Skip to main content

Isaac Cloete

Die Noord-Kaaplandse kannie-dood-rugbyspan van Rangers het vanjaar wondere op die rugbyveld verrig en heelbo geëindig.

Dié rugbyspan van die woonbuurt Bergsig, buitekant Springbok, het verlede maand die Vedanta-liga beklink.

Hulle het die sterk rugbyspan van Nababeep in ‘n taai, maar opwindende eindstryd geklop. Die eindtelling was 16-10 nadat hulle teen rustyd met 10-3 voorgeloop het.

Die klub se bestuur het hulle lojale ondersteuners bedank, wat deurgaans getrou saam die pad gestap het. In ‘n verklaring het hulle trots bekend gemaak: “Ons is die wenners van die 10’s, 7’s,  asook die Vedanta-liga. Ons is ook bekroon as Span van die Jaar.” 

Dit is ‘n besondere prestasie as in ag geneem word dat Rangers ‘n paar jaar gelede nog in die B-afdeling van die Namakwalandse rugbyliga gespeel het, volgens André Jacobs, ondervoorsitter van die klub.

Een van Rangers se spelers, Llewellyn Ventura, is intussen opgeneem in Griekwas se ontwikkelings-inisiatiewe, wat in Kimberley gesetel is.

Die plaaslike gemeenskap van Namakwaland is versoek om hom te ondersteun. Om ‘n rugbyloopbaan na te streef, kan groot geld kos. Behalwe dit, is harde werk, uithouvermoë en vasberadenheid nodig.

Die afgelope paar jare was inderdaad ‘n rooskleurige tydperk vir Rangers. Die klub raak nou al hoe meer bekend. So is sy Monté Engelbrecht ook die huidige president van die Griekwas, die provinsiale rugbyspan van die Noord-Kaap.

Engelbrecht woon in die Springbok-omgewing en het noue bande met Rangers. 

Die klub het in 2009 herleef, nadat dit in 1966 gestig was. Tydens en ná die transformasieproses was die klub vir ‘n lang tydperk onaktief, totdat veterane soos Willie van Wyk besluit het om weer lewe daarin te blaas.

Jacobs vertel dat die klub besig is met ‘n grootskaalse werwings- en bewusmakingsveldtog om nuwe spelers te bekom. Die veldtog is ook daarop gemik om befondsers of donateurs te bereik en te betrek.

Intussen sal Rangers more ‘n dans hou om fondse in te samel. Die orkes Real or Real sal optree.

Leave a Reply