KORRESPONDENT
Dit gebeur selde in die sportwêreld dat die status quo op ’n reuseskaal ontwrig word.
Maar die omstrede en uiters lonende LIV-Golf-uitnodigingsreeks, wat deur Saoedi-Arabië se beleggingsfonds gefinansier word en die Australiese gholfheld Greg Norman aan die stuur het, verskaf die gevestigde Amerikaanse PGA- en Europese DP World-reeks slapelose nagte.
Kritici glo dié “rebellereeks” is eenvoudig ’n poging deur die Saoediese regering om sy beeld te poets weens sy swak rekord wat menseregte betref.
Die LIV-reeks bied ’n algehele prysgeld van $25 miljoen (byna R444 miljoen) per toernooi. Daar is hierdie seisoen reeds vyf uit agt byeenkomste voltooi. Die toernooie word oor 54 putjies, nie die tradisionele 72 putjies nie, beslis en daar is geen afsnypunt nie.
Die LIV-reeks het met sy belofte van enorme prysgeld en ’n minder strawwe skedule reeds verskeie topspelers van die PGA- en DP World-reeks weggelok, onder andere die Britse Ope-kampioen en wêreld se nommer drie, Cameron Smith, die voormalige major-wenners Phil Mickelson en Dustin Johnson, asook die Suid-Afrikaners Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace.
Die PGA-reeks het al sy lede wat aan die LIV-reeks deelneem geskors, terwyl die DP World-reeks in ’n regstryd gewikkel is om vas te stel of hy ook sy lede wat nou in die LIV-reeks speel, kan skors.
Schwartzel het in Junie die eerste LIV-toernooi gewen. Hy het ’n yslike wentjek van $4 miljoen (nagenoeg R71 miljoen) in sy sak gesteek en ’n verdere $1,06 miljoen verdien omdat hy lid was van die span wat die spanafdeling in die toernooi gewen het. Sy vorige grootste wennerstjek was die $1,4 miljoen wat hy in 2011 verdien het toe hy in die Meesters geseëvier het.
Grace het in Julie die tweede LIV-toernooi gewen en lag ook sedertdien al die pad na die bank.
Oosthuizen het met sy aansluiting by die LIV-reeks gesê hy sou in elk geval die PGA-reeks verlaat het.
“Dit sou ongeag heel moontlik my laaste jaar in die PGA-reeks gewees het,” het Oosthuizen in Junie gesê.
“Ek het altyd gesê wanneer ek by die ouderdom van 40 kom, sal ek oorweeg om iets anders te doen, en nie net gholf nie, maar iets nuuts aan te pak.
“Almal weet dat ek daarvan hou om op ’n plaas te wees en buitekant besig te bly en toe kom hierdie geleentheid wat my toelaat om vir vier jaar hierdie te doen en meer tyd saam met my familie deur te bring.
“Die manier hoe die formaat opgestel is, het my baie opgewonde gemaak en het my herinner aan die Presidentebeker. Ek het net gedink ‘hoekom nie?’ en ek het die besluit geneem vir wat nou vir my die beste vir my loopbaan is. Ek gaan die geleentheid benut en deelneem. Ek is ’n beroepsgholfspeler en daar is goeie geld op die spel. So hoekom nie?”
Rory McIlroy van Noord-Ierland, een van die LIV-reeks se mees uitgesproke kritici, sê in die openbaar dat hy teen die insluiting van LIV-spelers in die Europese span vir volgende jaar se roemryke Ryderbekertoernooi gekant is.
Hy is sommer vyandig teenoor sy voormalige spanmaats en Ryderbeker-staatmakers soos Ian Poulter, Lee Westwood en Sergio Garcia, wat ongeag hul betrokkenheid in die LIV-reeks steeds vir Europa wil speel.
Maar Poulter (46), Westwood (49) en Garcia (42) se loopbane staan immers einde se kant toe, so kan hulle verkwalik word as hulle vir oulaas wil skep?
Die Suid-Afrikaanse gholfheld Gary Player sê spelers wat die PGA- en DP World-reeks verlaat het om in die LIV-reeks mee te ding, kan nie verwag om aan die vier majors deel te neem nie.
“Hoe kan jy jouself ooit as ’n kampioen beskou as jy in ’n reeks speel waar die toernooie uit slegs 54 putjies bestaan en daar nie ’n valbyl is nie?” sê die wenner van nege majors.
“Dit is ’n reeks vir mense wat nie in hulle toekoms vertroue het nie. Hulle het nie die selfvertroue dat hulle ’n kampioen kan wees nie. Jy gaan dit nooit met die gevestigde Amerikaanse en Europese reekse kan vergelyk nie. Daar is geen kans nie.”
LIV-spelers is toegelaat om aan vanjaar se Amerikaanse Ope en Britse Ope deel te neem, maar daar is geen waarborg dat hulle in die toekoms weer toegelaat sal word om in die vier majors, wat die PGA-kampioenskap en die Meesters insluit, te speel nie.
Gholf staan voor ’n kruispad en dit sal interessant wees om te sien of prysgeld uiteindelik oor tradisie seëvier.