Skip to main content

 

Twee veterane val vas in romcom

Ticket to Paradise

Romantiese komedie

Met George Clooney, Julia Roberts, Kaitlyn Dever, Billie Lourd, Maxime Bouttier en Lucas Bravo.

Sonnettte Lombaard

Dit klink amper te goed om waar te wees. Twee van Hollywood se grootste en gewildste (en rykste) supersterre span saam om ‘n vrolike romcom op te klits, gepas teen die agtergrond van ‘n eksotiese eiland soos min. Een waarvan net die naam alleen die mees romantiese vergesigte en versugtinge oproep: Bali.

Oeps, net hier begin dit lol want die regte Bali is vermis in dié nuwe fliek. Dis tydens die pandemie in Australië se wêreldberoemde Great Barrier Reef geskiet. Wat, bygesê, eweneens beeldskoon is en ook moeiteloos prentjies met pienk wolke uitrol. Hollywood is tog by uitstek Kammaland en die Aussies met hul veilige, werkende tuisland is ál te gewillig vir sulke ruim grootdoek-bemarking van ooglopende bates. Doer Onder moes juis ook onlangs instaan vir Memphis vir die Elvis biopic. Die regisseur daarvan, Baz Luhrmann, is een van die Ozzers se vele sprankeluitvoerprodukte.

Miskien is dit hier waar Ticket to Paradise begin platval. Fliekvlooie wêreldwyd het lippe afgelek vir dié grootdoek-hereniging van megasterre George Clooney en Julia Roberts. Maar die liggewig Engelse regisseur en mede-draaiboekskrywer, Ol Parker, navigeer tricky terrein hier. Dis ‘n prettige eindproduk maar hy slaag nie daarin om sy kragviertrek met woema tuis te bring nie, ondanks die oktaaninspuiting van ‘n Clooney en Roberts aan boord.

Die reisplan lyk só: Clooney en Roberts speel David en Georgia Cotton, middeljarige ekse, wat haastig uit Yankland opruk na Bali waar hul pasafgestudeerde dogter Lily, halsoorkop verlief geraak het en wil trou met ‘n plaaslike seewierboer.

Die geskeide egpaar is vasberade om te keer dat hul enigste Lily met haar nuwe regsgraad dieselfde “ringfout” as hulle ‘n kwarteeu gelede gemaak. Op die eiland wag haar aanstaande en sy tradisionele mense en vele misverstande. En dit blyk die gewese en nou ouer duifies se eertydse vonk prut dalk nog. Maar die aantreklike loods Paul (die Franse Haan Lucas Bravo) vlieg dan al die pad agter Georgia aan met die ring in sy sak …

Die rolverdeling is gekies vir ondersteunende spel en om nie die kollig van die twee supersterre wat die fliek moet dra, te steel nie. Kaitlyn Dever se sensitiewe spel as Lily vang tog die oog en sy kan dopgehou word.

Clooney (61) en Roberts (54) is albei Oscar-bekroond en hulle mega-invloed bereik alle uithoeke. Hoewel hartebreker Clooney ook naam gemaak het agter die kamera, is hy voor dit ‘n onwillige romantiese held. Sy laaste romantiese komedie was saam met Michelle Pfeiffer in One Fine Day (1996).

Daarteenoor is Roberts juis bekend en geliefd in romantiese komedies, soos die tydlose wegholtreffers Pretty Woman saam met Richard Gere en Notting Hill saam met Hugh Grant. Sy is dus hier in haar stapelkoselement, maar Julia in haar vyftigs wat verspotdronk word in ‘n raserige dansklub oorrompel nié.

Dis eintlik vreemd dat Hollywood so lank gewag het om die duo-plofeffek van Clooney/Roberts spesifiek in ‘n romcom te gooi. Hulle was wel voorheen saam in vyf flieks: Confessions of a Dangerous (Clooney se regiedebuut) Ocean’s Eleven, Ocean’s Twelve, MindAugust: Osage County en Money Monster.

My skerp fliekmaat het agterna tereg gemeen Ticket to Paradise kan afkyk by Top Gun: Maverick oor hoe om ouer grootdoekromanse steeds vuurwarm op te dis.

Vir geswore George en Julia fans behoort hierdie lawwe pret van twee ouerwordende sterre (ouderdom spaar tog niemand nie) te midde van wuiwende palms en droommooi sonsondergange nogtans Krismis te wees wat vroeg kom draai. Vir diegene wat sappiger vleis en meer getrou-aan-die-regte lewe-oemf verkies, proe dié troukoek soutloos-laf.

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply