘n onderhoud gevoer het, is my visumaansoek goedgekeur. Met Eddie is nie eens ‘n onderhoud gevoer nie, ten spyte dat ons hulle ingelig het oor sy doel en rol as my assistent tydens die kompetisie.”

Volgens haar het die ambassade-personeel later “op ‘n papiertjie geskryf dat hulle nie genoeg oortuig is nie” dat Balie haar na Mexiko móét vergesel.

Bock is raad-op en rasend omdat sy verlore sal wees in ‘n vreemde land sonder haar verloofde as haar assistent. Sy meen ook dis onregverdig omdat die ander 26 lande se deelnemers se assistente almal saam met hulle na Mexiko mag reis.

Die plaaslike organiseerder het intussen nog dokumentasie en ‘n motivering ingedien om die Amerikaanse ambassade te oortuig dat Balie haar moet vergesel. Hulle wag nou in spanning vir terugvoering hieroor.

Inmiddels het die bekende prokureur, Walter Niedinger, ook onderneem om haar te help om die visum-tamelet betyds op te los.

Bock is steeds vasberade om Suid-Afrika op 22 Oktober by die kompetisie in Mexiko te verteenwoordig.

Vedere goeie nuus is dat ‘n kopermynmaatskappy op haar tuisdorp, Nababeep, aangedui het dat hulle haar ook geldelik wil ondersteun. Sy en dié maatskappy is tans in ‘n CCMA-arbeidsaak betrokke. Die uitslag van die onlangse verhoor word binnekort verwag.

Leave a Reply