Skip to main content

Márica Barnard    –   Boegoebos

Die inheemse Suid-Afrikaanse kruid Boegoebos kan die immuunstelsel ’n hupstoot gee. Op dieselfde manier gee die sangeres, Márica Barnard se jongste enkelsnit met die gelyknamige titel Boegoebos die siel, gees en (sommer ook) die immuunstelsel ’n ekstra inspuiting om ons te help om die laaste bult van dié jaar te klim.

Márica, wat die afgelope paar jaar bekendheid verwerf het vir haar sielvolle vertonings by onder meer die Asbos- en die Pierneefteater in Pretoria, het met dié snit nie van haar geheime resep afgewyk nie; sy spreek universele temas soos lewens- en sielsgeluk aan, maar vertel ook stories op ’n eiesoortige wyse.

Boegoebos beskryf die Karoo in al sy onvergeetlike glorie; die ryp maan en die sterre wat soms die enigste lig in die duisternis is … die aardse mense … die reuk van kruie en plante.

Márica het ’n tyd in die Karoo spandeer en dit was vir haar ook ’n inspirasie vir die snit. “Ek verlang na my tyd in die Karoo waar almal so na aan die aarde lewe. ’n Stukkie van my hart het daar agtergebly en ek voel altyd tuis wanneer ek by een van dáárdie Karoo-huisies, met die misvloere, instap.”

Maar dié snit is ook meer as net ’n sintuiglike aanslag.  Sy sê: “Net soos die snit My nooi is in ’n nartjie, kan die reuk van boegoebos, die geluid van die wind en die veraf geblêr van die skape amper in die snit gehoor word.”

Márica is ’n digter en ’n mens kan die rympatroon, die gebruik van die metafoor en die vergelyking ook in haar lirieke hoor. Trouens, gedigte vorm die basis van die meeste van haar komposisies.

Versreël 3 beskryf die Karoo in al sy grootse glorie: … “Die sterre was ons donskombers, waarmee ons aanmekaar was. Die jakkals het geroep en ons laat fluister voor die maan. Die swaeltjies wat in die klowe speel, die heide in ons hare, jou blou oë het my vals laat glo, my bloed loop deur jou are ….”

Márica sê dat die stil en stadige pas van die Karoo ’n skerp teenstelling met haar alledaagse lewe is. “My tyd in die Karoo het my na binne laat kyk en ek het ontdek wat in my skuil.”

Márica het sowat agt jaar gelede die Asbos-huisteater in die ooste van Pretoria begin en het sedertdien ’n groot ondersteuningsbasis opgebou. Haar stem word met dié van Lindt-sjokolade vergelyk; warm, romerig en donkersoet op die luisteraar se oor.

Márica het vroeër vanjaar die enkelsnit Stofpaaie uitgereik. Dié snit is baie goed deur plaaslike radiostasies ontvang.

Márica het geen formele musiekopleiding gehad nie, maar is al van jongsaf besig met musiekdinge. Sy het aan verskeie kompetisies soos Musiek en Liriek deelgeneem en het tot die top 5 deurgedring. Sy het haarself ook leer kitaar speel.

Boegoebos is ook een van haar eie pennevrugte en is ook ’n goeie voorbeeld van haar tipe sielsmusiek. Musiek-en-liriek het ontstaan uit hartspyn en die smart van ’n mislukte huwelik. “Tydens my huwelik het ek weggestaan van musiek en op my gedigte gekonsentreer. Die gedigte bly steeds deel van my vertonings.”

“Ek is ná ’n huwelik van bykans sewentien jaar geskei en ek het besluit om groter musiekspronge te waag. Ek het die Asbos-teater in die ooste van Pretoria gestig en op dié manier is ek ook bekendgestel aan wonderlike sangers en musikante.”

Boegoebos is een van daardie liedjies wat in die musiekargiewe gebêre gaan word. ’n Snit waarna dié wat ná ons kom nog gaan luister.

“Dit is vir my altyd belangrik dat mense regtig moet luister. Dit is vir my belangrik dat hulle die woorde hoor en ’n kunstenaar se emosies respekteer.”

Dié snit is deur Piet van Wyk de Vries getoonset.  

Leave a Reply