Skip to main content

 

Mediese uitvindels dalk die enigste goeie ding van oorlog

Baie mense is dit eens dat niks goed uit oorlog kan kom nie – daar is geen wenners nie, net verloorders. Daar is egter een kernaspek wat nie uit die oog durf verloor word nie – mediese vooruitgang en innovasie gedurende dié uitdagende tye. Dit noop mense om planne te maak om lewens te red in baie moeilike omstandighede. Gerald Eloff het gaan loer in die verlede se loopgrawe na hoe lewens eens gered is, en gevind baie van dié prosedures word vandag nog gebruik.

Tegniese en tegnologiese vooruitgang is nie al voordele vir die mensdom wat uit die laaste 150 jaar se oorloë oraloor op die Aarde gevolg het nie, maar dit het ook tot uitsonderlike vooruitgang in medisyne gelei. Baie van dié innovering is te danke aan die beserings gedurende oorlogsituasies – soos ernstige skiet- en brandwonde – waarvoor kreatiewe en noodplanne in min tyd gevind en gemaak moes word.

Bloedverlies

Die meerderheid van soldate in oorloë oor alle tye, het weens bloedverlies gesterf. Dis geen verrassing nie, neem ‘n mens in ag die wapens wat gebruik is, wat van swaarde, bajonette, koeëls, handgranate tot missiele insluit.

Gedurende die Italiaanse Oorlog in die 16de eeu, is ‘n manier om bloeding te stop, uitgevind. In 1537 het ‘n Franse haarkapper met die naam van Ambroise Pare (wat ook gewerk het as ‘n chirurg!) met die besetting van Turin, soldate gaan help. Geskok deur al die gewondes, het hy ligature naby die soldate se wonde verbind. Hy was egter nie die eerste mens om dit te doen nie – die Romeine en Arabiere het dieselfde tegniek reeds vroeër gebruik. Later is dit egter vervang met wonde wat met warm olie gekouteriseer (toegebrand) is.

Dié metode op die slagveld was ongerieflik en pynlik. Pare was instrumenteel om dokters weer na toernikette (aarperse of knelverbande) te laat kyk. Dit word steeds vandag gebruik – nie net op slagvelde nie maar ook in die ongevalle-afdeling van hospitale.

Ontmoet Walt Disney die ambulansbestuurder!

Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog is narkose gereeld toegedien, ‘n prosedure wat eers in 1846 ontdek is, en wat nie toe algemeen in gebruik was nie. Voor narkose, het chirurgiese sukses afgehang van die spoed waarteen ‘n mediese prosedure voltooi kon word. Die toedien van narkose gedurende dié oorlog, het tot reuse-vooruitgang in chirurgie gelei, wat tot vandag toe gebruik word.

Medici het gedurende die Eerste Wêreldoorlog gereeld bloedoortappings gedoen, wat voorheen redelik ongewoon was. Veldhospitale was naby aan slagvelde opgerig, wat duisende lewens gered het. Moderne ambulansdienste is ook te danke aan die Eerste Wêreldoorlog – daartydens is vrywilliger ambulansbestuurders gebruik (onder andere die skrywer Ernest Hemingway en Walt Disney!) wat die gewondes op die slagveld opgelaai het. Hoe minder tyd verloop het tussen ‘n gewonde soldaat en sy behandeling, het die oorlewingsyfers bepaal.

Die vrywilligers was gewoonlik pligsgetroue anti-oorlog aktiviste, wat steeds wou help maar nie aan gevegte wou deelneem nie.

Chemo, antibiotika en staalplate

‘n Minder bekende aspek van die Eerste Wêreldoorlog (WOI), was die ontwikkeling van chemoterapie vir kankerbehandeling. Die gebruik van giftige gasse het gewys dat sintetiese molekules normale selle vernietig. Dit het ‘n wyle geneem, maar molekules is toe ontwikkel wat meer effektief kankerselle as normale selle kan dood, tot kankerpasiënte se voordeel. Daar was natuurlik baie newe-effekte van dié behandeling, maar dit was net die begin en vandag word die kwaadaardige kankerselle baie meer effektief en spesifiek geteiken met asemrowende nuwe tegnieke.

Gereelde gebruik van antibiotika gedurende die Tweede Wêreldoorlog (WOII) kan ook as groot mediese vooruitgang beskou word. Met sulfamiddels wat in 1935 ontdek is en die ontwikkeling van penisillien in 1939, is die grondslag gelê vir die voordele met vandag se verskeie antibiotika. Voor die ontdekking van antibiotika, was aansteeklike siektes vir die meeste sterftes wêreldwyd verantwoordelik.

Die gebruik van metaalplate om frakture gesond te maak gedurende WOII was eweneens ‘n eerste. Dié tegniek is deur die Duitse mediese dienste ontwikkel – dis ontdek toe Duitse gevangenes ondersoek is nadat hulle vir X-strale moes gaan. Die mediese personeel was stomgeslaan nadat die Duitsers die helfte van die tyd geneem het om te herstel, in vergelyking met dié sonder plate. Die gebruik van plate en skroewe vir frakture is vandag steeds algemeen in gebruik.

Bevrore bloed en brandwonde

Gedurende die oorlog in Viëtnam is ook heelwat vooruitgang op mediese gebied gemaak – onder andere, met die gebruik van bevrore bloed. Vars bloed kan slegs vir 21-30 dae gestoor word, voor dit onbruikbaar raak. Bevrore bloed, aan die ander kant, kan vir tot ‘n jaar gebruik word. Die gemiddelde volume bloed in ʼn jong volwassene se lyf is ongeveer vier en ‘n half liter. Dit is nie ongewoon in ‘n oorlogsituasie om 10 tot 12 liter (of selfs meer) oor te tap om pasiënte aan die lewe te hou nie. Dit is feitlik ontmoontlik om groot hoeveelhede vars bloed te stoor gedurende oorlogstyd. Die militêre afdelings van lande word dus tereg as voorlopers in die ontwikkeling van bevrore bloedprodukte beskou, wat menigte lewens oor tye gered het.

Innoverende brandwondbehandeling het ook gedurende die Viëtnam-oorlog gebeur. Die gebruik van antiseptiese en antibiotiese verbande het gevaarlike infeksies verhoed. Die verlies van grootmaat liggaamsvloeistowwe was ‘n groot probleem gedurende dié oorlog as gevolg van die hoë humiditeit in die Verre-Ooste. Nuwe troepe is in bedompige skeepskompartemente opgelei en gebalanseerde soutoplossings ingejaag – dit het die akklimatisasie-proses vir die nuwe troepe van drie tot sewe dae uitgeskakel.

En bomskok …

‘n Groot deurbraak in die mediese geskiedenis op ‘n sielkundige vlak, was die diagnose van Post-traumatiese Stressindroom (PTSS), sowel vir oorlogsveterane én militêre personeel. Dit is die eerste keer deur ‘n psigiater by oorlogsveterane van die Viëtnam-oorlog gediagnoseer. Dié toestand het natuurlik ná elke oorlog kop uitgesteek. Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog was dit “lost heart” genoem, in WOI “shell shock” en in WOII “battle fatigue”. Hier in ons agterplaas is gepraat van “bomskok”. Vroeër jare is die soldate wie se geestesgesondheid seergekry het, selfs as lafhartig uitgekryt en gevonnis; deesdae word dié toestand oral erken en behandel.

Nog ʼn nuwe ontdekking gedurende oorlogstyd is hartstilstande onder pasiënte met ruggraadbeserings terwyl hulle onder narkose was. Die middel wat toegedien is, succinylcholine, is al vir jare gebruik om pasiënte se spiere te laat ontspan om operasies uit te voer. Met ruggraatbeserings, het ‘n sensitiwiteit ontstaan wat nie voorheen raakgesien is nie. Die sensitiwiteit stel groot hoeveelhede potassium in die bloed vry wat dan na die hart vloei, en hartstilstande veroorsaak. As gevolg van dié ontdekking word ander, veiliger, middels vandag gebruik.

Soms vat dit ʼn leeftyd

Soms neem mediese deurbrake ‘n baie lang roete vanaf die slagveld tot by die dokter se spreekkamer. In 1862, gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog met die veldslag van Shiloh, het mediese personeel gesien hoe soldate se wonde na dié veldslag “gloei”. Dit het die dokters nog meer laat kopkrap toe hulle sien dat soldate met die verskynsel se wonde vinniger as die van soldate daarsonder genees.

Almal het die onverklaarbare verskynsel “The angel’s glow” genoem – dit sinspeel daarop dat die soldate wonderbaarlik deur engele genees is. Dit het amper 140 jaar geneem, voor ‘n mikrobioloog en haar twee tienerseuns ‘n meer realistiese verduideliking gevind het!

In 2001, het die 17-jarige Bill Martin van dié gloeiende wonde by ‘n geskiedenisuitstalling geleer. Hy vra toe sy ma, wat in bioluminescent-bakteria gekonfyt is, of dit dalk die oorsaak van die gloeiende wonde by Shiloh kon wees. Sy ma beveel toe aan dat hy ‘n eksperiment doen. Hulle ontdek toe dat die gloeiende effek van Photorhabdus luminessensie kom, ‘n bakterium wat deur nematodes gedra word.

Hulle maak toe die gevolgtrekking dat die soldate se wonde waarskynlik insekte gelok het toe hulle deur die modder gekruip het, wat deur die nematodes gevolg is. Die nematodes se bakterie breek nie net die insekte vir kos af nie, dit vernietig ook kompeterende mikrobes.

Dit was die laasgenoemde funksie van die nematodes wat die soldate se wonde gesond gemaak het. Sedert die tiener se ontdekking, het ‘n mediese navorser begin kyk om met Photorhabdus luminessensie antibiotiese weerstandige-infeksies te behandel. Ander navorsers gebruik nou die gloeiende bakterie om ‘n ensiem-inhibeerder te ontwikkel, om HIV te behandel.

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!