Skip to main content

Die Departement van Openbare Ondernemings en die regering is daartoe verbind om te verseker dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) groei en dat die Strategiese Aandelevennootskap met die Takatso-konsortium gefinaliseer word.

Mediaberigte verlede week het daarop gesinspeel dat die nasionale lugdiens moontlike likwidasie in die gesig staar indien die transaksie vir die Takatso-konsortium om 51% van die SAL te koop nie voltooi word nie.

Professor John Lamola, die voorsitter van die lugredery se raad, het vinnig na vore getree om die gerugte uit die weg te ruim.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Suid-Afrikaners verseker dat die lugredery na verwagting in die afsienbare toekoms sy bedrywighede sal voortsit.

“Ons doen ‘n beroep op alle regulatoriese owerhede om te help om hierdie proses spoedig afgehandel te kry. Ons wil ook die lojale klante van die SAL verseker dat ons alles moontlik sal doen om te verseker dat die SAL van krag tot krag groei.

“Ons komplimenteer ook die uitvoerende voorsitter, prof. Lamola, direksie en personeel vir die formidabele werk wat hulle gedoen het om die SAL-teenwoordigheid in die mark te laat groei en om ‘n broodnodige diens aan die reisende publiek te lewer gegewe die tekort aan kapasiteit,” het Gordhan gesê.

Die departement het gesê die transaksie vir die konsortium se bod op die lugdiens, is nou in die hande van “relevante reguleerders, insluitend die Mededingingskommissie, Mededingingstribunaal en onderskeie lugvaartowerhede” vir goedkeuring.

“Die herlewing van die SAL sal verseker dat die nasionale lugredery steeds ‘n kritieke rol in die lugvaartbedryf en ekonomie in die algemeen speel deur lugvervoerverbindingsdienste vir beide passasiers en vrag te verskaf, handel en beleggings, toerisme te fasiliteer en werkskepping te bevorder,” het die departement gesê.

Leave a Reply