Skip to main content

 

Hoe genieë in geskiedenis brood op tafel gesit het

Dis ‘n hartseer feit – die wêreld se grootste geniale breine het nie hul fortuine met hul intelligensie gemaak nie. Hulle het die boeke laat klop deur ekstra werkies te doen en handearbeid te verrig. Die skrywer en dramaturg Shakespeare is beboet omdat hy nie sy belasting betaal het nie, Curie het drie werke tegelyk gedoen en Descartes was as ʼn militêre ingenieur bekwaam. Die destydse akademie het kwalik die rekeninge betaal. Vir ʼn samelewing om vorentoe te beweeg moet die briljante breine van ons tyd gesubsidieer en gehelp word. Gerald Eloff kyk na die verskillende werke wat die grootste geeste van die geskiedenis gedoen het … om aan die lewe te bly.

“Hoe gelukkig is diegene wat betaal word om te doen waarvoor hulle lief is.” Klink dit bekend? Asook, “as jy ʼn beroep waarvoor jy lief is vind, sal jy nie ʼn dag in jou lewe werk nie.” Ongelukkig is nie baie mense in dié bevoorregte boot nie en baie wat wel doen waarvoor hulle lief is, moet ‘n bykomende inkomste kry net om te oorleef. Kunstenaars, skrywers, dansers en akteurs – almal wens hulle kan hulle passies voltyds uitleef (en genoeg geld maak daaruit). Ongelukkig eis die lewe sy pond vleis – so baie van ons moet werk sodat ons darem bietjie kan speel ook (of doen waarvoor ons lief is).

Wees egter gerus – van die grootste kunstenaars, wetenskaplikes en denkers was eens in dieselfde bootjie. Voor die koms van Elon Musk en Kie moes die genieë van die geskiedenis net soos die meeste van ons, ook rekeninge betaal en sorg vir hulle families. Ja, daar was die van adellike afkoms en erfgename van fortuine wat op die wolke van rykdom gesweef het. Maar nie almal is só gelukkig nie. Hier is vier name uit die geskiedenis wat die wêreld verander het, en vanuit beskeie agtergronde heil.

Isaac Newton

Newton kan gemaklik op die titel aanspraak maak as een van die geleerdste en intelligentste mans in die geskiedenis. Tog was sy familie boere – sy pa was ʼn ongeleerde man wat nie eers sy eie naam kon skryf nie. Newton het klas by Cambridge Universiteit gedraf terwyl hy ʼn sizar was – ʼn kneg vir ander studente. Só het hy sy klasgelde verdien. Hy was basies Will (vertolk deur die akteur Matt Damon) van die fliek Good Will Hunting. Nadat ʼn plaag al die studente huis toe gejaag het, het hy op die kampus agtergebly en al sy tyd spandeer om baanbrekerswerk in die veld van wiskunde, fisika en astronomie te doen. Dit was dus geen verrassing nie toe die akademici terugkeer en vir hom ʼn pos aanbied. Die akademie het hom egter nie ryk gemaak nie. Ná jare se harde werk, druk van die katolieke Koning James die tweede (want Newton was ʼn uitgesproke Protestant) en ʼn senuwee-ineenstorting – het Newton besluit om die akademie vaarwel te roep om sy fortuin te maak. In Londen, het Newton sy wiskundige brein gebruik en Meester van die Koninklike Munt (Royal Mint) geword. In vandag se geldterme is dit soortgelyk aan ʼn sewe syfer salaris. Al het hy iets wat gesien word as een van die grootste wetenskaplike werke van alle tye geskryf, het hy sy geld gemaak deur ʼn bankier vir die regering te wees.

William Shakespeare

Om ʼn akteur in vroeër tye (17de eeu in Engeland) te wees was nie maklik nie. Dit het beteken jy was lang ure op jou voete met sommer drie vertonings daagliks, dag in en dag uit, teen karige betaling.

Die man wat alombekend as die beste skrywer, digter en dramaturg in die geskiedenis van die mensdom, het nie in weelde geleef nie – daar was geen sprake van goeie wyn, kastele en volbloedperde nie.

William se pa, wat ’n bietjie wins oorgehou het van sy besigheid wat wol op die swartmark verkoop het, het vir hom die geld gegee om in sy eerste teatergeselskap aandele te koop. Dié besigheid het nie sleg gedoen nie maar niemand het ryk geword nie. Shakespeare was nooit vir die dramastukke wat hy geskryf het betaal nie – sy inkomste was gebaseer op hoe goed die dramagroep gedoen het. As die akteurs swak was, of die toneelstuk het ʼn swak resensie gekry, het William net soveel soos die hoofakteur gesukkel.

Daar is nie veel in die geskiedenisboeke oor Shakespeare se persoonlike lewe nie, maar daar word twee kere vermeld hoe hy in die moeilikheid was by Jan Taks. Of dit as gevolg van ʼn tekort aan geld of nalatigheid was, weet ons nie vir seker nie. Wat ons wel weet, is dat Shakespeare darem tydens sy dood in ʼn redelike groot huis gebly het (allermins ’n kasteel). Toe hy sy aandele in die teatergeselskap later in sy lewe verkoop, het hy darem bietjie geld gekry. Dis egter niks in vergeleke met hoe Hollywood sterre (en selfs suksesvolle draaiboekskrywers) van vandag in weelde kan leef nie.

Marie Curie

Indien jy al 30 Seconds gespeel het, is die kanse goed dat jy al die volgende vraag gehoor het: “Wie was die eerste persoon wat twee Nobelpryse in twee verskillende velde gewen het?” Die antwoord: Marie Curie. Haar paadjie van armoede na rykdom is legendaries.

Curie was een van vyf kinders en haar pa se swak finansiële besluite het die familie geruïneer. Op die ouderdom van 17, het sy twee werke gehad – dié van ʼn onderwyseres en iemand wat vir ander voorlees, net sodat sy vir haar eie (en haar suster) se studies kon betaal. Toe sy uiteindelik in Sorbonne in Parys aankom, het sy soms so laat in die nag gewerk dat sy vergeet het om te eet. Hier het sy verskeie navorsingsbeurse losgeslaan om staal as mineraal te bestudeer. Soos vandag, was dit ʼn baie winsgewende bedryf.

Nadat Marie se man deur ʼn perdekoets doodgery is, het sy sy posisie as die eerste vroulike professor by Sorbonne oorgeneem. Toe wen sy die Nobelprys vir fisika én chemie, en geld was nie meer ʼn probleem nie. In vandag se tyd, was haar prysgeld in 1903 amper 15 miljoen rand werd – en onthou, sy het dit twee kere gewen! Sy het egter ‘n plat-op-die-aarde mens gebly, nie haar geld gemors nie, en navorsingsinstansies gestig.

Blykbaar het Albert Einstein oor Curie gesê: “Of all celebrated beings, Curie is the only one whom fame has not corrupted.”

Rene Descartes

Descartes het sy ma aan die dood afgestaan toe hy skaars een jaar oud was. Dié filosoof se pa, ʼn plaaslike politikus, was te besig en te arm om vir hom en sy broers en susters te sorg. Ná hy weggestuur is vir sy streng opvoeding by die Jesuïete, het hy uitgestyg as ʼn Renaissance genie op universiteitsvlak. Lang nagte by kerslig en sy poging om die Aristoteliaanse wetenskaplike model te ontrafel, het egter sy tol geëis. Descartes is by die universiteit weg ná ʼn senuwee-ineenstorting – en met ʼn leë beursie. Gelukkig gaan ʼn besonderse intellek gepaard met nuwe geleenthede. Eers het hy sy slimmighede gebruik om mense met kaartspel te wen in Parys, voor hy aangesluit het by die weermag. Hier het hy sy wiskundige kennis in werking gestel deur nuwe militêre tegnologie te ontwerp – insluitend nuwe verdedigingstellings en forte, beleg-enjins (die voorganger van ʼn katapult) en innoverende hidroulika wat vir oorlog aangewend is. Dié alles vir sy werkgewer, Prins Maurice van Nassau. Ten spyte van sy genialiteit of verskeie vlakke, het hy teen die einde van sy lewe gevlug en staatgemaak op enigiemand wat hom genadig was. Sy filosofiese denke was as laster deur sommige beskou en die kerk was ook nie gelukkig met sy idee van die menslike liggaam nie, wat hy as “meganisties” beskryf het. Dit wou voorkom of die 17de eeu nie gereed was vir Descartes se genialiteit nie.

Bogenoemde is die harde waarheid – genieë se briljante breine betaal nie die rekeninge nie. Agter elke groot denker, uitvindsel of kunswerk is baie lang ure, aaklige werk (en soms ʼn groot erfporsie). Genieë het geld en tyd nodig om te groei. Dit is ʼn bitter pil om te sluk – om te weet hoeveel kunstenaars, wetenskaplikes, skrywers, filosowe en briljante mense oor die algemeen die samelewing al verloor het, net omdat hulle gewone arbeid moes doen om rekeninge te betaal en hul kinders te voer.

Dit geld veral vir vrouens in die akademie. Die Engelse filosoof Mary Wollstonecraft (sy het wel ryk geërf), reken dat as die samelewing vrouens forseer om tweedeklas burgers te wees – onopgevoed, sonder werk en weggesteek – sal vordering net halfpad gebeur. Hoe meer mense geleenthede het, hoe meer sal die uitsette wees.

Universiteitsbeurse, subsidies van die regering en private patronaatskap moet aan dié mense gegee word. Ons moet dit so maklik as moontlik vir briljante mense maak om briljante dinge te kan doen.

Tans, kan ons egter net aanhou droom …

Leave a Reply