Skip to main content

George April

Twee leerlinge van Laurie Hugo Primêr in Moorreesburg, wat boesemmaatjies was, het op ‘n geheimsinnige wyse in die Swartland munisipale swembad op die dorp verdrink.

Elqèton Adams en Alzandrie Jacobs (albei 7 jaar) se lyke is Vrydagoggend in die swembad gevind. Dit was nadat Alzandrie se mense hom die Donderdagaand as vermis by die Moorreesburg Polisie aangegee het.

Wat egter vir albei seuns se families baie snaaks is, is dat hulle op verskillende plekke in die swembad, baie ver van mekaar, gevind is.

“Ek vermoed hier is vuilspel betrokke,” het Bronwin Adonis, ‘n gemeenskapleier, aan Die Waarheid gesê.

Ursula Adams, ouma van Elqèton, weier ook om te glo haar kleinkind sou in die swembad gespring of gaan swem het.

“Ek het daardie kind self grootgemaak, hy was baie bang vir water. Hy wou nie eers in die opblaas-swembad wat ek by die huis het, swem nie. As ek hom gebad het, het hy regop in die bad gestaan, so bang was hy.

“As hulle bymekaar gelê het, was dit dalk verstaanbaar, dat die een die ander een wou help.

“Daardie twee kinders was onafskeidbaar van mekaar. Hulle het langs mekaar in die klas gesit, en hulle verjaar vier dae uit mekaar in Februarie.

“Boonop bly hulle in verskillende strate, maar albei se huisnommers is 15,” het die ouma sag en hartseer vertel.

“Wat nog snaakser was, toe Elqèton uit die swembad gehaal was, het hy ‘n lat in sy handjie gehad. Ek het stories gehoor dat daar groter kinders saam met hulle by die swembad was.

“Maar ons weet regtig nie wat aangaan nie, hier was nog nooit enige speurder by ons nie,” het Ursula voorts vertel.

Rachel Fredericks, ouma van Alzandrie, stem saam met haar. “Ons weet regtig nie wat aangaan nie, alles is net doodstil, en geen polisieman was nog naby ons nie, behalwe toe die kinders uit die swembad gehaal was.

 “Ek het nie my kleinkind grootgemaak nie, so ek sal nie kan sê of hy in die swembad sou spring nie.

“Sy ma is nog in die Swartland Hospitaal in Malmesbury, vandat sy die nuus van haar seuntjie gekry het. Sy kry epilepsie-aanvalle, en dit het vererger met haar kind se dood,” het Rachel vertel.

Volgens Adonis het daar omtrent drie jaar gelede ook ‘n swart seuntjie in dieselfde swembad verdrink. Daarna het die Swartland Munisipaliteit voor en aan die een kant ‘n muur gebou.

“Maar ek dink daai muur is net gebou, omdat daar tennisbane aan die een kant van die swembad is. Die kinders kan met gemak oor die hek klim,” het Adonis gesê.

“Waarom kon hulle nie die swembad buite seisoen leegmaak nie?” wil sy weet.

Die Waarheid het die swembad besoek, en gesien dat selfs ‘n vyfjarige met gemak oor die hek kan klim, soos Adonis vertel het. Daar is ook twee ander plekke waar kinders kan ingaan, maar dis nie so maklik om dit daar te doen nie.

Leave a Reply