Skip to main content

Isaac Cloete

“Hoop is nie verlore nie, want die Hemelse Vader is aan ons sy en Sy genade genoeg.”

Só verwoord ‘n 47-jarige onderwyser van Garies Hoërskool haar diepe sielswroeginge ná die vernietigende brand laas week.

Juffrou Chirene van Wyk het emosioneel vertel hoe Saterdag se brand, wat die skool basies in puin gelê het, haar verslae en kaalgestroop laat voel het.

“Om jou skool te sien afbrand en hande gevou te staan, is hartverskeurend en die knetterende vuur sal nog lank in ons geheue eggo.

“Die skool was soos ‘n tweede huis vir my. Dit is hier waar ek grootgeword het. As ‘n 26-jarige onnie was dit my eerste permanente pos. Hier het ek goeie en slegte tye beleef en het ek 21 somers agter die rug.”

Volgens Van Wyk was alles binne n paar uur vernietig. Dit sluit in alle databasisse wat oor 20 jaar opgebou was. Hulle het slegs die pakkie merkwerk, wat hulle die naweek sou klaarmaak as bewys dat hulle deel van die skool is.

“Ons vuur van hoop is egter nie geblus nie, want ons het die afgelope tyd baie gebede en ondersteuning gekry. Die distrikskantoor, nasionale departement van onderwys en veral die Kamiesberg-gemeenskap staan nou hande viervoet agter ons.”

Van Wyk is ‘n Afrikaanse onderwyseres (FET-fase) en ook deel van die skool se senior bestuurspan (SMT). Vandag gaan hulle saam met die skoolbeheerliggaan (SBL) en ander rolspelers vergader om die pad vorentoe te bepaal en uit te stip.

Ten slotte het sy baie swaarmoedig gesê:

“Dis ‘n moeilke en opdraende stryd wat voor ons lê, maar met die Hemelse Vader aan ons sy sien ons uit na môre. Hoop is nie verlore nie …”

Volgens die skoolhoof, Fagmieya Januarie,  is die ondersteuning ná die brand oorweldigend. Daar is dus nie tyd om in sak en as te sit nie.

“Ons vat alles maar van dag tot dag en ons gaan aan, want ons móét eenvoudig net aanbeweeg.”

Intsussen het die skool na die plaaslike gemeenskap en breë publiek uitgereik vir ondersteuning.

Luidens ‘n skrywe versoek die skool hulp omdat hulle dringend donasies en skenkings benodig. Behalwe finansies, sal rekenaars, skryfbehoeftes en skoonmaakmiddels ook welkom wees.

Die skool kan hieroor gekontak word by: 068 557 9271.

Leave a Reply