Skip to main content

 

Watter een van die vier soorte digitale opgaarders is jy?

Met selfone en tegnologie wat onlosmaaklik deel van ons lewe is, duik nuwe, nare gewoontes op wat vir ons nadelig is. Dink maar aan sosiale media-verslawing. Digitale opgaring word net soos fisiese opgaring, met angs en ander geestelike toestande geassosieer. ʼn Onlangse studie het bevind dat vier verskillende digitale opgaarders bestaan: Angstiges, toevalliges, georganiseerdes en by die werkplek. Watter een is jy? Gerald Eloff krap rond in sy inboks en kyk of sy Nokia 3310 laaier steeds in sy kas lê en stof opgaar.

Die media diep gereeld lekker en soms ietwat “grillerige” stories op oor opgaarders – van mense se blyplekke wat volgepak is van en oorloop met ou koerante en ander gemors, so erg dat daar nie plek vir ‘n muis is nie (of eerder, dit word inderwaarheid ‘n teelaarde vir muise!). Daar was selfs ‘n Marie Kondo-gier – waar ‘n dametjie vir mense wys hoe om jou goed te verminder en meer minimalisties te leef. Opgaring strek egter veel verder as net in ‘n blyplek vol twak – dit steek ook kop uit op jou selfoon en rekenaar!

Het jy honderde, miskien duisende e-posse in jou inboks waardeur jy nog moet werk maar waarvoor jy nooit tyd kry of gaan kry nie? Het jy te veel webwerfoortjies (tabs) in jou webblaaier oop wat te belangrik is om toe te maak, selfs al word jou rekenaar se spoed stadiger? Is jou foon se geheue vol? Dan is jy dalk ‘n digitale opgaarder.

Heelwat studies toon dat te veel fisiese goed (of clutter) ‘n nadelige effek op ons produktiwiteit en geestelike welstand het. In vandag se aanlynwêreld, moet ons bewus van digitale clutter wees.

‘n Slimform meningspeiling het bevind dat die gemiddelde persoon tot 40 apps op sy slimfoon installeer, waarvan hulle net die helfte gebruik. ‘n Ander studie beweer dat drie uit vyf mense nooit hul foto’s uitvee nie. Terselfdertyd is bevind dat ons tussen 34 en 44 jaar van ons leeftyd met ons oë op skerms sal spandeer.

Die feit dat mense duisende e-posse hou wat nooit gelees is nie, is al deel van internetgrappies  – maar hoe gesond is dit?

Opgaring is al gekoppel aan angs – dokter Emanuel Maidenberg, ‘n psigiatrie professor van die Universiteit van Kalifornië, beskryf digitale opgaring as ‘n “nuwe weergawe van ‘n ou psigologiese uitdaging”. Net soos fisiese opgaring, kan digitale opgaring ook skadelik wees. En al is die navorsing oor dié neiging nog nuut (die term van digitale opgaring het eers in 2015 gedebuteer), het ‘n navorsingstuk in 2018 gevind dat digitale opgaarders verhoogte vlakke van stres aanvaar. In so mate dat dit nou beskou word as ‘n geestesgesondheidtoestand, soortgelyk as die mense met fisiese opgaringsprobleme.

Te veel data op ons toestelle kan tot onproduktiwiteit lei – maar dit lei ook tot kuberruim risiko’s. Hoe meer data jy stoor, hoe meer kwesbaar is jy vir die verlies van en aan inligting- en identiteitsdiefstal.

Daar is vier verskillende soorte digitale opgaarders, volgens ‘n 2020 studie:

Angstige opgaarders

Boekmerk jy honderde aanlyn-bladsye en stoor jy ou e-posse vir net in geval jy dit eendag gaan nodig hê? Dr. Maidenberg beweer mense gaar ou data op om hulle angstigheid te paai. “Die idee om iets weer in die toekoms te benodig en nie dan toegang tot dit te hê nie, motiveer mense om dit op te gaar,” verduidelik hy. Deelnemers aan die studie het ‘n mate van sekuriteit beleef deur data op te gaar “net vir ingeval”, al is die waarde daarvan onduidelik.

Toevallige opgaarders

Jou inboks is moontlik altyd vol, omdat jy nie weet hoe om dit te bestuur nie. Dit word ook ongeorganiseerde opgaring genoem. Mense in dié kategorie doen dit nie moedswillig nie – hulle weet net nie hoé om dit beter te organiseer nie. “Die mense het ‘n verlaagde gevoel van eienaarskap van die data, wat oor ‘n langer tydperk amper “per abuis” ingesamel is. Die groep is nie noodwendig angstig oor die inligting nie, hulle sien net nie die sin daarin om waardevolle tyd te bestee aan uitvee nie of dit te organiseer, terwyl hulle toestelle steeds werk.

Werksplek-opgaarders

Stoor jy al jou inligting en lêers omdat daar vir jou gesê is, dis belangrik? Dié groep het waarskynlik geen persoonlike erg aan die inligting nie, maar hou dit vir hulle werk se oudits of omdat dit nie aan hulle behoort nie. Maatskappye moedig dit soms aan – aangesien storingsopsies deesdae baie goedkoop is. “Om inligting te bewaar, word gesien as deel van pligte”, verklaar Maidenberg. Hulle voel eers veilig om die inligting uit te vee ná goedkeuring deur hulle bestuurders.

Georganiseerde opgaarders

Het jy ‘n ingewikkelde stelsel waar jy alle inligting wat interessant of bruikbaar is, stoor? Dié opgaarders word ook “data-versamelaars” genoem, omdat hulle bewustelik inligting in goed-georganiseerde digitale lêers stoor. In stede daarvan dat die inligting hulle oorweldig, voel hulle in beheer omdat hulle georganiseerde stoormetodes gebruik. Al weet hulle presies waar al die inligting gestoor is, vorm hulle steeds deel van bogenoemde groepe weens die negatiewe impak van opgaring.

Ander redes vir en vorme van opgaring

Digitale opgaring kom ook voor as mense te geheg aan die inligting raak, sonder om dit eers te oorweeg om dit uit te vee. Dit kan geselsies en foto’s van vorige lewensmaats insluit, teksboodskappe van vriende, of selfs skermgrepe (of memes) wat jare oud is. Gedurende die studie, het mense selfs boodskappe bewaar wat hulle teen mense in die toekoms kan gebruik!

Fisiese digitale opgaring is nog ‘n wesenlike ding. Dink byvoorbeeld aan mense wat selffoonlaaiers, ou selfone en onbruikbare geheuestokkies in bokse opgaar – asook bokse vol ou CDs waarna hulle nooit weer gaan luister nie.

Die negatiewe impak van digitale opgaring

Verlaagde produktiwiteit

Te veel inligting op ons selfone en rekenaars maak die toestelle stadig. Hoeveel keer hoor jy dat iemand se rekenaar of foon “hang”? Heel moontlik te danke aan te min spasie. As jou rekenaar stadig is, beïnvloed dit jou produktiwiteit. Al daai toepassings, programme en lêers op jou toestel wat jy nie benut nie, gebruik digitale stoorspasie.

Verhoogde kuberruim-sekuriteitsrisiko’s

Hoe meer inligting ons stoor, hoe groter is die kanse vir kuberruim-sekuriteitsrisiko’s. Verbeel jouself die skade van kuber-kriminele met 100 van jou lêers pleks van tien. Hoe meer digitale inhoud jy op jou toestelle het, hoe groter is die kanse dat dit sensitiewe inligting sal bevat. Dink aan jou lêers wat dokumente met rekeningnommers, jou ID-nommer of selfs wagwoorde vir webwerwe bevat.

Dit maak jou angstig!

Hoe meer data jy het, hoe meer energie gaan jy benodig om dit te bestuur. En indien jy nie georganiseerd is nie, hoe vinniger gaan jy beheer verloor? Wanneer situasies buite ons beheer is, begin ons stres, wat dan weer ons geestelike welstand beïnvloed. Luister tog maar na Mary Kondo en behou net dinge wat vir jou belangrik is en jou gelukkig maak.

Die impak op die omgewing

Al kyk ons soms na die digitale wolk as iets wat ons nie kan sien nie, is dit beslis nie die geval nie. Al daai inligting word wel êrens fisies gestoor – en daai êrens is op datasentra, of servers. Dié sentra gebruik ʼn magdom energie om aan die gang te bly. Een studie beweer dat ons toestelle, en die datasentra wat gebruik word om dit te ondersteun, verantwoordelik is vir 4% van die globale groenhuisuitlaatgasse. Om dinge te vererger, word voorspel dat dit teen 2025 gaan verdubbel. Dit maak nie saak hoe jy dink jou digitale voetspoor lyk nie – dit het wel ‘n impak op jou koolstofvoetspoor.

Buitendien, almal het hulle redes hoekom hulle ou inligting, lêers, foto’s en boodskappe opgaar, maar een skoen pas nie vir almal nie. Noudat jy weet wat die negatiewe impak daarvan is, is dit dalk tyd om daai boodskappe tussen jou en jou eks van tien jaar gelede, wat jy nog teen hom wou gebruik het, uit te vee! En doen weg met daai laai vol ou selfoonlaaiers waarvoor jy nooit weer ‘n nut gaan hê nie …

Leave a Reply