Skip to main content

Seemeeue word dikwels in die binneland opgemerk en soms selfs kilometers van enige kusgebied af. Hulle naam dui daarop dat hulle eintlik kusvoëls is, maar wat deesdae gebeur, laat mense besef dat hierdie voëls eintlik slimmer is as wat ons dink.

Hulle migrasie na die binneland is bloot weens maklike toegang tot kos en skuiling. Hulle leef in honderde, indien nie duisende nie, by ashope omdat daar letterlik tonne kos is wat hulle kan eet sonder om te werk daarvoor. Daar is ook hordes video’s op sosiale media wat wys hoe hierdie astrante voëls sommer slaptjips uit jou bord gryp terwyl jy rustig by ‘n padkafee kuier.

‘n Luukse hotel in Cannes, Frankryk, het dik geraak dat lastige seemeeue hul ryk klante teister, en het ‘n span van 5 opgeleide aanvalsvalke aangeskaf om die meeue weg te hou.

Buiten die feit dat hulle mense na klippe laat gryp, deel ons ‘n paar (sommige grillerige) ‘interessanthede’ met julle:

Seemeeue kan sout-, sowel as vars water drink, aangesien hulle eksokriene kliere het wat in supraorbitale groewe van die skedel geleë is. Hulle skei met hulp van hierdie kliere sout deur hul neusgate uit om hul niere te help om ‘n elektrolietbalans te handhaaf.

Nou vir ‘n paar grillerige feite. Hou maar hier op met lees as jy maklik nagmerries kry…

Wie sal die oomblik vergeet toe pous Franciskus wit duiwe, die “simbool-van-vrede”, uit sy ateljeevenster wat uitkyk oor St. Peter’s Square in Rome vrygelaat het, en hulle onmiddellik deur ‘n seemeeu en ‘n kraai aangeval is?

Hierdie wrede voëls sal summier babarobbe se oë uitpik sodat hulle nie kan vlug nie, en hulle dan vreet. (Nee! Dis verskriklik!)

Dalk moet ons Inuit Eskimo’s vanuit Kanada invoer om van die oortollige meeue ontslae te raak. Húlle maak wyn van seemeeue. Ja, ek wou dit ook nie glo nie, maar dis ‘n nare waarheid. Hierdie proses behels nie vrugte of hout of ander wynmaak-goeters nie. Hulle vang eenvoudig seemeeue, versuip hulle in ‘n vat water, laat dit vir ‘n paar dae in die son staan, en voila! Seemeeuwyn. Blykbaar smaak dit walglik, dit skop vinniger as ‘n wilde donkie, maar laat die eskimo’s met ‘n reuse, onaangename babelaas.

Hoekom dit dan drink?

Die wêreld se grootste voël was ‘n prehistoriese seemeeu met ‘n 24ft vlerkspan wat teen 10m per sekonde kon vlieg. Dank die gode dat hierdie voël uitgesterf het. Kan jy dink watse blertse hulle sou los?

So van blertse gepraat … tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Britse weermag probeer om seemeeue op te lei om op duikboot-periskope te poef. Daar is geen aantekeninge van hoe suksesvol hierdie eksperiment was nie.

Leave a Reply