Gert Basson
Hoeveel keer moet jy lank en aandagtig dink oor ‘n woord se spelling? Het “onmiddellik” twee d’s en een l, of een d en twee l’e? Wanneer maak jy ’n aanmerking en ’n opmerking? Wanneer skryf jy twee woorde as een en is dit nou huistoe of huis toe?
Of jy nou ’n WhatsApp stuur, ’n geskrewe dokument vir die werk saamstel of dalk jou hand aan ’n boekmanuskrip waag, jou taalversorging sê baie van wie jy is. Ons almal is maar net mens en taalgoggas en flaters is onvermydelik.
Maar, met Beter Afrikaans kan jy speel-speel jou skryf-en taalvaardighede slyp en verbeter!
Beter Afrikaans is ’n gratis digitale taalspeletjie wat die sprekers van Afrikaans help om hulle taalvaardighede op te knap en meer te leer oor die skryf-en spelreëls van die taal.
“Die speletjie is geskoei op die immergewilde Nederlandse weergawe, Beter Spellen, wat tot verskeie ander soortgelyke speletjies gegroei het, waaronder Beter Duits, Beter Frans, Beter Spaans en selfs Beter Bybel – tans nog almal met Nederlandse teks en verduidelikings,” verduidelik Milton Webber, redakteur van Beter Afrikaans.
Die toep werk op ’n eenvoudige en doeltreffende manier. Dis boonop gratis en as jy registreer, kry jy elke week ’n speltoets wat jou slegs twee minute gaan besig hou. Die toets bestaan uit veelkeusevrae. Nadat jy die vraag beantwoord het, ontvang jy ‘n kort verduideliking van die taalreël.
Volgens Milton het Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie, vir Martin van Toll, skepper van Beter Spellen, genader om ’n Afrikaanse weergawe te skep.
“Ek het redelik vroeg al betrokke geraak deur die kopie vir die webwerf te skryf rakende die verskillende kategorieë en verduidelikings,” sê Milton.
“Ek het egter nie vrae opgestel nie. Gerhard het eers self vrae opgestel en toe later mense gekry om te help.
“Toe raak ek weer betrokke. Ek het die vrae aansienlik uitgebrei en standaardantwoorde vir elke soort vraag opgestel om die opstelling van vrae te vergemaklik.
“Gerhard het later ook die kategorie ‘woordsoorte’ – sy sterk punt – bygevoeg.”
Jy kan óf op die webwerf www.beterafrikaans.co.za inteken of die toepassing op jou slimfoon aflaai.
Jy kry dan elke dag ’n e-pos of ’n herinnering op jou selfoon dat die nuwe toets beskikbaar is.
Die toets bestaan uit vier vrae op drie vlakke. Jy moet dan die korrekte antwoord vir elke vraag gee.
As jy klaar is, kry jy ’n telling van hoeveel jy reg gehad het en wat die reël is vir die betrokke antwoord.
Die diens is heeltemal gratis. Vlak 1 is min of meer gemik op laerskooleerders, vlak 2 op hoërskoolleerders en vlak 3 op mense wat elke dag met geskrewe Afrikaans werk.
Volgens Milton bestaan daar soortgelyke taalspeletjies – sommige teen betaling, ander ook gratis.
“Die een ding wat Beter Afrikaans uniek maak, is dat ons ’n verklaring saam met die toets gee nadat die gebruiker die toets gedoen het. Sodoende leer gebruikers die taalreëls en hoe om soortgelyke vrae in die toekoms te beantwoord. Dit is uitstekend vir die klaskamer.”
Nog ’n aspek is dat gebruikers in groepe met mekaar kan meeding, byvoorbeeld twee verskillende klasse op skool of ’n groep kollegas by die werk.
“Dit neem minder as twee minute om ’n toets te doen, wat beteken dat dit feitlik geen invloed op mense se daaglikse roetine het nie.”
Milton meen danksy ruim skenkings van borge is Beter Afrikaans aansienlik uitgebrei en word die speletjie gereeld bygewerk. Navrae van gebruikers word ook tydig beantwoord.
“Ons hanteer egter nie taalnavrae nie, maar enigiemand kan gratis taalnavrae aan die Virtuele Instituut vir Afrikaans, VivA rig by www.viva-afrikaans.org.”