Skip to main content

Alhoewel mense uile as ‘n voorbode van die dood beskou – ouvroustories wat van geslag na geslag oorgedra word – is hulle eintlik een van die mees intelligente voëlspesies op aarde.

Boonop is hulle van groot hulp met betrekking tot plaagbeheer.

Hierdie groot-oog geveerde wonders kan tot 25 jaar oud word, het binokulêre visie – visie deur twee oë met oorvleuelende gesigsvelde, wat goeie persepsie van diepte moontlik maak – en bestaan hoofsaaklik uit twee spesies met onderskeie subspesies.

Om hulle maklik uit mekaar te ken, kyk na die gesig se vorm. Die een spesie (gewone uile) se gesig is rond, en die ander s’n (bos-uile, of “barn owls”) hartvormig.

Baba uile neem ongeveer ses weke om “gespeen” te word en probeer die eerste maal vlieg vanaf hulle sewende week.

Uile het eintlik ongelooflike lang bene, maar dit word verdoesel deur hul plomp lywe.

Alhoewel hulle uiters slim is, is hulle ook uiters lui wat nesbou betref. Uile neem reeds geboude neste oor om hul eiers in te lê.

Uile verveer een keer per jaar. Hierdie proses duur vir ongeveer drie maande, en die hele lyf kry nuwe vere.

Hul nekke het 14 werwels. Mense het sewe, en dis hoekom ons nie ons koppe op ons nekke kan omdraai soos wat uile kan doen nie.

Die kleur van ‘n uil se drie-ledige oë dui sy/haar jagvoorkeur aan. Ja, jy het reg gelees. Wanneer hulle donker oë het, jag hulle eerder in die nag. Dié met oranje oë jag in skemertye, en dié met geel oë is gedurende die dag aktief.

Die drie ooglede in uile se oë het elk ‘n eie primêre funksie. Die boonste ooglid beweeg van bo na onder wanneer die voël sy/haar oë knip. Die onderste ooglid maak toe wanneer die voël slaap, en die derde ooglid, oftewel niktiterende membraan, beskerm uil-oë teen stof en hou dit klam.

Uile se oë beslaan die grootste spasie in hul skedels. ‘n Groothoringuil se oë saam weeg ongeveer soveel soos ‘n gholfbal. Sjoe!

‘n Groep uile word ‘n parlement genoem. Hopelik kan óns s’n bietjie by hulle gaan kers opsteek wat wysheid betref …

Leave a Reply